Die tien gebooie (5)

image_pdfimage_print

Where Scripture speaks, God speaks –  Augustinus.

 

Die tien gebooie (5)

[Ek gaan ‘n hele aantal blogs aan Eksodus spandeer. Ek maak onder andere van “Exalting Jesus in Exodus” (2014) vanTony Merida gebruik.]

 

(v) Die Vyfde Gebod

Eer jou vader en jou moeder, dan sal jy lank bly woon in die land wat die Here jou God vir jou gee.

Letterlik beteken eer om die gewig van iets te erken – mense moet dus die regte gewig (eerbied) vir die posisie van hulle ouers gee. Later lees ons dat mense wat hierdie gebod verontagsaam die doodstraf kan kry (Levitikus 20:9). Eer jou vader en moeder, en alle gesagsfigure, in die algemeen.

 

Wat leer ons hier van God? Ons leer van sy gesag en sy voorsiening. Die laaste gedeelte van die vers dien as motivering om die gebod te onderhou. Dit verwys na God se vrygewigheid. Maar as vaders moet ons ook vir God, die volmaakte vader, naboots.

 

(vi) Die Sesde Gebod

Jy mag nie moord pleeg nie.

Dit sluit in doelbewuste, vooraf beplande moord sowel as nie-doelbewuste moord in. God maak dit baie duidelik dat die lewe heilig is. Ons mag nie moord pleeg nie, want net God gee lewe en mense is na sy beeld gemaak. Jesus brei hierdie gebod uit in sy bergrede: Elkeen wat vir sy broer kwaad is, is al strafbaar voor die regbank (Matteus 5:22).

 

(vii) Die Sewende Gebod

Jy mag nie egbreuk pleeg nie.

Hierdie gebod gaan oor seksuele reinheid veral in die huweliksverhouding. In sy bergrede het Jesus ook hierdie gebod uitgebrei: Elkeen wat na ‘n vrou kyk en haar begeer, het reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg (Matteus 5:28). Die onderliggende beginsel is ‘n rein hart.

 

Hierdie gebod herinner ons aan God se trou en heiligheid – God is heilig en Hy verwag dat sy mense ook heilig moet wees. Hulle moet sy woord oor verhoudings getrou navolg.

 

(vii) Die Agste Gebod

Jy mag nie steel nie.

Jy mag nie iets neem wat nie aan jou behoort nie. Dit kan op baie verskillende maniere gebeur. Adam en Eva het geneem van dit wat nie aan hulle behoort het nie – die vrug van die boom in die tuin van Eden. In plaas van steel, moet ons dankbare harte hê wat hulle verbly in wat God vir ons voorsien het. Ons moet goeie rentmeesters wees van dit wat God aan ons gegee het. Ons moet altyd onthou dat wat ons het nie ons s’n is nie, maar alles behoort aan God wat alles aan ons gegee het. Ons moet ook vryelik aan ander gee.

 

God is ons voorsiener. Omdat Hy alles wat ons nodig het aan ons gee, mag ons nie steel nie. Hulle moet nie hulle hoop op die onsekerheid van rykdom vestig nie, maar in God wat alles ryklik aan ons gee om te geniet (1 Timoteus 6:17).

 

(ix) Die Negende Gebod

Jy mag nie vals getuienis teen ‘n ander gee nie.

Hierdie gaan nie net oor die vertel van leuens nie. Dit het ook te doen met getuienis in ‘n hof. Die getuie moet eerlike getuienis gee. Maar hierdie gebod is nie beperk tot die hofsaal nie – niks val buite die hofsaal van God nie. Hierdie gebod onderstreep God se kenmerk van waarheid.

 

(x) Die Tiende Gebod

Jy mag nie iemand anders se huis begeer nie. Jy mag nie sy vrou begeer nie, ook nie ‘n slaaf of slavin, ‘n bees of ‘n donkie, of enigiets anders wat aan hom behoort nie.

Hierdie gebod beklemtoon die verwronge begeertes en gevoel van ontevredenheid van die mens. In plaas van ‘n dankbare hart begeer hierdie mense dit wat ander het. Begeerte gaan oor die hart. Dit mag of mag nie tot optrede lei nie, maar selfs as jy nie optree nie, is dit verkeerd. Ons begeerte moet na God wees.

 

Hierdie gebod leer ons van God se trou, goedheid en voorsiening. Ons hoef ons nie oor God se voorsiening aan ons of ‘n ander mens se goed te bekommer nie – ons Vader weet wat ons nodig het en bevredig ons diepste verlange.

 

Ons moet die gebooie verstaan en sien hoe God Hom in hulle geopenbaar het – hulle weerspieël sy heilige karakter. Dit is daarom nie net ‘n lys reëls nie.

Hoe lief het ek u wet! Dit bly my elke oomblik by (Psalm 119:97)

 

Volgende keer gaan ons kyk na hoe Jesus die tien gebooie vervul het

 

 

image_pdfimage_print