Ek cope nie meer nie: Gee jou lewe rigting in die régte rigting – Jan van der Watt

image_pdfimage_print

In die vorige hoofstuk het ons gesien dat wat jy dink jou eintlik maak wie jy is. Deur positiewe selfgesprek kan ’n mens die lewe vir jouself baie makliker en aangenamer maak. As jy reg dink, doen jy sommer ook reg en as jy reg doen, voel jy ook sommer reg. Wat egter nodig is, is om gemotiveerd te wees om ’n verskil in jou lewe te maak.

Die Italianers het ’n mooi spreuk: “Elkeen moet sy eie sak na die meul toe dra” en dit geld elkeen wat die kwaliteit van sy of haar lewe wil verhoog. Of soos Harry Fosdick gesê het: “Niemand hoef te bly soos hy is nie.” Dis jou keuse.

 Is jy jouself?

Moenie vir “hulle” leef nie

Om jouself persoonlik te ontwikkel en jouself te verbeter maak jou baie meer paraat om jou omgewing asook jou gevoelens van cope of nie cope nie te beheer. Om jouself te ontwikkel moet jy weet wie jy is, maar ook wie jy mag wees. Ons vergeet dik­­wels dat elkeen van ons die reg het om op aarde te wees, meer nog, om net jý te wees. Jy hoef nie te wys dat jy beter is as ander om die reg te verdien om maar net jy te wees nie. Jou waarde as mens lê ook nie in hoe goed jy kan presteer of hoeveel geld jy in die kortste tyd bymekaar kan maak nie. Jou waarde lê daarin dat jy uniek is.

Jy hoef ook nie vir die mense te leef nie. Jy is nie net iets werd as jy ander se goedkeuring en handeklap hoor nie. Ge­lukkig is dit iets wat mense, en veral ons Afrikaanssprekendes, deesdae baie beter besef. Ons is nie meer so onder sosiale druk om net vir “ander mense” te leef nie. Ons kan onsself ook wees; meer nog, ons móét onsself wees. Daardie “húlle sê mos”-monster wat so baie mense se lewe beheer en bepaal het, is besig om ’n stadige dood te sterf. Baie keer is daar mos ge­sê: “Húlle sê ’n mens moet dit of dat doen.” Niemand weet pre­­sies wie die “hulle” is nie en niemand vra ook of die “hulle” reg is of nie. As “hulle” so gesê het, dan moet dit mos reg wees en dan moet ons luister. Wie is jy nou om teen hierdie (onbekende) “hulle” te stry? Hoe gouer ’n mens hierdie “hulle” begrawe, hoe beter. Vervang die “hulle” met “ek”. So kan jy jou­self wees, want jy mag.

Ken jou regte

Hier is ’n voorbeeld van ’n beskrywing (handves) van (mense-)regte wat elkeen van ons het. “Regte” beteken dat jy “reg is” as jy dit doen en dit dus mág doen. Lees dit mooi deur en kyk of jy iemand is wat doen wat jy mag doen.

  • Ek het die reg om myself te wees.
  • Ek het die reg om uiting te gee aan my gevoelens.
  • Ek het die reg om te vra vir dinge wat ek graag wil hê.
  • Ek het die reg om opinies oor dinge te hê.
  • Ek het die reg om nee te sê.
  • Ek het die reg om soms bang te wees en te sê ek is bang.
  • Ek het die reg om soms kwaad te word.
  • Ek het die reg om te wys dat ek bly of opgewonde is.
  • Ek het die reg om te groei en te verander.
  • Ek het die reg om my eie voorkeure te bepaal.
  • Ek het die reg om van besluit te verander.
  • Ek het die reg om foute te maak. Ek is nie perfek nie.
  • Ek het die reg om te sê ek weet nie.
  • Ek het die reg om my eie waardes en standaarde uit te lewe.
  • Ek het die reg om nie altyd my handelinge hoef te ver­duidelik nie.
  • Ek het die reg om nie verantwoordelik te wees vir ander se gedrag, aksies, gevoelens en probleme nie.
  • Ek het die reg om met respek en met waardigheid behandel te word.
  • Ek het die reg op my eie persoonlike ruimte en tyd.
  • Ek het die reg om eerlikheid te verwag van ander.
  • Ek het die reg om vriende te maak.
  • Ek het die reg om gelukkig te wees.

