Ek kom! (Jes 66:1-5) – Francois Malan

image_pdfimage_print

Na die visie van hoop oor die nuwe skepping van die Here vir hulle wat die Here soek (65:17-25), beskryf die moeilike hoofstuk 66 die twiste in die ontwakende Judaïsme. Hoewel die wonderlike visie van die Here se nuwe toekoms vir Israel deur almal met blydskap verwelkom moes word, het die verskillende reaksies daarop ‘n ernstige verdeelheid in die gemeenskap geopenbaar. Hierdie hoofstuk wat uit kleiner segmente saamgestel is, getuig van die breuke en twissieke aard van die gemeenskap wat hier aangespreek word.

66:1-2a So sê die Here: ‘Die hemel is my troon en die aarde die voetstoel vir my voete’ – die Here gebruik die ganse skepping as sy werks- en rusplek, Hy is orals teenwoordig. Hy is ook die bouer van die hemel en die aarde: ‘want my hand het al hierdie dinge gemaak, en so het al hierdie dinge onstaan,’ sê die Here (‘Die Ek is’ die aktief teenwoordige).’  ‘Waar is daar dan ‘n huis wat julle vir My kan bou? En waar is die plek van My rus?’ – as die hele skepping my handewerk is en my werks- en rusplek is, waar is die mensgemaakte huis waarin julle My wil inperk? (vgl. 1 Kon 8:27). Die Here maak beswaar teen die klem op ‘n plek wat die eksklusiewe reg sou hê op die Here se teenwoordigheid. Juda het al meer ‘n kultiese gemeenskap geword, wat uit enige politieke mag en seggenskap uitgesluit is. Hulle staan onder die Persiese koning en sy regering, waaraan hulle niks kan doen nie. Daarom het die regte manier van erediens oorgebly as ‘n enstige onderwerp van bespreking en menigsverskil. Dit is ‘n waarskuwing aan die kerke dat elke kerk se liturgie en leerstellings en morele eise nie die laaste woord is nie.

66:2b ‘maar Ek sal kyk na ‘n nederige (arme van gees) en berouvolle gees en wat ontsag het (bang, bewend van vrees) vir my woord.’ Teenoor dié wat hoogheilig is in húlle godsdiens, iets wat die Here kwaad maak (65:5), gee Hy liefderyke aandag aan die nederige berouvolles voor Hom en sy woord. Daarmee wys die Here alle godsdienstige aansprake af en alle eensydige aansprake namens en in die naam van die Here. Die woord van die Here is belangrik eerder as die plek van aanbidding of die offers. In die nuwe stad is die tempel en die tempeldiens nie die wesenlike en noodsaaklike nie, maar die skeppende krag en leiding en teenwoordigheid van die Here (vgl. Openb 21:3,22) by die nederige aanbidders (Jak 4:6; 1 Petr 5:5) wat smag na die woord van die Here om daarvolgens te lewe (1 Petr 2:2)  in die stad met sy oop poorte vir almal wat wil kom (Jes 60:11; Mat 11:28-30; Gal 3:26-29).

66:3-4 Ná verse 1-2 se teenstelling tussen die Here se teenwoordigheid en hooghartige godsdiensbeoefening volg hier skerp kritiek op die slegte en verkeerde godsdiensbeoefening. In verse 3-4 kom die woord ‘kies’ (bachar) drie maal voor: Israel het hulle eie pad gekies – nou kies Ek ongeluk vir hulle – dit waarin Ek geen vreugde het nie het hulle gekies  (1983 vertaal: hulle het besluit om hulle eie kop te volg, Ek het besluit dat hulle gestraf moet word, hulle het gekies vir wat My nie aanstaan nie).

‘n Lys wettige offers volgens die Torah word geïdentifiseer met ander wat verbied is: offer van bulle (Lev 1:3-5) – offer van mense (Jes 57:5; Jer 7:32; Lev 24:17-21; Deut 27:24-25;  offer van  ‘n lam (Gen 22:7-8 – breek van ‘n hond se nek (Eks 34:20 donkie); graanoffers (Lev 2) – varkbloed (Lev 11:7-8; Dt 14:8; Jes  66:17); wierook (Eks 30:34-35) – seën van ‘n afgod/’n niks (of: seën met ‘n afgod se naam). Die mense wat die wettige offers bring word voorgestel asof hulle afskuwelike offers bring; en waarskynlik dit ook doen. Verder word geïmpliseer dat die ou offers nie meer ‘n plek het in die nuwe Jerusalem nie (Mark 2:22 om te vas pas nie meer in die nuwe bedeling nie – nuwe wyn moet in nuwe sakke gegooi word; Mark 7:14-19 Jesus verklaar alle kosse rein). Die ou offers word saam met die verbode offers geklassifiseer as ‘n gruwel vir die Here.

