Die verandering van Paulus se lewe – van terroris tot evangelis (2)

image_pdfimage_print

 

Growth for the sake of growth is the ideology of the cancer cell. -Edward Abbey

 

Die verandering van Paulus se lewe – van terroris tot evangelis (2)

In die vorige blog het ons na Paulus voor sy bekering gekyk.

 

  • Paulus se bekering

[Galasiërs 1:15 – 16a]

Dink aan God se werk in die bekering en uitstuur van Paulus. Hier is vier aspekte om raak te sien:

  • Bekering behels God se intrede

Maar God het my al voor my geboorte vir Hom afgesonder, en Hy het my in sy genade geroep. Maar!  God het deur sy genade in Paulus se lewe ingetree. Maar God. God tree in Paulus se lewe in en Hy doen dit in die lewens van alle gelowiges.

 

  • Bekering betrek God se beplanning

God het my al voor my geboorte vir Hom afgesonder. Ons kry dieselfde by Jeremia, Jesaja en Johannes die Doper. God het ons verkies as sy mense. Dit is deel van sy ewige, soewereine plan. God het Paulus reeds voor sy geboorte vir Hom afgesonder, maar tog het Paulus jare lank teen God in opstand gekom en sy kerk vervolg. In die tyd voor Paulus se bekering was God geduldig met hom. Is ons altyd dankbaar vir God se geduld?

 

  • Bekering sluit in God se roeping in genade

Hy het my in sy genade geroep. Hy roep Paulus doeltreffend en met krag. God roep ook vir ons. God se roeping is aksie en God se woord is ‘n daad – dit is ‘n werklikheid. As God sê: Laat daar lig wees, is daar lig. God het net vir Lasarus gesê om uit die graf te kom en dit gebeur. Sy woorde bring lewe. Alle Christene het op een of ander stadium God se kragtige roeping gehoor. Hoe het jy op sy roeping gereageer?

 

Hierdie roeping is genade. Hoe het jy ‘n Christen geword? Genade. Paulus het nie vir God op die Damaskus pad gesoek nie. Hy was op pad om die Christene in Damaskus te gaan vervolg. Die kerk is vol mense wat deur genade gered is.

 

  • Bekering beteken dat ons die heerlikheid van God sien

Toe Hy in sy goedheid besluit het om sy Seun aan my te openbaar. Hierdie werklikheid van Jesus – gekruisig, opgestaan, verheerlik – is aan Paulus geopenbaar. God open die oë van gelowiges dat hulle kan sien. Paulus het vantevore die Christelike onderrig geken, maar hy het dit nie aanvaar nie. Hy kon die idee van ‘n gekruisigde Messias glad nie aanvaar nie. Toe word Christus aan hom geopenbaar en alles verander. Deur sy Gees maak God die werklikheid van Christus aan ons bekend. Na ons bekering is ons nuwe skepsels; ons sien met nuwe oë. Ons moet ons verheug dat Jesus Christus aan ons geopenbaar is.

 

Volgende keer gaan ons na Paulus na sy bekering kyk.

image_pdfimage_print