Die Tien Gebooie: Aanbid die regte God op die regte manier

image_pdfimage_print

The most important daily habit we can possess is to remind ourselves of the gospel – Charles Spurgeon.

 

Die Tien Gebooie: Aanbid die regte God op die regte manier

Ons het vanjaar reeds na die Apostoliese Geloofsbelydenis en die Ons Vader-gebed gekyk. Ons gaan nou na die Tien Gebooie kyk. Ek gaan onder andere gebruik maak van Michael S. Horton se  The Law of Perfect Freedom.

 

Jy mag nie vir jou ‘n beeld of enige afbeelding maak van wat in die hemel daarbo of  op die aarde hieronder of in die water onder die aarde is nie. Jy mag hulle nie vereer of dien nie, want Ek, die Here jou God, eis onverdeelde trou aan My. Ek reken kinders die sondes van hulle vaders toe, selfs tot in die derde en vierde geslag van dié wat My haat, maar Ek betoon my liefde tot aan die duisendste geslag van dié wat My liefhet en my gebooie gehoorsaam (Eksodus 20:4)

 

Die mens aanbid nie alleen vals gode nie, maar probeer voortdurend om nuwe maniere om God te aanbid, te ontdek. Soms is die God wat so aanbid word die God van die Bybel – soms nie. Maar wat is vals aanbidding?

  • Mens-gesentreerde aanbidding. Nou vertel ons vir mense wat ons dink hulle graag wil hoor – hoe God dinge vir ons kan doen en ons behoeftes kan hanteer. Ons openbare aanbidding is dikwels gerig op die verbruiker. As dit ons benadering is, vereis dit voortdurende innovering, want ons is besig om mense te vermaak. Natuurlik is daar aanvaarbare nuwe aanbiddingstyle. Ons kan egter nie blindweg nuwe style aanvaar net soos ons nie blindweg aan tradisie kan vasklou nie. Dit gaan oor die heerlikheid van God en nie oor verbruikersvriendelike kerke nie.
  • Selfgesentreerde aanbidding. Ek glo dat God vir my bestaan – my geluk en my plesier. Ons kom kerk toe om iets te ontvang en nie te gee nie – ons gee nie lof, danksegging en diens nie. Ons wil passief die gebeure om ons ondervind. God is nie meer die middelpunt van ons bestaan nie. God moet net die vissies en broodjies wat ons vir ons bestaan nodig het, voorsien. Jeremia tree as profeet op vir ‘n volk wat dink dat alles reg verloop. Hy kom en sê dat hulle profete vals verwagtings wek – hulle praat oor visioene wat hulle self uitdink, nie oor wat die Here sê nie (23:16). Later lees ons: Elkeen maak sy eie woorde tot uitspraak van die Here. So verdraai julle die woorde van ons God (vers 36). ons nie ook vir ongelowiges positiewe dinge net om hulle aan te trek nie? Vals gode is waardeloos, maar ook vals godsdiens en vals aanbidding van die ware God.
  • Verbeeldingryke aanbidding. Die gebruik van ons verbeelding in aanbidding is Godgegewe. Maar ons gebruik dikwels ons verbeelding om ‘n verbruikersvriendelike God te skep. Ons vergeet dat ons geen beheer oor God het nie – ons wil Hom manipuleer, maar dit is nie moontlik nie.
  • Kuns in aanbidding. Mense glo dat hulle meer geraak word deur wat hulle sien en ondervind as wat hulle lees en hoor. Die bedoeling is altyd goed – ons wil mense help om God meer doeltreffend te aanbid. Maar sien en ondervind, kan nie die aanhoor van sy woord vervang nie.
  • Menings in aanbidding. Kontekstualisering beteken dat ons die onveranderlike evangelie in ‘n veranderende kultuur inbring. Dit is noodsaaklik, maar oorkontekstualisering is gevaarlik. Ons ontwikkel ons eie menings oor wat vir God aanvaarbaar is. Die uiteinde is dat daar geen verskil tussen die kultuur binne en buite die kerk is nie.

 

Om verder as God se woord te kyk vir kommunikasie met God is om jou eie aanbidding te skep. Mag ons oor God dink? Beslis, maar dan soos Hy Homself geopenbaar het in die Skrif. Mag ons nadink oor God se karakter en optrede? Beslis, maar dan soos Hy Homself verduidelik het en soos Hy in die geskiedenis opgetree het. Hierdie gebod verbied nie die gebruik van die sintuie nie net so min as wat dit die gebruik van die rede ontmoedig.

 

Moderne Christene word meer deur beelde as woorde aangetrek, meer gefokus op subjektiewe idees en menings as duidelike oortuigings die gevolg van ernstige Bybelstudie en nadenke. Hierdie gebod verseker ons dat God ons vir Homself gekies het; Hy het aan ons die vermoëns gegee om ‘n intieme, persoonlike verhouding met Hom te hê. Dit is nie genoeg om die regte God te aanbid nie – ons moet die regte God reg aanbid.

 

Volgende keer kyk ons na die misbruik van God se Naam.

 

 

image_pdfimage_print

You may also like...