Ek het my regterarm verloor

image_pdfimage_print

There is no forgiveness of sins without a truly repentant heart to which sin is sincerely painful and which renounces it with all its power.  – Emil Brunner

Ek het my regterarm verloor

Toe Generaal Jackson oorlede is, sê Robert E. Lee: “I have lost my right arm.”  As lidmate die gemeente verlaat, voel ons dikwels net so. Nog erger: as ons met hulle praat daaroor kan ons nie anders as om te sê: “As ons maar vroeër hieroor gepraat het.” Kan ons uit hierdie gesprekke met mense wat die gemeente verlaat nie leer om, soos Paulus dit stel, te weet hoe iemand hom moet gedra in die huisgesin van God, dit is die gemeente van die lewende God nie(1 Timoteus 3:15). Is daar nie sekere dinge wat ons kan doen om die lewe in die kerk te versterk en te verryk nie?

  • Kommunikasie

Lidmate hou by die gesonde woorde van ons Here Jesus Christus en by die leer van ons godsdiens (1 Timoteus 6:3). As ons dit nie doen nie, is die gemeente in die moeilikheid. Kommunikasie in die gemeente sluit in ‘n weiering om te skinder. Kyk net hoe skryf Paulus van sy medewerkers: Tigikus, die medegelowige wat ek baie liefhet … Hy is ‘n getroue dienaar; Epafras … staan in diens van Jesus Christus en bid altyd ernstig vir julle; Lukas, die dokter wat ek baie lief het (Kolossense 4:7 – 14). Wat sou in ons gemeentes gebeur as ons weier om sleg te praat van ander ten spyte van hulle foute?

Maar ons kan ook nie toelaat dat probleme broei nie. Soms as ons na ‘n lang gewik en geweeg die probleem hanteer, is die skade onherstelbaar. As ons dit vroeër hanteer het, kon ons baie probleme vermy het. Tydige en duidelike kommunikasie kan intimiderend wees. ‘n Ouer man moet jy nie skerp teregwys nie, maar vermaan asof hy jou vader is. Vermaan die jonger mans soos jou broers, die ouer vroue soos moeders, en die jonger vroue soos susters, in alle eerbaarheid (1 Timoteus 5:1 – 2). Praat met mekaar, maar in liefde. Ons moet genoeg vir ander se seer omgee om te luister en reg op te tree.

  • Oortuiging

Totdat ‘n persoon Bybelse oortuigings oor verlossing, aanbidding en die kerk ontwikkel het, word hulle deur elke wind van verandering rondgewaai – en die aantrekkingskrag van ander gemeentes. Hierdie oortuigings ontwikkel nie sommer oornag nie. ‘n Wedersydse belydenis van geloof hou lidmate bymekaar. Ons moet almal weet wat ons glo en hoekom ons dit glo.

  • Gemeenskap

As Paulus praat oor hoe ons ons in die huisgesin van God moet gedra, verwys hy nie na ‘n gebou nie, maar na ‘n huisgesin – die nuwe familie wat God deur Jesus Christus tot stand gebring het. Hierdie familie is ‘n lewende organisme wat moet leer om met mekaar saam te leef. Gelowiges moet gasvry wees. Dit beteken hulle moet ‘n liefdevolle en hegte gemeenskap wees wat vreemdelinge gehuisves het, die voete van die gelowiges gewas het, die verdruktes gehelp het en goed gedoen het waar sy kon (1 Timoteus 5:10). Om so ‘n gemeenskap te bou vereis tyd. Ons moet nie toelaat dat negatiewe ervarings uit die verlede die toekoms bepaal nie.

  • Tevredenheid

Ontevredenheid word gekenmerk deur ‘n fokus op die gemeente se tekortkominge en ‘n onwilligheid om saam te werk vir ‘n beter toekoms. Die gevolg van hierdie ongelukkige, onbetrokke en kritiese lidmate kan baie negatief vir die gemeete wees. Natuurlik is die gemeente nie sonder probleme nie. Die programme hanteer nie al jou behoeftes nie; jy mag dalk nie van die musiek hou nie; … Maar Christus is besig om sy kerk te bou en Hy weet wat Hy doen.

Te midde van al sy swaarkry skryf Paulus: Ons Here het my oorlaai met sy genade en met geloof en liefde wat ons deel is in Christus Jesus (1 Timoteus 1:14) Met genade vir vandag en hoop vir môre kan elkeen van ons elke dag leer hoe iemand hom moet gedra in die huisgesin van God, dit is die gemeente van die lewende God (1 Timoteus 3:15).

image_pdfimage_print