Jy moet die Here jou God liefhê

image_pdfimage_print

 

If you are going to walk with Jesus Christ, you are going to be opposed … In our days, to be a true Christian is really to become a scandal. George Whitefield

 

Jy moet die Here jou God liefhê

Die manier waarop ons die verhaal van die Ou Testament lees en vertel, speel ‘n belangrike rol in die siening wat baie mense van die Christendom het. Vir mense buite die kerk kan die verhaal binne die raamwerk van ‘n antieke mite, of van ‘n outokratiese God geplaas word. Daar is baie sulke karikature in die sekulêre wêreld. Kom ons kyk na een aspek: My verhouding met God. Wat sê die Ou Testament hiervan?

  • Jy moet God alleen aanbid

Daar is een God; Hy het die heelal gemaak; Hy alleen is die moeite werd om te aanbid. Hy kan nie in woorde beskryf word nie. Mense is nie God nie en moenie probeer om sy plek in te neem nie. Die sogenaamde gode van ander volke is nie gode nie – hulle is deur mense van dooie materiaal gemaak. Die oproep om ontslae te raak van vals gode en afgode kry ons dwarsdeur die Ou Testament. Doen die volk dit nie, ondervind hulle probleme. Dit is die sentrale boodskap in die boek Daniël. In Daniël se wêreld het die aanbidding van die een ware God feitlik verdwyn. Dit gebeur wanneer die koning dink dat hy god is. Dit is duidelik dat om enigeen/enigiets te aanbid wat nie waarlik God is nie rampspoedige gevolge mag hê vir die mens en ook vir die skepping.

 

  • Vertrou op God se goedheid

Die psalms leer vir ons dat klaagliedere saam met vertroue kan gaan. Ons praat hier van ‘n fundamentele vertroue wat, maak nie saak hoe donker dinge om ons lyk nie, ons steeds op God kan vertrou as gevolg van sy onfeilbare liefde. Hierdie vertroue dat God goed is, is die fondament waarop ons geloof gebou is.

 

  • Jy moet die Here jou God liefhê

Geen gedeelde liefde nie. Luister, Israel, die Here is ons God, Hy is die enigste Here. Daarom moet jy die Here jou God liefhê met hart en siel, met al jou krag (Deuteronomium 6:4 – 5). Hierdie opdrag om God lief te hê, is ‘n opdrag van heelhartige toewyding. Dit is alleen moontlik in ‘n gesindheid van vertroue.

 

  • Jy moet God gehoorsaam

Die Ou Testament leer vir ons ‘n gesindheid van gehoorsaamheid, maar gehoorsaamheid is nou verbind aan vertroue en liefde. Die regverdige persoon gehoorsaam God se opdragte, nie uit vrees of ‘n gevoel van plig nie, maar met blydskap. Toe Jesus die wet saamgevat het (Matteus 22:36 – 40), het ons nie iets nuuts nie, maar Jesus som bloot die onderrig van die Ou Testament op. Om God te gehoorsaam beteken om Hom lief te hê en om ander met opregte liefde te hanteer.

 

  • God self maak dit moontlik

Die Ou Testament vertel van ‘n God wat langs sy mense staan – wat dit vir hulle moontlik maak om sy gebooie te volg. Dink maar aan die verhaal van Jakob. Hy misluk op baie maniere en tog kry hy ‘n nuwe naam – Israel, God se uitverkorene. Hierdie is ‘n verhaal van verlossing en van God se genade. God staan langs sy mense en maak reg wat verkeerd is. God vereis nie net heiligheid van sy kinders nie; Hy loop nie net langs sy kinders en bemoedig hulle nie. God hanteer ook die afwesigheid van heiligheid by sy kinders. Dit is die kern van Israel se offerdiens. So reik God na die hele wêreld uit deur die kruisdood en opstanding van sy Seun.

 

  • Nie soos ander godsdienste nie

Die verhouding tussen God en mense verskil van alle ander godsdienste. Die Ou Testament skilder vir ons ‘n verhouding met ‘n oppermagtige, persoonlike God. Ons kry nie so ‘n persoonlike God in ander godsdienste nie. Daar is nog ‘n verskil: ander godsdienste het ‘n optimistiese siening van die mens se vermoë om homself te verander. Die Ou Testament skilder vir ons ‘n God wat mense roep om Hom te volg. In die proses is Hy aktief besig om menslike mislukkings en swakhede te herstel.

 

Ons is so geneig om die Ou Testament af te skeep. Dit is verkeerd, want daar lê die fondament van ons Christelike geloof.

 

 

 

image_pdfimage_print