Gebed: ‘n Gesprek, ‘n ontmoeting

image_pdfimage_print

 

“If I find in myself desires which nothing in the world can satisfy, the only logical explanation is that I was made for another world.” C. S. Lewis

 

Gebed: ‘n Gesprek, ‘n ontmoeting

God is die inisieerder van alle gebed – ons hoor voor ons vra. God kom altyd eerste na ons. Hoe duideliker ons verstaan wie God is, hoe beter is ons gebede. Gebed as ‘n geestelike gawe is ‘n opregte perssonlike gesprek en antwoord op God se spesifieke openbaring

 

Maar gebed is meer as dit. Baie van ons gesprekke is oppervlakkig – ons ruil inligting met mekaar uit sonder veel selfopenbaring. Sommige gesprekke is dieper – ons ruil inligting uit en openbaar onsself. Die gesprek word nou ‘n persoonlike ontmoeting. Paulus stel dit so: Maar noudat julle Hom leer ken het, of liewer, nodat Hy julle ken (Galasiërs 4:9).

 

Die doel van gebed is nie die uitruil van idees nie. Dit is ‘n dinamiese ondervinding. Dit is die voortsetting van ‘n gesprek wat God deur sy woord en genade begin het. Hierdie gesprek word uiteindelik ‘n ontmoeting.

 

Kom ons kyk na Job as illustrasie. Die basiese vraag in hierdie boek is: Kan ek God liefhê en tevrede wees, maak nie saak wat die omstandighede is nie? Ja, maar net deur gebed. Hoe duideliker Job gesien het wie God is, hoe voller word sy gebede. Sy gebede beweeg van klagte na belydenis na lofprysing. Aan die einde van die boek sien Job kans vir enigiets. Hoe het dit gebeur? Deur na God se woord te luister en in gebed te antwoord. Hoe meer sy kennis van God, hoe vrugbaarder word Job se gebede. Daar volg nou ‘n omvattende verandering in sy lewe.

 

Dit is duidelik dat die krag van ons gebede nie van ons pogings of een of ander tegniek afhang nie, maar van ons kennis van God. Ons is beter af as Job: Maar nou, in hierdie laaste dae, het Hy met ons gepraat deur die Seun (Hebreërs 1:2). In Johannes 1:1 – 14 lees ons ook dat Jesus Christus die Woord van God is. Daar is geen persoonlike kommunikasie met God moontlik behalwe deur Jesus Christus nie.

 

Ons het nou gesien dat gebed ‘n voortsetting van ‘n gesprek wat deur God begin is, is. Mettertyd word hierdie gesprek ‘n ontmoeting met God. Maar hoe praat God met ons?

 

In Johannes 17 praat Jesus met sy Vader in gebed. In Matteus 24:35 sê Jesus: Die hemel en die aarde sal vergaan, maar my woorde nooit. Taal is intrinsiek tot ‘n persoonlike verhouding. Daarom kan ons verwag dat God in woorde met ons kommunikeer. Die Bybelse patroon behels nadenke oor God se woord totdat ons met ons hele wese op God reageer en sê: Met my hele hart sal ek U prys, Here my God, u Naam altyd eer, want u liefde vir my was groot: uit die dieptes van die dood het U my gered (Psalm 86:12 – 13).

 

image_pdfimage_print