Leef uit jou Doop: 5.5 Die verband tussen die besnydenis en die doop

image_pdfimage_print

Leef uit jou Doop: 5.5 Die verband tussen die besnydenis en die doop – Adrio König

5.5 Die verband tussen die besnydenis en die doop

Ons het reeds gesien dat die besnydenis ’n geestelike betekenis gehad het (3.6). Verder ook dat daar ’n baie opvallende verband is tussen die geestelike betekenis van die besnydenis en die doop. In beide gaan dit om die nuwe lewe in gehoorsaamheid aan God.

Verder lyf die doop ons in dieselfde verbond in waarin die besnydenis Abraham ingelyf het.

Christene wat die besnydenis bloot as ’n “vleeslike” saak beskou, as ’n teken dat iemand ’n Jood is, beweer dat hierdie duidelike geestelike betekenis net vir Abraham self gegeld het, en dat die besnydenis ná Abraham net ’n nasionale, vleeslike betekenis gekry het.

Kom ons beoordeel hierdie siening in die lig van Paulus se argument in Romeine 4. Hy begin met die stelling dat Abraham se besnydenis ’n bewys was dat God hom vrygespreek het omdat hy geglo het (4:11). Daarna gaan hy dadelik oor na twee ander groepe wat ook besny is:

♦   die heidene wat soos Abraham van God gehoor het en hulle tot Hom bekeer het,

♦   en die kinders van die gelowiges.

Van die eerste groep skryf hy dat hulle net soos Abraham geglo het vóór hulle besny is, en dat hulle besnydenis dus net soos Abraham s’n, ’n bewys was dat hulle “deur God vrygespreek is omdat hulle glo”. Hoe is dit nou moontlik dat hulle besnydenis skielik sy duidelike geestelike betekenis verloor, en net ’n vleeslike betekenis het?

 

Die tweede groep (4:12) is “dié besnedenes wat nie net besny is nie, maar ook glo, soos Abraham geglo het”. Dit is dié Jode wat nie net as babas die letterlike besnydenis ontvang het nie, maar ook die geestelike betekenis van die besnydenis, wie se harte besny is, wat glo.

 

Eers net terloops: Dit is ’n wonderlike deurbraak uit die geslote kring van Jode wat alleen op Abraham en God wou aanspraak maak asof Abraham net hulle vader, en God net hulle God is. Paulus breek hiermee terug tot by Genesis 12:3, God se oorspronklike belofte aan Abraham dat al die volke van die aarde in hom geseën sal wees. Paulus herhaal hierdie universele vaderskap van Abraham effens later: “Hy is immers die vader van ons almal” (4:16), wat Jode én heidene insluit, maar net dié wat glo. En dit is presies wat ons hier in 4:11-12 het: Abraham is die vader van twee groepe:

♦   die vader van dié heidene wat net soos hy tot geloof in die Here kom, en daarna besny is,

♦   en ook die vader van dié Israeliete wat nie net as babas besny is nie, maar ook glo.

 

Maar die groot saak hier is nou die feit dat Paulus

♦   enersyds die volle geestelike betekenis van die besnydenis beklemtoon (die besnydenis is ’n geloofsakrament),

♦   maar dan terselfdertyd verwys na die situasie van die kinderbesnydenis: die Jode wat nie net besny is nie, maar ook glo.

 

Wat het ons hier? Die bekende situasie van kinderbesnydenis in die Ou Testament, maar terselfdertyd die volle beklemtoning van die geestelike en geloofsbetekenis van die besnydenis. In beginsel is dit moontlik dat iemand sal (probeer) ontken dat Paulus met die tweede groep inderdaad verwys na die Jode wat as babas besny is en agterna self geglo het.

 

Maar dit los nie die “probleem” op nie. Die “probleem” is dat Paulus die geestelike betekenis van die besnydenis erken en dat ons mos almal weet dié besnydenis is vir eeue lank hoofsaaklik aan babaseuntjies bedien. Kan ’n geloofsakrament aan die kinders van gelowiges bedien word? Dit het gebeur vir eeue lank. Waarom kan ons nie in dieselfde verbond daarmee voortgaan nie? Daar is net een manier waarop die goeie reg van die kinderdoop ontken kan word, en dit is om te beweer dat die Abrahamverbond in werklikheid radikaal verander het in die Nuwe Testament, dat die een faset van hier die verbond wat verreweg die bekendste was, die insluiting van gelowiges se kinders, in die Nuwe Testament verval het. Maar daarvan is daar geen getuienis in die Nuwe Testament nie. Die hele manier waarop juis in Romeine 4 oor hierdie verbond in sy Ou-Testamentiese gestalte praat, spreek sterk teen so ’n verandering.