Kom ons kyk kortliks wat hier staan. Hier staan dat ander mense nie gedagtelesers is nie. Hulle weet nie wat jy dink en voel nie, tensy jy dit vir hulle sê. Dan moet jy eerlik daaroor wees en nie vir hulle sê wat jy dink hulle wil hoor of wat jou na ’n oulike vrou of ou sal laat lyk nie.

Jy het die reg om te vra wat jy wil hê. Ander het ook die reg om nee vir jou te sê, maar as jy nie gevra het nie, sal jy nie weet nie. Omdat ons dik­wels in ons selfgesprek eintlik self al vooraf besluit wat die an­der persoon gaan sê, vra ons baie keer nie eers nie. So ver­beur ons ’n basiese reg.

Jy mag maar ’n fout maak

As situasies verander, mag jy ook van opinie verander. Dit maak nie van jou ’n slegte mens nie. Natuurlik moet ’n mens beloftes of vaste ondernemings nakom, maar dit is nie wat hier ter sprake is nie. Wat hier ter sprake is, is die reg om nie altyd oor iets te dink soos wat jy aanvanklik daaroor gedink het nie. Jy mag van besluit of opinie verander. Jy mag selfs erken dat jy ’n fout gemaak het. Almal maak maar foute; selfs die mees perfektes onder ons koop ook maar potlode met ’n uitveër aan.

Om jou te laat intimideer deur die vrees om ’n fout te maak is waarskynlik die grootste fout wat jy kan maak. Maar om uiteindelik jou fout te erken en om verskoning te vra dwing gewoonlik respek by ander af en is soos genesende salf op ’n seer. Dit getuig daarvan dat jy jouself ken en weet waarheen jy op pad is.

In Amerika het ’n groot prediker eenmaal op ’n TV-program totaal beheer oor sy humeur verloor. Duisende van sy volgelinge was hewig geskok en het hulle teleurstelling in briewe aan hom verwoord. Hy het nie ander probeer blameer nie, maar het om verskoning gevra vir sy eie menslike gebrokenheid. Hoeveel helderder skyn die genade en liefde van Jesus nie as die grootstes onder ons ook in gebroke afhanklikheid voor Hom kniel nie. Dan kan mense jou vergewe, want God het jou vergewe.

Jy mag maar gevoelens hê

Jy hoef ook nie weg te kruip vir jou gevoelens nie. Om gevoelens te hê is nie sleg nie en maak ook nie van jou ’n slegte mens nie. Dit is een van die belangrikste gawes wat God aan die mens gegee het. Selfs as jy onseker of bang voel, hoef jy dit nie weg te steek nie. Moenie dat die mense jou laat glo “cowboys don’t cry” nie. As jy hartseer is, wys dit. Laat dit uit jou sisteem kom. Jy het selfs die reg om te wys dat jy ontevrede en kwaad is oor iets. Natuurlik moet ’n mens dan nie in die vernietigingsbui oorskakel nie. Moenie ander mense seermaak of beledig nie. So ver strek jou regte nie.

Jy is nie ’n vloerlap nie

Moet ook nie toelaat dat ander jou soos ’n vloerlap behandel nie. Jy is ’n individu en mens en het die reg om so behandel te word. Dit gebeur dikwels dat mense met skewe waardes dink dat iemand minderwaardig is, dit wil sê minder werd is, omdat die mense volgens hulle nou nie so belangrik of ryk is of so ’n belangrike werk het nie. Dan tree hulle ook so op. Dit spreek na­tuurlik meer (negatief) van daardie persoon as van die arm of minder belangrike persoon. Moet jou nie daaraan steur nie en as jy dit regkry om dit op ’n mooi manier te doen, moet dit dan ook nie toelaat nie.

So kan ons voortgaan om na te dink oor wie ons eintlik is en wie ons mag wees. Dit sal die moeite werd wees as jy oor hierdie lys regte nadink, en dit begin toepas.

Skrywer:  Prof Jan van der Watt

image_pdfimage_print