Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Finansiers en Handelaars (5) – Hennie Stander

image_pdfimage_print

Geldwisseling

Geldwisselaars het ‘n belangrike rol gespeel. Dit was hulle taak om die geld van diegene wat by die tempel in Jerusalem kom aanbid het, om te ruil vir spesifieke soort munte wat aanvaarbaar sou wees om as offerande gebring te word. Gewoonlik is daar sowat tien persent op hierdie transaksie gehef. Verder is geld ook benodig om die tempelbelasting mee te betaal, asook om te betaal vir offerdiere wat as rein verklaar is. Sommige mense reken dat Nehemia spesiale munte laat slaan het vir hierdie doel (vgl Nehemia 10:32) en dat hierdie praktyk daarna voortgesit is.

Dit is nie baie duidelik presies wat die geldwisselaars gedoen het waaroor Jesus so kwaad was nie. Moontlik het hulle buitensporige koerse gehef en die arm en godvresende aanbidders ingeloop of moontlik was hulle tafels so naby die gedeelte in die Tempel wat vir aanbidding gereserveer was, dat hulle die normale funksies van die Tempel in die wiele gery het. In ieder geval, Jesus is aangevuur deur die woorde van Psalm 69:10 (vgl Johannes 2:17). Die omruil van geld as sodanig was nie verkeerd nie, maar hulle was besig met ‘n aktiwiteit in die Huis van die Vader wat dit nie waardig was nie (Matteus 21:13).

Mense wat geld gewissel het, was ook in staat om lenings uit te gee. Jesus noem byvoorbeeld in die gelykenis wat Hy vertel het aangaande die twee diensknegte, wat onderskeidelik twee en vyf talente ontvang het, dat die heer rente op sy geld sou ontvang het indien die dienskneg sy geld by die geldwisselaars sou belê het (Matteus 25:27; Lukas 19:23). Hier is ‘n saak wat verder toegelig moet word. In die Ou Testamentiese tye het die lewe op ‘n baie eenvoudige landboukundige ekonomiese sisteem berus: Niemand .het lenings vir kapitale insette en beleggings benodig nie. Lenings is slegs aangegaan wanneer ‘n persoon in baie moeilike tye verkeer het wat hy te bowe moes kom. Om hierdie rede was dit geensins toegelaat vir ‘n persoon om rente te hef op geld wat hy geleen het nie. Dit sou net daarop neerkom dat by die verknorsing van sy broeder uitgebuit het (Eksodus 22:25; Deuteronomium 23:19). Sodanige winste kon wel gemaak word deur rente te hef op geld wat aan uitlanders uitgeleen is (Deuteronomium 23:20). Teen die tyd van die Nuwe Testament het die ekonomiese toestand aansienlik verander en was dit moontlik om geld uit te leen ten einde n besigheid te ondersteun en om ‘n opbrengs op jou geld te verwag – soos dit ook uit Jesus se gelykenisse blyk. Maar Jesus was nogtans gekant teen privaatlenings (Lukas 6:34) omdat dit in daardie tye as uitbuiting van nood gesien is.

Skrywer:  Prof Hennie Stander

image_pdfimage_print

You may also like...