Die verskil tussen die paradys en die hemel – Hermie van Zyl

image_pdfimage_print

‘n Leser vra:

Kan u asseblief vir my verduidelik wat is die verskil tussen die paradys en die hemel. As ’n gelowige nou sou sterwe, gaan jy eers paradys toe en later, wanneer Jesus weer kom, dan hemel toe?

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Die kort antwoord is dat daar in die Bybel nie regtig ’n verskil tussen die terme “paradys” en “hemel” is om die lewe na die dood voor te stel nie. Eintlik stel die Bybel nie veel belang in die toestand waarin die mens verkeer na die dood nie. Die gegewens hieroor is relatief skaars teenoor waarin die Bybel meer geïnteresseerd is, naamlik die opstanding van die dooies aan die einde van die tyd, wanneer die nuwe hemel en nuwe aarde aanbreek en die gelowiges dan vir ewig saam met die Here sal wees. In Openbaring word dit byvoorbeeld voorgestel as dat die hemelse Jerusalem sal neerdaal op die aarde en God dan vir ewig saam met sy mense sal woon (21:1-22:5). Paulus weer praat van die opstanding as dat die aardse, verganklike liggaam met ’n onverganklike liggaam, en die sterflike met ’n onsterflike liggaam beklee sal word (1 Korintiërs 15:53-54).

Die paar keer waar die Bybel wel oor die lewe na die dood praat, word dit op verskillende maniere voorgestel. Daar word gesê dat die gelowige saam met die Here in die paradys sal wees (Lukas 23:43), dat hy/sy “teen die bors van Abraham rus” (dit is: saam met Abraham aan tafel sal wees, Lukas 16:22), dat ons in Christus ontslaap om by Hom te wees (1 Tessalonisense 4:13-14; vgl ook Markus 5:39; Johannes 11:11-13), dat ons dan alles sal sien soos dit werklik is (1 Korintiërs 13:12; vgl Matteus 5:8), dat wanneer ons aardse tentwoning afgebreek word ons dan ’n vaste gebou in die hemel het (2 Korintiërs 5:1), dat ons opgeneem word in die huis van die Vader waar daar baie woonplek is (Johannes 14:2-4), dat ons behoue in die Here se hemelse koninkryk sal wees (2 Timoteus 4:18). Die laaste drie tekste het almal daarmee te doen dat ons opgeneem word in die hemel na ons dood. Daar is ander uitdrukkings wat ook verband hou met die gedagte dat ons “hemel toe gaan” na ons dood, naamlik dat ons loon of skatte in die hemel sal ontvang (Matteus 5:12; 6:20; Lukas 6:23; 1 Petrus 1:4). Al bogenoemde gedagtes kan egter saamgevat word met wat Paulus in Filippense 1:23 sê, naamlik dat ons na ons dood “met Christus” is (vgl ook 2 Korintiërs 5:6). Dit is vir Paulus die toppunt van wat dit beteken om “in die hemel” te wees na sy dood – nie soseer om geluksalig te lewe, vry van pyn en lyding, omring deur jou geliefdes nie, maar om “met Christus” te wees, dit wil sê, die volle lewensgemeenskap met Christus te ervaar. Dít is vir Paulus die hemel. Dit herinner aan wat die kerkhervormer, Martin Luther, gesê het, toe vir hom gevra is wat die hemel vir hom inhou. Hy het gesê: Vir my is die hemel om met Christus te wees; trouens, ek is eerder in die hel met Christus as in die hemel sonder Hom.

Dus, om die vraag van ons vraagsteller te beantwoord: “paradys” en “hemel” is dieselfde, hulle verteenwoordig nie verskillende stadia of fasette van die lewe na die dood nie, maar beide druk dieselfde gedagte uit, naamlik dat ons na ons dood saam met Christus in sy heerlikheid verkeer. En dáár is ons totdat die nuwe hemel en aarde aanbreek, of, anders gestel, totdat die opstanding uit die dood plaasvind en ons verheerlikte liggame ontvang, soos Paulus dit in 1 Korintiërs 15:35-57 beskryf (vgl ook 1 Tessalonisense 4:13-18).

