Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Godsdiens(11) – JP Louw

image_pdfimage_print

Herodes se kasteel of burg net langs die tempel het horn geleentheid gegee om toesig te hou oor wat op die terrein aan die gang was. ‘n Stel trappe het ook vandaar toegang tot die tempelterrein gebied as sy soldate dit nodig sou kry. Hy self het deur ‘n tonnel na die tempel gegaan.

Die tempel van Herodes in die tyd van Jesus was ‘n besondere bouwerk en ‘n mens kan verstaan dat die Jode onthuts was toe Jesus in Matteus 24:2 gesê het “hier sal nie een klip op die ander bly nie; alles sal afgebreek word”. Lukas 21:5 meld ook van die pragtige klippe en gewyde geskenke wat die tempel versier het. In Markus 13:1 wys die dissipels op die geweldige klippe en geboue. Die tempel was, in terme van die destydse ander geboue, inderdaad ‘n landmerk in Jerusalem. Toe Jesus in Johannes 2:19 se “breek hierdie tempel af en ek sal dit in drie dae opbou” het die Jode dit van die tempel verstaan (vers 20) en gewys op hoe lank (46 jaar) dit geneem het om die tempel te bring waar by toe was. Tog het die tempel nie bly staan nie. In die loop van die geskiedenis is Jerusalem meermale beleër en letterlik verwoes. Die eerste was in 70 n.C. deur die Romeine toe Titus die stad drasties verwoes het en in 135 n.C. het Hadrianos die stad finaal verwoes en is ‘n nuwe stad Aelia Capitolina daaroorheen gebou. Van die tempel het feitlik net die platform en enkele dele van die buitenste ringmuur oorgebly. Die heilige klaagmuur is ‘n stukkie van die ou ringmuur. So het Jesus se woorde waar geword. Immers, vandag is daar so goed as niks van die tempel van Herodes oor nie. ‘n Islam heiligdom, vandag bekend as Die Rotskoepel (Moskee van Omar), is gebou oor die rots wat in die allerheiligste was.

Skrywer:  Prof JP Louw

 

image_pdfimage_print

You may also like...