Die massiewe kritiek op ‘n verkeerde diens van God aan die einde van Jesaja sluit aan by die begin van die boek in 1:12-17 waar al hulle offers deur die Here verwerp word. In beide gevalle is die godsdienstige handeling moontlik nie op sigself verkeerd nie, al is die taal met opset uiters skerp. In 1:12-17 is die fout dat hulle onderlinge lewenswyse daarteen vloek. Hier is dit omdat hulle nie luister na die Here nie, en nie antwoord op sy roepstem tot bekering nie (vgl 65:12; 1:18-20). Die Here soek ‘n direkte persoonlike verhouding met Hom, en eeue-oue maniere van diens aan God kan nie ‘n persoonlike verhouding met Hom vervang nie. Moontlik is die kras kritiek op hulle verkeerde diens aan God soos die kritiek op die tempel in 66:1-2, wat ‘n dispuut is met die tempel-priester-party, wat sterk leierskap uitgeoefen het in die gemeenskap van die vroeë Judaïsme. Hulle word beskuldig dat hulle vasbeslote gekies het vir dinge wat vir die Here niks beteken nie. Die soewereine God word nooit gedwing deur rituele (kerklike gebruike en instellings) nie.

66:5 Waar verse 1-4 teen die rebelle gerig was, teen dié Jode wat die tempelkultus en offers en politieke mag herstel wil hê soos dit voor die ballingskap en in Dawid se tyd was, word vers 5 nou gerig aan dié wat getrou na die woord luister en daarvoor soveel ontsag het dat die Here hulle lewe rig in die nuwe soort lewe wat Hy van hulle vra, ‘n lewe van reg en geregtigheid (59:14,15) en barmhartigheid  (49:15; 58:7) teenoor alle volke (55:5; 56:7; 62:10) en alle lae van die bevolking (58:10). Die teks stel die ernstige verdeeldheid in Israel duidelik in die lig. Dié wat in ‘n persoonlike verhouding met die Here leef deur te luister na sy woord, word vervolg deur die groot deel van die volk, wat die Here wil tevrede stel met hulle offers op die altaar en hulle byeenkomste en feeste in die tempel, maar die Here se idee vir die nuwe soort lewe in geloof en vertroue op die Here en sy woord verwerp. Hulle haat die getroues en het hulle uit die tempel uitgegooi ter wille van die Here se Naam, die Naam Jahweh (Die Ek is) wat juis sy persoonlike teenwoordigheid aandui (vgl. Joh 9:22). Hulle spot die getroues uitdagend: ‘Laat die Here verheerlik word, sodat ons julle vreugde kan sien’ (1983 verduidelik: Laat die Here sy mag bewys dat ons kan sien waarom julle so bly is). Hulle wil sigbare magsdade van die Here sien, terwyl die getroues hulle verheug oor die Here se teenwoordigheid en volgens sy woord in vrede lewe, as geskenk van die Here (vgl. 65:18). Jesus verwys na hierdie vervolging van sy profete in die Ou Testament en van sy Nuwe Testamentiese dissipels, en ook na hulle vreugde (Mat 5:11-12).

Die yweraars vir die tempel en offerandes sal hulle skaam (1983: hulle sal ontnugter word) as hulle die vreugde van die getroues sien (die Dooie See Manuskript en die Griekse vertaling lees ‘en Hy sal julle vreugde sien’). So het Jesus ellende voorspel vir die Fariseërs, die party wat hulle fanaties gewy het aan die wet van die Here, maar die sorg van die armes,  geregtigheid in die samelewing en liefde vir God verontagsaam het  (Luk 11:41-42).

Skrywer:  Prof Francois Malan

 

image_pdfimage_print

You may also like...