‘n Kind, Jesus, word gebore en word groot (3)

image_pdfimage_print

‘n Kind, Jesus, word gebore en word groot (3) – Jan van der Watt

deel 3 – die laaste geboorteverhale en Jesus as kind

 

Soos ons reeds gesien het, het net Matteus en Lukas meer uitgebreide verhale oor die geboorte van Jesus. Markus het glad nie enige verhaal nie, terwyl kort verwysings na Jesus se geboorte hier en daar in die res van die Nuwe Testament verspreid lê. Kom ons kyk gou daarna. 

 

i) Johannes oor Jesus se geboorte

 

Johannes sê net: “Die Woord het mens geword en onder ons kom woon.” (1:14). Dit is sy kersverhaal. Hoekom? Johannes weet van Maria, Jesus se moeder (2:3; 19:25), van Josef sy pa (6:42), van sy broers (7:3) en so aan. Maar hy stel nie belang is sy geboorte nie, want eintlik is die waarheid anders: Jesus was van die begin af daar en sy werklike Vader is God self. Johannes fokus dus op Jesus se “goddelike geboortelyn” en gee nie veel om vir die aardse storie van die geboorte nie. Dit beteken nie dat Johannes die aardse geboorte ontken nie, maar hy lê net nie klem daarop nie.

 

Openbaring het ook ‘n kort opmerking oor Jesus se geboorte: “Sy het ’n kind in die wêreld gebring, ’n seun, bestem om al die nasies met ’n ystersepter te regeer” (Open 12:5). In Openbaring 12 gaan dit oor die geskiedenis van die wêreld in die lig van die duiwel se teenwoordigheid. Hy wil Jesus verslind (die duiwel word as draak voorgestel), maar dit keer nie dat Jesus in die wêreld gebore word en uiteindelik die regter en koning van hierdie wêreld word nie. Die duiwel staan ook by die krip van Jesus, maar hy staan as die magtelose daar.  

 

ii) Paulus oor die geboorte van Jesus

 

Behalwe vir die kruis en opstanding van Jesus stel Paulus baie min in die aardse lewe van Jesus belang. Hy het minder as tien verwysings na die aardse lewe van Jesus, buiten sy verwysings na die kruis en opstanding, wat natuurlik volop is. Van sy verwysings na Jesus se geboorte is die volgende – die verse is hier afgedruk, maar as jy tyd het, lees gou die kontekste van die verse ook:

 

  • ØGal 4:4-5 – “Maar toe die tyd wat God daarvoor bepaal het, aangebreek het, het Hy sy Seun gestuur. Hy is uit ’n vrou gebore en van sy geboorte af was Hy aan die wet onderworpe 5om ons, wat aan die wet onderworpe was, los te koop sodat ons as kinders van God aangeneem kon word”.
  • ØRom 1:3 – “As mens is Hy uit die geslag van Dawid gebore.”
  • ØRom 9:5 – “uit hulle is die Christus as mens gebore”.

 

Wat sou jy sê was Paulus se idee van kersfees as jy na hierdie verse kyk?

……………………………………………………………………………………………………………………………………………..

 

Ons kan ten minste die volgende uit Paulus se kersverhale aflei:

 

  • Dit was belangrik om raak te sien dat Jesus uit die Jode gebore is (m.a.w. die volk van God aan wie God al sy beloftes gemaak het) en dat hy in ‘n koninklike lyn staan, naamlik die lyn van Dawid. (Vgl die begin van Matteus se geslagsregister). Jesus staan nie los van die Israeliete, die volk van God nie, maar staan vierkantig binne-in.
  • Soos enige Israeliet was hy aan die wet onderworpe (kyk ook hoe Lukas beklemtoon dat Jesus sy tempelverantwoordelikhede nagekom het).
  • God staan agter alles – Hy bepaal die tyd en Hy stuur sy Seun. (Dit weerklank die boodskap van beide Matteus en Lukas).

 

Hierdie afleidings het niks te doen met ‘n pap babatjie in ‘n bedjie nie, maar is swaar teologiese uitsprake oor die kind wat gebore is. Jesus se latere lewe is reeds in die kersverhaal sigbaar.

 

iii) Jesus se kinderdae

 

Die Nuwe Testament is byna tjoepstil oor Jesus se kinderdae. Al inligting wat ons daaroor het, is uit Luk 2:39-52 (lees dit gerus). Jesus is Nasaret toe en het daar gegroei en sterk geword, begenadig deur God (sien ook Mat 2:23). Dan word die verhaal vertel van die besoek aan die tempel toe Jesus 12 jaar oud was. Daar proklameer hy dat sy Vader God is en dat Hy meer aan God gehoorsaam moet wees as aan sy aardse ouers. Ook as kind was God dus by Jesus.

 

Die rede vir die swye oor Jesus se kinderdae is omdat die werklike openbare bediening van Jesus eers na sy dood begin. Sy kindertyd is dus nie belangrik vir die boodskap oor Hom nie.

 

Omdat die Bybel so stil is oor die kinderdae van Jesus, vind ons nogal materiaal daaroor in buite-Bybelse bronne (die apokriewe boeke). Een van hulle, die Kindheidsevangelie van Tomas[1] vertel nogal baie verhale oor Jesus. Dit is egter deur ‘n persoon(e) geskryf wat meer geestelik gedink het en niks van die liggaam/materie gedink het nie; dit was vir hulle sleg (Gnostici). Daarom doen Jesus snaakse dinge in die verhale, soos om mense dood te maak, ens. Dit is omdat die liggaam nie so belangrik is nie. 

 

samevatting

 

  • Gee in jou eie woorde ‘n kort samevatting van wat jy alles oor die geboorteverhale geleer het:

……………………………………………………………………………………………………………………………..

……………………………………………………………………………………………………………………………..

  • Wat staan vir jou uit as jy aan die geboorteverhale terugdink?

…………………………………………………………………………………………………………………………………

…………………………………………………………………………………………………………………………………

 

 



[1] Hierdie verhale is in die publikasie Die Apokriewe van die Ou en Nuwe Testament (CUM) beskikbaar. 

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt

 

image_pdfimage_print

You may also like...