EK IS, het my gestuur (1)

image_pdfimage_print

 

The primary purpose of reading the Bible is not to know the Bible but to know God –James Merritt

 

EK IS, het my gestuur (1)

Eksodus 3 en 4

[Ek gaan ‘n hele aantal blogs aan Eksodus spandeer. Ek maak onder andere van “Exalting Jesus in Exodus” (2014) vanTony Merida gebruik.]

Hierdie gedeelte wys vir ons dat God swak, onvolmaakte mense vir sy heerlikheid en vir die beswil van ander mense kan gebruik. Aan Hom wat deur sy krag in ons werk, magtig is om oneindig meer te doen as wat ons bid of dink (Efesiërs 3:20). Ek gaan veral aandag aan Moses se verskonings en God se reaksie daarop gee.

 

Moses maak nie minder as vyf verskonings nie. God reageer op elk van Moses se verskonings en vrae met stellings van sy eie soewereiniteit en mag. As jy voel dat God jou stuur om iets te doen wat bo jou vermoë is, is dit ‘n  teken om weg te kyk van jou mislukkings en swakhede. Kyk na God.

 

  • Gebrek aan “getuigskrifte” (3:11 – 12)

Wie is ek dat ek dit by die farao sou waag en dat ek die Israeliete uit Egipte sou bevry?  Hy voel dat hy nie opgewasse vir so ‘n taak is nie. Vir die laaste 40 jaar het hy in die woestyn rondgeswerf. Hy was ‘n prins, maar nou is hy ‘n eenvoudige skaapwagter. God vra hom om na die magtigste man in die wêreld te gaan. Moses het nie die vermoë of die reputasie nie. Hy was nie eers seker of sy eie mense na hom sou luister nie. God reageer: Ek sal by jou wees. Dit is al wat God se leiers nodig het – nie-onderhandelbaar as ons God wil dien nie. God belowe dan ’n teken: hulle sal God by daardie berg – Horeb – aanbid. God gaan sy mense na die berg terugbring waar hulle Hom kan loof.

 

  • Gebrek aan inhoud (3:12 – 22)

Wat sal Moses sê as hy by die Israeliete kom? As hy sê dat die God van hulle voorvaders vir Hom gestuur het, sal hulle onmiddellik vra: Wat is sy Naam? Wat moet ek dan vir hulle sê? Om te sê dat hy ’n stem in ’n doringbos gehoor het, sou hulle nie oortuig nie. Hy wil immers met God se gesag gaan. Hoe reageer God?

  • Sê vir hulle wat my Naam is

Ek is wat Ek is. Jy moet vir die Israeliete sê: ‘Ek is’ het my na julle toe gestuur. God staan sentraal; Hy het geen begin nie; Hy laat alles gebeur; Hy is God. Uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge (Romeine 11:36). Staan God sentraal in jou lewe/huwelik/bediening? God het niemand nodig nie, maar as geloof teenwoordig is, werk Hy deur enigeen. God het nie vir ons nodig nie, maar ons het vir Hom nodig. Ons sal God nooit volledig verstaan nie. Hy is ewig en onveranderlik. Hy is God.

 

  • God beveel Moses om sy woord aan hulle te vertel (3:16 – 22)

God sê dat Moses die leiers van Israel bymekaar moet roep en vir hulle sê wat God vir Hom gesê het. Moses leer wat dit is om ‘n profeet te wees: om te verklaar wat God gesê het. Die leiers van Israel sal na jou luister. God sê ook vir Moses wat hy vir die farao moet sê: Laat ons asseblief drie dagreise vêr die woestyn intrek om vir ons God, die Here, ’n offer te bring. God se volk was geestelik verslaaf en wil bevry word om Hom te aanbid. God sê ook vir Moses dat die farao hulle nie sal laat gaan nie. Daarom sal God sy hand moet uitsteek en Egipte teister. Na God hierdie wonderdade gedoen het, sal die Egiptenare goeddoen aan die volk van God. God wil nie hê dat sy volk met leë hande moet trek nie. Elke vrou moet van haar buurvrou of in die huis waar sy werk, silwer- en goue goed sowel as klere eis. Verbasend. Die Israeliete moet eenvoudig daarvoor vra. God stry die stryd vir hulle.

 

Wat moet ons as God se sendelinge vir die mense vertel? Ons sê vir hulle wie God is en sê vir hulle wat God gesê het. Dit sluit in wat Hy in die verlede gedoen het, wat Hy besig is om tans te doen en wat Hy nog in die toekoms gaan doen.

 

In die volgende blog gaan ons na nog twee van Moses se verskonings kyk.

 

image_pdfimage_print