Ek is terneergedruk (3)

image_pdfimage_print

 

Everyone wants to save the world but no one wants to do the dishes. —Michael Horton

 

Ek is terneergedruk (3)

[Terneergedruk = ontmoedig; bedruk maak – HAT. Dit moet onderskei word van depressie wat ‘n mediese toestand is en dikwels behandeling nodig het.]

Terneergedruktheid is ‘n algemene toestand in ons samelewing – ook onder Christene. ‘n Baie goeie gevallestudie is die profeet Elia. Na die gebeure op Karmelberg word Elia baie terneergedruk/ mismoedig, maar God, in sy genade, hernuwe weer sy dienaar. Ons gaan veral na twee aspekte van die verhaal kyk:

  • Elia se geestelike depressie; en
  • God se reaksie daarop.

Ek gaan onder andere van Tony Merida se Exalting Jesus in 1 & 2 Kings gebruik maak. Ons gaan veral na Hoofstuk 19 kyk.

 

Wat was die oorsake vir hierdie verloop van sake. Daar is baie faktore wat tot so ‘n situasie kan lei. Daar is natuurlike en geestelike oorsake wat nie los van mekaar staan nie. Kom ons hanteer hulle in vier kategorieë.

 

  • Elia was gedreineer

Fisies was hy drie jaar aan die hardloop. God voorsien hom van brood. Toe hy by Karmel vir Agab stuur om te gaan eet en drink, gaan hy bid. Toe hardloop hy voor Agab se wa. Toe gaan hy na Berseba. Die afstand van Karmel tot by Berseba is ongeveer 180 km. Dit sou hom ongeveer ses dae geneem het. Daarna trek hy nog ‘n dag verder die woestyn in. Later reis hy al die pad na Horeb Wanneer ons fisies uitgeput is, is ons geestelik kwesbaar.

 

Emosioneel was hy ook gedreineer. Na die oorwinning by Karmel was hy waarskynlik emosioneel leeg. Ons is kwesbaar na ‘n oorwinning. Ons het elke dag manna nodig. Ons kan nie op gister se oorwinnings leef nie.

 

Soms wil God ons deur beproewings nederig maak sodat ons kan leer om op Hom te vertrou. Dink maar aan Paulus met sy doring in die vlees. Dit het hom geleer om op God se voorsiening te vertrou. As ons beproef word, moet ons, soos Paulus, nie terneergedruk word nie, maar eerder op God se genade en mag vertrou.

 

Geestelik was Elia gedreineer. Hy was die voorwerp van intense geestelike teenstand. Bose teenstanders eis sy tol van ons. Ons is in die versoeking om in te gee. Ons vertrou nie meer op God se krag nie.

 

Elia mag gevoel het dat hy niks meer het om te gee nie – hy was leeg. Jy kan nie voortgaan sonder om eers jou weer te verfris nie. Verfrissing is ‘n geestelike dissipline. Ons het werk, rus en ontspanning nodig. Ons moet ons liggame en siele tyd gee om te herstel en weer op te bou. Elia moes herstel – net so moet ons.

 

  • Elia was teleurgesteld

Na Karmel het Elia waarskynlik gedink dat daar ‘n herlewing onder die volk sal plaasvind – hulle sou na God toe terugkeer. Hy het gedink dat selfs Agab berou sou hê en na God terugkeer. Hy was vol hoop, maar toe hoor hy Isebel se dreigement. Dit druk hom plat.

 

  • Elia was geïsoleerd

In Hoofstuk 17 en 18 sien ons dat hy feitlik altyd alleen was. Maar, soos ons, het hy ander gelowiges nodig. Hier laat hy selfs sy slaaf agter en gaan alleen verder. Hy gaan nie om te bid nie, maar om homself te bejammer. Terneergedruktheid is nie net die gevolg van die gebrek aan geselskap nie, maar is ook die oorsaak daarvan. As jy moeg en ontmoedig is, is isolasie nie wat jy nodig het nie. Ons het ander mense nodig om ons te bemoedig. Ons kan nie lank sonder verhoudings leef nie; ons is vir gemeenskap gemaak. God voorsien in hierdie behoefte deur ons familie en die geloofsgemeenskap.

 

Volgende keer kyk ons verder na die oorsake van Elia se terneergedruktheid.

 

image_pdfimage_print