Drie dinge wat elke Christen moet weet

image_pdfimage_print

 

“While other worldviews lead us to sit in the midst of life’s joys, foreseeing the coming sorrows, Christianity empowers its people to sit in the midst of this world’s sorrows, tasting the coming joy.”  – Tim Keller

Drie dinge wat elke Christen moet weet

Miskien moet ons eers besin oor wat dit beteken om te weet. Ons is dikwels tevrede om van dinge te weet. Ons wil die feite en meer inligting hê en glo dat ons dan beter sal verstaan. Dit is nie noodwendig waar nie. Om te ken of te weet beteken ons moet verder as kennis na wysheid en verstaan gaan. 

Baie van ons weet van Jesus, maar dit is nie dieselfde as om Jesus te ken nie. Dit is moontlik om baie van Jesus te weet, maar om nooit die vreugde te ondervind om Hom waarlik te ken nie. As ons Jesus ken, verander alles.  As ons Jesus intiem ken, kry ons die antwoorde op daardie belangrike lewensvrae: Wie is ek? Hoekom is ek hier? Waarheen is ek op pad?

 

  • My identiteit

Ons hoor dikwels in die kerk dat ons sondaars is. Daar in ‘n ou lied wat al meer as ‘n eeu lank deur die kerk gesing word: Only a Sinner! Die probleem hiermee is dat ons naderhand oortuig word dat al wat ons is, is sondaars. Die Bybel begin op ‘n ander plek. Ons lees ons is God se verteenwoordiger, sy beeld, op aarde (Genesis 1:26). God het gesien die mens het verkeerd gedoen en as gevolg van sy groot liefde vir ons, kon Hy ons nie alleen los nie. In Jesus word Hy een met ons. Ons identiteit? Ons is eerstens beelddraers en ons is God se geliefde kinders – nie sondaars nie.

  • Ons doel

Nadat God die eerste mense gemaak het, plaas Hy hulle in die tuin sodat hulle kan werk. Die Hebreeuse woord wat hier met werk vertaal word, is dieselfde woord wat vir die priester se werk in die tempel – aanbidding – gebruik word.  Ons is gemaak om die vreugde van werk en aanbidding langs God te ondervind. God nooi ons uit om met Hom deel te neem aan sy werk hier op aarde.

As ons werk en aanbid weerspieël ons God na die wêreld. Dit beteken dat alles wat ons doen belangrik is. Die mense vir wie ons kos gee, die siekes vir wie ons omgee, die omgewing wat ons skoon maak, die eggenote wat ek lief het … is alles belangrik. Dit is nie belangrik net vir nou nie, maar vir die ewigheid Die werk wat ons elke dag doen, is vir God belangrik.

  • Ons bestemming

In Openbaring het Johannes ‘n visioen van ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde. In die middel daarvan is ‘n tuin. Dit is ‘n beeld van hoe dinge was en hoe dit behoort te wees. Die profete het ook van die nuwe hemel en aarde gepraat en gesê dat elke mens dan onder sy eie wingerdstok en vyeboom sal sit, dat volke wapens in tuininstrumente sal smee en dat lande nie meer vir oorlog sal voorberei nie. Hulle praat van ‘n wêreld sonder honger, oorlog, geweld, hartseer en dood. Dit is waarheen ons op pad is. Die goeie nuus is dat ons nie hoef te wag nie. Jesus sê dat  die koninkryk van God naby gekom het. Ons moet dus in die lig van hierdie toekomstige werklikheid leef – reeds hier en nou. As ons weet waarheen ons op pad is, sal ons met ons oë en denke daarop gerig, lewe.

Ons kan lewe as vredemakers, ons kan veg teen ongeregtighede soos armoede en hongersnood, ons kan werk om te verseker dat mense skoon water het om te drink, ons kan opstaan teen geweld. Ons moet vandag vir mense ‘n kykie gee op hoe die nuwe hemel en die nuwe wêreld eendag sal lyk.

Om te weet wie ek is, hoekom ek hier is en waarheen ek op pad is, is nie iets wat ek sommer oornag kan leer nie – dit is ‘n lewenslange leerproses. Ek moet elke dag leer om meer te vertrou, meer lief te hê, eerliker met God en met myself te wees. As ek dit weet, weet ek alles wat ek nodig het om te weet. Dit dien dan as basis vir al die ander dinge wat ek ooit sal wil weet.

image_pdfimage_print