Gam vervloek; kroonlose gedrog in Bybel – Hermie van Zyl

image_pdfimage_print

Fanie vra:

Waar in die Ou of Nuwe Testament kan ek lees van die vloek van Noag oor Gam? 2. Waar lees ek van die kroonlose gedrog in die Skrifte?

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord;

  1. Ons lees van Gam se vervloeking deur Noag in Genesis 9:20-29. Dis egter interessant dat hierdie vloek eintlik oor Gam se seun, Kanaän, uitgespreek word (9:25). Volgens Genesis 10:6 is Kanaän een van Gam se seuns. In 10:6-20 word Gam se nageslag gegee. Maar ons het hier nie in die streng sin van die woord met ’n genealogie (geslagsregister) te doen nie. Daarmee bedoel ek dat die name wat hier genoem word nie soseer ’n aanduiding is van wie die pa van wie is nie. Dit gaan eerder oor die geografiese verspreiding van volke. Die skrywer(s) van Genesis gee hier ’n oorsig oor hoe die volke van hulle tyd oor die destydse wêreld breedweg rondom die Middellandse See geografies verspreid gelê het, en hoe hierdie volke teruggevoer kan word na hulle “aartsvaders”, Sem, Gam en Jafet, die seuns van Noag. So word daar byvoorbeeld in 10:6 van die mees suidelike gebied (Kus, suid van Egipte, so ongeveer die huidige Soedan) opgewerk na Kanaän, die mees noordelike gebied van hierdie groep “seuns” van Gam. Aanvanklik het Kanaän die hele Palestina beslaan, maar nadat Israel die land verower het, was dit aangrensend aan die grondgebied van Israel.

Volgens 9:25 behels die vloek wat op Gam rus dat sy seun, Kanaän, sy broers se slaaf sal wees. Dit dui op die siening ten tyde van die skryf van Genesis dat die Filistynse gebied (= Kanaän) onder heerskappy van Israel gestaan het. In hierdie sin van die woord was Kanaän dus die slaaf van sy broers.

’n Gewilde siening in sommige kringe wat ons egter ten sterkste moet verwerp, is dat hierdie vervloeking van Gam behels dat Afrika, en met name die swart bevolkings van Afrika, die ander rasse se slawe sal wees. Eerstens gaan dit hier oor Kanaän, nie Afrika nie. Ons kan dus hoogstens sê dat Kanaän (hoofsaaklik die destydse Filistynse gebied, aangrensend aan Israel) onderhorig geword het aan Israel (die nageslag van Sem). Dit was in elk geval die situasie soos dit bestaan het in die tyd toe die boek Genesis geskryf is. Tweedens gaan dit hier nie oor verskillende rasse nie. Die volke of nasies wat hier genoem word, was almal van dieselfde “ras” en “kleur”. Daar is geen rasseonderskeid tussen die Kanaäniete (nageslag van Gam) en Israeliete (nageslag van Sem) nie. Die vervloeking van Gam het gevolglik niks daarmee te doen dat die “swart ras” aan die “wit ras” onderhorig sal wees nie.

  1. Oor die “kroonlose gedrog” sal die vraagsteller meer inligting moet gee. Ek weet nie van so ’n verwysing in die Bybel nie. Dalk dink die vraagsteller aan die mitologiese monsters van Job 40 (Behemoot = seekoei; Leviatan = krokodil), of die dier uit die see (= Antichris) met sy tien horings waarop daar tien krone rus (Openb 13:1)? Die probleem is net dat hoewel hulle almal “gedrogte” is, word daar nie gesê dat hulle “kroonloos” is nie. Of dalk verwys die vraagsteller na die bogstorie wat soms die ronde doen dat iemand sonder ’n kroontjie in die hare nie hemel toe kan gaan nie. Onnodig om te sê: Nêrens in die Bybel staan daar so-iets nie. Inteendeel, daar word juis gesê dat alle mense geskape is na die beeld van God (Gen 1:26). En as ons van “krone” wil praat – van mense word gesê dat God ons met aansien en eer gekroon het; as niks minder nie as ’n hemelse wese het Hy ons gemaak (Ps 8:6). Om hemel toe te gaan het niks met jou fisiese voorkoms te doen nie; daar is net een vereiste: Glo in Jesus Christus, volg Hom, dien Hom, en jy sal lewe tot in alle ewigheid (Joh 11:26); dit hang nie af van jou geslag, voorkoms, afkoms of sosiale status nie (Gal 3:28).

Skrywer:  Prof Hermie van Zyl

image_pdfimage_print

You may also like...