DIE WIL VAN GOD VIR DIE WÊRELD EN VIR JOU Hoofstuk 3 (7) – Dionne Craffort

image_pdfimage_print

Die mens is bestem vir ‘n ewige lewe en ‘n uiteindelike opstanding uit die dood. Hoeveel dit ookal indruis teen ons rede en ons ervaring van die dood as einde van die mens, bly die verwagting van die ewige lewe die enigste faktor wat werklik hoop en sin gee aan die menslike bestaan. Dit maak nie saak hoeveel mense dit ontken of bevraagteken nie, die Bybel stel dit duidelik dat die wil van God vir gelowiges ‘n heerlike eindbestemming inhou.

   Ons is maar reisigers op ‘n woestyntog oppad na ‘n beloofde land. Wie die eindbestemming uit die oog verloor, is niks anders nie as ‘n verdwaalde mens wat hopeloos swerf in die woestyn sonder enige hoop op redding.

   Die hart van die Evangelie is dat God die ewige lewe skenk aan elkeen wat glo in Jesus Christus as die Seun van God. Hier beteken die ewige lewe ‘n lewe van vreugde in die teenwoordigheid van Christus. Dit is die teenoorgestelde van die ewige dood wat ‘n bestaan is ver verwyder van God af. “Die loon wat die sonde gee, is die dood; die genadegawe wat God gee, is die ewige lewe in Christus Jesus ons Here”.[Rom6:23]

   Ons lewe welliswaar in ‘n verganklike wêreld waarin alles uiteindelik tot niet gaan. Wie egter in die geloof deel het aan Christus se opstanding, is nie bestem tot verganklikheid nie, maar tot die ewige lewe. “En die wêreld met sy verleidelike dinge gaan verby, maar wie die wil van God doen, bly ewig lewe”.{1Joh2:17]

   Die verganklikheid wat kenmerk van hierdie bedeling is, is opgehef toe die ware Lewe in die wêreld ingekom het. Christus is self die Ewige Lewe en daarom kan Hy ook die lewe skenk aan diegene wat aan Hom behoort. “Die Lewe het gekom……. en ons verkondig aan julle die Ewige Lewe wat by die Vader was en aan ons ge-openbaar is”.[1Joh1:2] Die verlossing in Christus geld nie net hierdie lewe nie, maar sluit die gawe van die ewige lewe in. ”En die getuienis behels dit: God het ons die ewige lewe gegee, en die lewe is deur Sy Seun”.[1Joh5:11]

   Die apostel Paulus vat die proses van God se wil met gelowiges mooi saam in Rom6:22 ”Maar nou- julle is vrygemaak van die sonde en in diens van God gestel en die vrug daarvan is dat julle geheilig word, en die uiteinde is die ewige lewe”. Die wil van God sluit nie net vrymaking van sonde, diensbaarheid aan God en heiliging in nie, maar loop uiteindelik uit op die ewige lewe. Die ewige lewe is die vrug wat ingesamel word deur die werking van die Heilige Gees na ‘n lewe van diensbaarheid en gehoorsaamheid.

   Wie nie uitsien na die ewige lewe as voleinding van God se wil nie, het nog nie die wil van God ten volle verstaan nie.

Skrywer: Prof Dionne Craffort

image_pdfimage_print

You may also like...