Die skeppingsverhaal

image_pdfimage_print

 

The irony of the gospel is that the only way to be worthy of it is to admit you’re completely unworthy of it – Tim Keller

 

Die skeppingsverhaal

Temper Longman III het pas ‘n nuwe kommentaar oor Genesis geskryf. Genesis 1 vertel vir ons van die skepping en die vorming van die wêreld. Dit is nie ‘n wetenskaplike beskrywing van die skepping nie. Dit is in die kultuuromgewing van die antieke Nabye-Ooste geskryf. Dit hanteer nie en is nie veronderstel om moderne wetenskaplike vrae te beantwoord nie.

 

Wat ons wel sien, is dat God alleen die Skepper is. Die son, maan en sterre is skeppings en nie gode nie. Die vraag is of hierdie verhaal iets te sê het vir ons vandag. Longman noem die volgende:

  1. God is die Skepper; ons is skepsels. Daar is niks wat gelyk aan God is nie. Die kern van afgodery is as ek die onderskeid tussen Skepper en skepsel vergeet. Die son, maan en sterre is nie gode nie; menslike regeerders is nie gode nie; mensgemaakte beelde is nie gode nie.
  2. God is soewerein, selfonderhoudend en oppermagtig. God is betrokke en bly betrokke.
  3. Geslag en seksualiteit is deel van die skepping. Beide mans en vroue is na die beeld van God gemaak. Hulle word beveel om die aarde te vul en oor die aarde te heers. Hulle weerkaats God se heerlikheid.
  4. Die skepping is goed.
  5. God verklaar die sewende dag heilig. In Genesis word die mense nie beveel om die sabbat te onderhou nie. Longman glo dat die opdrag om die sabbat te onderhou vir Israel was en dat dit nie op die kerk van toepassing is nie. Christus vervul die sabbat. Daar is nie meer ‘n enkele “heilige” dag nie, maar alle dae is heilig en behoort aan God.
  6. Christus is die beeld van God. Hy is volkome mens en volkome God. Mense word opgeroep om in Christus nuwe skepsels te word: Lewe volkome volgens die wil van God en wees heilig (Efesiërs 4:24).
  7. Alle mense is na die beeld van God gemaak – diegene wat ons liefhet, haat, ontstel en vir ons blydskap bring. Daarom moet ons almal met respek en deernis hanteer. Dit sluit in alle rasse, beide geslagte, verskillende seksuele oriëntasies, beroepe, ryk, arm … almal. Hulle weerspieël God se heerlikheid en verteenwoordig sy teenwoordigheid op aarde.

 

Die beeld van God word aan alle mense gegee – nie selektief net aan sekere mense nie. Dit word ook nie van sommige mense weerhou nie. Dit vorm die Christelike etiese raamwerk.

 

Dit is duidelik dat die skeppingsverhaal steeds baie vir ons sê.

 

 

image_pdfimage_print