Leef uit jou doop: 6.1 Die lewe as ’n doopviering

image_pdfimage_print

Leef uit jou doop: 6.1 Die lewe as ‘n doopviering – Adrio König

6.1 Die lewe as ’n doopviering

Dit is nie ’n ou gebruik in ons kringe om jou doop doelbewus te vier nie. Trouens veral in die Gereformeerde tradisie is die doop eintlik verwaarloos. Een van die redes mag wees dat omtrent net babas gedoop is. Dit het die doop eintlik weggeneem uit die lewe van volwassenes, en die groot saak wat ter sprake was, was die regte opvoeding van die kinders, “om hulle vir die Here groot te maak”. Natuurlik het dit sy eie onvervangbare waarde, maar dit het nie regtig die volwassenes aangespreek oor hulle eie doop en hulle eie lewe nie.

In die Nuwe Testament was dit heeltemal anders. Dáár het veral Paulus die gemeente direk en ernstig aangespreek as hy oor die doop geskryf het. Hy het die wonderlike ryk betekenis van die doop in besonderhede uitgespel. Dink maar net aan Romeine 6 en Kolossense 2-3. En daar is talle kort verwysings na die doop wat ook die lewe van gelowiges direk aanspreek, soos 1 Korintiërs 6:9-11; Galasiërs 3:26-29; Titus 3:4-6.

 

Paulus spreek eintlik sy verbasing uit dat die gemeente nie besef hulle is deur hulle doop dood vir die sonde nie (Rom 6:1-3). In ons tyd sal die meeste Christene dalk hulle verbasing uitspreek dat iemand kan beweer hy/sy is vir die sonde dood, en dit boonop nog met die doop in verband bring. Ek het dit soms uitgetoets in ’n gemeente: “Wie van julle is vir die sonde dood”, en dan omtrent geen reaksie gekry nie. Dit is eenvoudig nie die terme waarin mense aan hulle doop dink nie, indien hulle ooit werklik aan hulle doop dink!

 

Maar vir Paulus lê dit in die hart van die evangelie. Hy roep die gemeente op om dit die uitgangspunt van hul lewe te maak. Nee, eintlik beveel hy hulle dat dit die uitgangspunt van hulle lewe moet wees! (Rom 6:11) In Romeine 6 verduidelik hy in besonderhede die een aspek van die betekenis van die doop: Ons is verenig met Christus.

 

Dit beteken:

♦  Ons neem aan sy hele lewe deel.

♦  Ons is dood vir die sonde omdat Hy vir die sonde gesterf het.

♦  Ons lewe net vir God omdat ons verenig is met sy opstandingslewe wat Hy net aan God wy.

 

Twee dinge is nog belangrik. Paulus sien dit as die uitgangspunt van ons hele lewe. Eintlik gee hy dit as ’n opdrag: Ons moet só oor ons lewe dink (6:11). En daarna vloei sy vermanings oor ons lewe dan soos ’n stroom daaruit voort: Ons moet end kry met ons diens aan die sonde, ons moet ons lewe volkome aan God wy deur elke deel van ons lewe in sy diens te stel (6:12-14).

 

Wat kan dit alles anders beteken as dat ons ons hele lewe in terme van ons doop moet leef, dat ons doop die uitgangspunt van ons lewe moet wees? Natuurlik beteken dit in werklikheid dat God se reddende genade die uitgangspunt van ons lewe moet wees, dat Jesus se kruis en opstanding die uitgangspunt van ons lewe moet wees, want dit is waaroor dit in die doop gaan.

 

Die tweede ding is dat Paulus eintlik verbaas is dat dit nie alreeds die geval met die gelowiges is nie. Trouens hulle verstaan nog nie eens regtig die volle betekenis van hulle doop nie. Luister na sy inset: “Weet julle dan nie … ?” (6:3). Dis byna iets van ’n verwytende opmerking soos die woorde van die skrywer aan die Hebreërs: “Hoewel julle teen hierdie tyd self reeds onderrig behoort te gee, het julle weer nodig dat iemand julle in die grondwaarhede van die woord van God moet onderrig” (5:12).

 

Die doop behoort die uitgangspunt van ons hele lewe te wees. Dit kan tog niks anders beteken nie as dat ons hele lewe ’n bewuste belewing van ons doop sal wees, wat natuurlik beteken ’n bewuste belewing van God se werk in ons lewe, van ons deelname aan Jesus se lewe. Paulus se behandeling van die doop in Kolossense 2-3 is eintlik nog aangrypender. Ook hier begin hy met die doop as die uitgangspunt van ons lewe (2:11-12). En dan word die hele deel wat hierop volg tot by hoofstuk 4 hierop gebou. En die inhoud van hierdie deel is eenvoudig hoe ons moet lewe. Hierdie hoofstukke is ’n deurlopende geheel wat deur ’n aantal voegwoorde as eenheid saamgebind word. Onderstreep die volgende voegwoorde, en kyk dan hoe ons hele lewe uit die doop voortvloei: Daarom (2:16); dus (2:20); aangesien (3:1); daarom (3:5); want (wat ongelukkig weggelaat is in sommige vertalings in 2:9); daarom (3:12). Kort saamgevat loop die beskrywing wat Paulus van ons lewe gee, dan só:

Omdat julle gedoop is en deur die doop met Christus verenig is sodat julle klaar is met julle ou lewe en aan Christus se lewe deelneem:

Daarom is julle nie meer gebonde aan die feesgeleenthede van die Ou Testament nie (2:16-19).

Dus moet julle nie wetties allerhande reëls probeer hou nie (2:20-23).

Aangesien julle deur die doop met Christus verenig is, moet julle julle gedagtes op Hom rig. Hy is immers julle lewe (3:1-4).

Daarom moet julle breek met die aardse dinge, die sonde (2:5-8).

Want julle lewe nou die lewe van die nuwe mens waar Christus alles en in almal is (2:9-11 – die “want” is on gelukkig soms weggelaat).

Daarom moet julle ’n lewe lei van ’n bepaalde kwaliteit en styl (3:12-4:1).

 

Ons totale lewe moet gebou word op ons doop, omdat ons doop God se werk in ons lewe is, ons vereniging met Christus.

 

 

leefuitjoudoopMens wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike doop. Leef uit jou Doop (2011) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die doop.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

 

 

 

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

Skrywer: Prof Adrio König

 

image_pdfimage_print

You may also like...