’n Laaste gedagte: Hoewel “hemel” en “paradys” dieselfde beteken as aanduiding van die gelowige se bestemming ná die dood, kom hulle uit verskillende agtergronde in die Bybel. Ons kan lank hieroor uitwei, maar kortliks kom dit op die volgende neer.

Eerstens, “hemel”: Dit kan in die Bybel na drie dinge verwys – a. die lug bo die grond; b. die koepel bo die aarde wat die waters bo die koepel skei van die water op die aarde, en waarin daar “vensters” is waardeur dié water (= reën) op die aarde val; en c. die onsigbare woonplek van God, agter die koepel van b. Dit is veral laasgenoemde gedagte wat in die Bybel, meer spesifiek die Nuwe Testament, ontwikkel het in die konsep van die koninkryk van God/die hemele. Dit is die plek waar God in die besonder woon en vanwaar Hy die wêreld regeer (vgl Matteus 6:9-10). Dit is ook die “plek” waar die gelowige opgeneem word ná sy/haar dood, om daar saam met God/Christus te woon in Goddelike heerlikheid. Dit is egter te verstane dat “hemel”, so verstaan, vir die hedendaagse gelowige allerlei probleme oplewer. Vir die antieke gelowige, met sy verstaan van die kosmos as ’n drieverdieping-struktuur (hemel, plat aarde, en onderaardse diepte) was dit nie ’n probleem nie, maar vir ons vandag, waar is “hemel” – bo, onder die ronde aarde, aan die buitenste rand van die uitspansel? Miskien moet ons vandag eerder dink aan die hemel – as die “plek” vanwaar God alles regeer en waarheen ons gaan ná ons dood – as ’n ander dimensie van bestaan, nie verwyder van die aarde nie, maar hier by ons, net aan die “ander kant” van wat ons met ons sintuie kan waarneem.

Tweedens, “paradys”: Die woord is ontleen aan oud-Persies waar dit ’n ommuurde tuin voorstel. In die Ou Testament verwys dit na die tuin van Eden, en meer spesifiek dit wat die mens verloor het vanweë sy sonde. Gevolglik het daar reeds in die Ou Testament spekulasies ontstaan oor die herwinning van die paradys (vgl Jesaja 51:3; Esegiël 36:35). Veral in die Joodse buite-Bybelse literatuur het hierdie spekulasies wilde verbeeldingsvlugte aangeneem. Dit word dan ook spesifiek in hierdie literatuur as die woonplek van gelowiges na hulle dood aangedui, ’n gedagte wat ook in die Nuwe Testament voorkom (bv Lukas 23:43). Die tipies Joodse spekulasies oor die paradys is egter nie in die Nuwe Testament oorgeneem nie, waarskynlik omdat, soos reeds genoem, die gemeenskap met Christus hier as die belangrikste kenmerk gesien word van die lewe na die dood. Dit is ook die rede waarom die woord “paradys” net drie keer in die Nuwe Testament voorkom (Lukas 23:43; 2 Korintiërs 12:3-4; en Openbaring 2:7). Paradys-motiewe kom egter meer dikwels voor, veral as aanduiding van die paradys wat in die eindtyd herwin sal word. Vrede, oorvloed en volkome harmonie sal dan heers, soos aan die begin. So sê die Openbaringboek dat daar in die nuwe Jerusalem ’n rivier met die water van die lewe sal wees wat uit die troon van God en die Lam stroom (22:1); die boom van die lewe sal ook daar voorkom, wat twaalf keer per jaar sy vrugte oplewer (22:2,14,19); die slang, wat in die paradys die groot verleier was, sal vernietig word (20:2,10); en daar sal geen lyding en dood meer sal wees nie (21:4).

Om saam te vat: Hoewel die terme “hemel” en “paradys” in die Bybel uit verskillende agtergronde ontstaan het, is hulle vir alle praktiese doeleindes sinonieme as aanduiding van die “plek” waarheen gelowiges gaan ná hulle dood.

Skrywer: Prof Hermie van Zyl

image_pdfimage_print

You may also like...