DIE VLEUELS VAN GEBED (9)

image_pdfimage_print

DIE VLEUELS VAN GEBED (9) – Jan van der Watt

Dankie Here!

‘Dankie sê’ is om jou skuld te betaal.

In die tyd van die Bybel was ‘dankie sê’ iets anders as vandag. Vandag is dankie ‘n woord wat baie gebruik word. Dink maar hoe ons ons kinders met moeite leer om vir alles ‘dankie’ te sê. Dit is juis die probleem. Ons woord ‘dankie’ het sy krag verloor; dit het ‘leeg’ geword. Daarom sê mense baie keer: ‘Ek weet nie hoe om vir jou dankie te sê nie’, of ‘Ek het nie woorde om jou te bedank nie’. Om net ‘dankie’ te sê klink so hol of leeg.

In die Bybelse tyd was dit anders. Dankbaarheid was nie eintlik iets waaroor jy gepraat het nie, maar wat jy veral gedoen het! Die ou samelewing het interessant gewerk. As iemand iets vir jou gedoen het, het hy of sy eintlik verwag dat jy iets soortgelyks sal terugdoen. Dán sou jy ‘dankbaarheid’ bewys. Jy ‘skuld’ hom of haar dus dit wat aan jou gedoen is. Dit mag vir ons snaaks klink dat dankbaarheid so saam met ‘skuld’ loop, maar so was dit nou maar eenmaal. Dankbaarheid beteken inderdaad om in jou optrede te erken dat iemand iets vir jou gedoen het, maar dit is ook ‘n erkenning van jou verpligting om presies dit vir die persoon terug te doen. Julle belange en sake loop dus inmekaar. Julle is voortaan by mekaar se sake betrokke.

 

Die mense in die ou tyd het dus eintlik nooit vir mekaar ‘dankie’ gesê nie. Hulle het ‘dankie’ gedoen! Dit is byna soos in ‘n rugbywedstryd. Jy sê nie gedurig ‘dankie’ as iemand die bal vir jou gooi nie. Jou maat weet mos dat as jy die kans kry, jy die bal weer vir hom sal gooi. Jy moet iets ‘doen’. Dit sien ons dan ook duidelik in die Bybel. Met enkele uitsonderings na, lees ons nie in die Nuwe Testament dat mense vir mekaar ‘dankie sê’ nie.

Daar is egter ‘n groot uitsondering! Teenoor jou meerdere, die een wat vir jou sorg, moes jy nie alleen met jou optrede nie, maar ook met jou WOORDE ‘dankie’ sê. Dit hang nou saam met die eer en aansien wat jy so vir die belangrike persoon gee. Deur ook vir hom woordeliks te bedank beteken dat almal kan hoor wat hy gedoen het. Dit verhoog sy eer en aansien.

Daarom is die Bybel vol verwysings na ‘dank’ wat aan God gebring moet word (bv. Rom 1:8; Kol. 1:12, 3:17, 4:2; 1 Thes. 5:18). Hy is immers die Een wat vir ons alles gee en vir ons sorg. Sy aansien moet deur ons dankbaarheid verhoog word. ‘Lof’ en ‘dank’ kom dus in die Bybel baie naby aan mekaar. Dink maar aan die bekende verhaal van die tien melaatses wat genees is (Luk 17:11-19). Net die een het teruggekom om Jesus te kom bedank (Luk 17:16). Luk 17:15 en 18 vertel egter dat sy dank met die prys en eer van God versmelt het. Dank vind uitdrukking in lof.


Dankie doen!

Dit bring ons dan by gebed. Gebed is die plek waar ons soos die melaatse man in dankbaarheid voor God moet neerval. Maar ons moet besef wat dit beteken. Dit beteken ‘n gevoel van dankbaarheid teenoor God nie, maar ook ‘n erkenning van ons verpligtinge en verantwoordelikhede teenoor God. Ons kan nie net ‘dankie’ nie, ons moet ook ‘dankie’ doen! En hierdie doen impliseer dat ons dit wat God vir ons doen en gee weer aan Hom sal teruggee… En dit vra baie. Bybelse dankbaarheid is inderdaad nie goedkoop nie!

 



Dink net ‘n bietjie…

* Wie het vir jou die lewe gegee?

Wat behoort dus aan Hom en moet jy eintlik aan Hom teruggee?

# Natuurlik jou lewe! Jou lewe behoort aan Hom en daarom moet jy jou lewe vir Hom leef.

* Wie het vir jou alles gegee wat jy besit?

Wat behoort dus aan God teruggegee te word?

# Natuurlik dit wat jy besit! God het jou as rentmeester aangestel oor jou eiendom. Hy gun dit vir jou, maar om tot sy eer te gebruik.

* Wie het aan jou jou lewenslus en gesondheid gegee?

Wat is dus eintlik God s’n om te gebruik?

# Natuurlik jou lewenslus en gesondheid. God wil hê dat jy die lewe geniet, maar so dat Hy daarop trots kan wees.


 

Op die wyse word dank ‘n lewenstyl. Omdat God by elke faset van ons lewens betrokke is, moet ons altyd dankbaar wees (1 Thes 5:18) vir alles (Ef 5:20). Die wyse waarop jy praat, mense hanteer, optree, elke ding wat jy doen moet van dankbaarheid spreek… dankbaarheid teenoor God wat dit vir jou moontlik gemaak het.

En op jou knieë in gebed gee jy aan God dankbare erkenning daarvoor.

Dankbaarheid in die gelowige se lewe word dus in die woorde van lof aan God geskryf, en met die dade van erkentlikheid onderstreep.


Sê ‘ja’ vir God vir alles wat jy het omdat Hy lankal vir jou ‘ja’ gesê het.

Dankbaarheid volgens die Bybel is dus een groot stuk toewyding aan God. Dit is om vir God te sê jy is Syne! Jy is Syne met alles wat jy het, omdat alles wat jy het buitendien syne is! Hy het dit immers vir jou gegee. In dankbaarheid wil jy dit nou VIR HOM gebruik.

Prakties op jou knieë beteken dit dat jy oor elke faset van jou lewe nadink; dat jy jou lewe uit verskillende hoeke bekyk. En dan, so met jou lewe ‘voor jou’, weeg jy elke faset op aan die eis: ‘Is hierdie faset van my lewe ‘n ondubbelsinnge “ja” aan God?’ As die antwoord miskien nie so positief is nie, verwag God dat jy dit ‘n ondubbelsinnige ‘ja’ sal maak.

Dit is waar toewyding in gebed inkom. Waar jy op jou knieë in die troonsaal van God staan, kan jy maar net prewel: ‘Here, ek is U s’n’. Uit hierdie oomblikke van toewyding aan God moet die begeerte groei om elke swart kol in jou lewe uit te wis, elke verkeerde begeerte te vermorsel.

Hoe kan dit anders? As jy werklik voor die troon van die lewende God staan, kan jy nie anders as om neer te val en Hom te loof en te dank nie. En dank beteken om jou geheel aan Hom toe te wy. Verder deur jou gebed sal jy sekerlik weer oorweldig word deur die begeerte om God vir ander dinge te dank, byvoorbeeld as jy van Hom dinge gevra het en jy besef Hy het dit aan jou gegee. Maar toewyding pas hier aan die begin van jou gebed omdat dit nie van lof en dankbaarheid geskei kan word nie. Daarbenewens berei dit die bidder ook voor vir ‘n volgende belangrike faset van gebed, naamlik sondebelydenis.

 

Skrywer:  Prof Jan van der Watt

image_pdfimage_print

You may also like...