 

Trouens dit sou tog die gelowige Jode soos ’n aardbewing getref het as hulle skielik moes hoor die een aspek van hierdie verbond wat vir hulle die bekendste was, bestaan nie meer nie. Daar is tog nie ’n manier om jou in te dink dat so ’n verandering stil-stil ingevoer sou word sonder enige  reperkussies in die Nuwe Testament nie.

 

Hier het ons nou nie meer net prinsipiële ruimte vir die kinderdoop nie. Hier sal mense wat die kinderdoop verwerp, moet antwoord op die vraag waarom die apostels kon swyg oor ’n basiese verandering in die grondstruktuur van die verbond waarin die doop ons inlyf. Dit kan tog seker nie betwyfel word nie dat die Joodse gelowiges wat gehoor het die doop lyf die dopeling in die verbond met Abraham in, sou aanvaar het dit is die verbond soos hulle dit vir eeue lank geken het.

 

Dit is nog geen direkte, duidelike verwysing na die kinderdoop nie. Maar dit bied selfs sinvoller grond om die kinderdoop te aanvaar as die grond wat ons almal aanvaar vir ons Sondagviering.

 

5.5.1 Die huisdope

Die huisdope was altyd ’n groot twispunt in die debat. Was daar babas of was daar nie? Daar is vyf verwysings na huisdope (Hand 16:15, 31- 34; 18:8 saam gelees met 1 Kor 1:14; Hand 11:14 saam gelees met 10:47, 48, en 1 Kor 1:16).

 

Daar is nogal redelike argumente aan beide kante. Die een kant het gevra hoe dit moontlik is dat daar in soveel gesinne nie babas was nie. Dit was die tyd van groot gesinne. Die ander kant het gesê ’n mens moet net die moeite doen om netjies te lees, dan sal jy sien daar was nie. Die dinge wat hierdie gesinne gedoen het, het eenvoudig babas uitgesluit. Hierdie mense het na die evangelie

geluister, hulle het geglo, hulle was vol blydskap (Hand 16:32-34). Babas kan dit nie doen nie.

Die vraag is egter of die saak nie effens ingewikkelder is nie. Die beredenering wat hier volg, gaan eindig met die slotsom dat ons nie weet of daar babas was nie. Indien jy daarmee tevrede is, hoef jy nie verder te lees nie, want dis nogal ’n ingewikkelde gedagte-ontwikkeling.

 

Kort saamgevat: In ’n gesprek sê ons nie alles volledig nie. Ons sê net wat nie klaar duidelik is nie.

Verduideliking: Kom ons kyk na twee sinne.

♦   Die hele gesin was vanoggend in die tuin besig.

♦   Die hele gesin is in die ongeluk dood.

Indien daar ’n baba in die gesin was, sal jy vanselfsprekend aanvaar die baba was nie ook in die tuin besig nie. Babas kan nie in ’n tuin werk nie. Maar jy sal ook vanselfsprekend aanvaar die baba is ook in die ongeluk dood, want babas kan in ’n ongeluk sterf. Wat beteken dit? Indien babas in daardie tyd gedoop is, sal jy aanvaar daar was ’n baba gedoop. Indien babas nie gedoop was nie, sou jy aanvaar het daar was nie ’n baba gedoop nie. So maklik en so moeilik is dit. Ons weet eenvoudig nie, en daarom is die stryd onsinnig.

 

Maar daar kan ander betekenis in die huisdope wees. Dit is opvallend dat in byna alle gevalle van doop daar van die gesin/huis/familie gepraat word. Dis besnydenistaal. So is daar in die Ou Testament oor die besnydenis gepraat: jy en jou huis. Waarom sal die apostels met dié taal aanhou as dit nie meer betekenis gehad het nie? Waarom nie net die mense noem wat gedoop is nie? Is dit nie dieselfde situasie wat ons gekry het in Romeine en Galasië nie? Dat die apostels eenvoudig met die “Abrahamstaal” aangehou het eenvoudig omdat die verbond met Abraham voortgegaan het. En die een ding wat regtig in die geskiedenis van Israel oor hierdie verbond bekend was, was die besnydenis van verbondskinders. Dan sê die huisdope vir ons die verbond het onveranderd voortgegaan.

 

 

leefuitjoudoopMens wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike doop. Leef uit jou Doop (2011) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die doop.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

 

 

 

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

Skrywer: Prof Adrio König

 

image_pdfimage_print

You may also like...