Vader, Seun en Heilige Gees in berading – Hermie van Zyl

image_pdfimage_print

Liesl vra:

Ek wil graag weet of julle my dalk kan help met die volgende: Wat is die rol van die Vader, Seun en Heilige Gees in berading?

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Om hierdie vraag na behore te antwoord, moet mens begin met die vraag: Wat is berading? Die antwoord hierop is nie so eenvoudig nie, want berading kan met verskillende oogmerke beoefen word. So is daar berading met die oog op huweliksherstel, tienerbegeleiding, kinderontwikkeling, of vir mense wat worstel met menseverhoudings, selfdoodneigings, of sukkel met die nagevolge van seksuele molestering. Selfs mense wat nie kan koers kry met hulle finansies nie of in skuld vasgevang is, soek hulp en raad. Maar ek meen die gemene deler tussen al hierdie vorme van berading is dat mense wat berading soek, graag in staat gestel wil word om as volwasse, heel mense die lewe aan te durf. En veral om dit vanuit ’n geloofsperspektief te doen – vanuit hulle verhouding met God. Hulle wil graag as Christengelowiges vanuit die Woord begelei word hoe om verskillende lewensprobleme die hoof te bied. Kortom, berading het op die oog om mense te help om hulle volle potensiaal as Christengelowiges te ontwikkel sodat hulle die uitdagings van die lewe kan hanteer.

Noudat die oogmerk van berading duideliker in die oog is, kan ons probeer om die vraag te beantwoord wat die rol van God as Vader, Seun en Heilige Gees in berading is. Maar daar is nóg kwessie wat eers aandag moet kry: Wat is ons mensbeskouing as Christene? As jy byvoorbeeld – soos baie beraders en sielkundiges – ’n bloot sekulêre mensbeskouing het, word die mens gesien as ’n “behoeftedier” wie se wense na die beste van sy of haar vermoë “gediens” moet word. Dit gaan oor wat vir die méns belangrik is, wat sy belange en welsyn die beste dien. Hiervolgens is die mens ’n outonome wese wat self oor sy eie heil besluit; net hy weet wat goed en reg is vir hom. En die terapeut of berader is bloot daar om die innerlike genesingskragte van die pasiënt te ontsluit en te mobiliseer. Enigiets wat die mens gelukkig kan maak, is dan aanvaarbaar, maak nie saak of dit vanuit ’n normatiewe etiek bedenklik mag wees nie. Byvoorbeeld, iemand wat sukkel met seksuele verhoudings in die huwelik, mag die raad ontvang om seksueel te “eksperimenteer” ten einde sy of haar seksuele vryheid te ontdek – op voorwaarde dat die persoon daarmee “gemaklik” is – ongeag of dit vanuit Christelike perspektief teen die wil van God ingaan of nie.

Berading vanuit Bybels-Christelike perspektief werk egter met ’n ander mensbeeld. Die mens word nie in die sentrum gestel nie, maar God en sy Woord. So ’n mensbeeld gaan uit van ’n paar kern-aannames, soos die volgende: Die mens is geskape na die beeld van God en verteenwoordig God dus in al sy doen en late; in die laaste instansie is die mens aan God verantwoording verskuldig. Verder word erken dat die mens nie aan die doel beantwoord waarvoor God hom geskape het nie, maar in eiesinnige en selfgerigte gedrag verval het – in Bybelse taal: in sonde geval het. Die mens het dus nood aan verlossing van hierdie destruktiewe selfgerigtheid. En die enigste manier om daarvan verlos te word, is om dit te bely, die vergifnis van God in en deur die offer van Jesus Christus te aanvaar, en deur die Heilige Gees ’n lewe van heiligmaking te lei – tot eer van God, tot genesing van die self en tot seën van die gemeenskap. Bybelse berading lei dus nie primêr tot behoeftebevrediging of selfverwesenliking nie, maar het op die oog om die mens met bostaande insigte te begelei na ’n lewe wat God kan verheerlik. En eers dan, wanneer die mens in pas met God lewe, kom daar persoonlike verryking.

Vanuit hierdie mensbeeld kan ons dan vra na die rol wat Vader, Seun en Heilige Gees in berading speel. Ons sou kon sê dat God die Vader veral as Skepper van die mens na vore tree. Die mens is kragtens sy status as skepsel, beeld van God (Gen 1:27). In al ons doen en late moet ons dus as God se verteenwoordigers op aarde optree. En berading moet daarop ingestel wees om die ander daaraan te herinner dat ons die verantwoordelikheid het om God se beeld te vertoon. Omdat Hy regverdig, barmhartig, genadig, lankmoedig en vol liefde is, behoort ons omgang met mekaar ook iets hiervan te weerspieël. As naakte selfsug en eiebelang ons lewens ontsier, is ons nie beelddraers van God die Skepper nie en beantwoord ons nie aan ons doel as mense nie, en sal daar vir seker allerlei patologiese gedragspatrone manifesteer wat in berading hanteer behoort te word.

As Seun is God veral die Verlosser. Deur sy offer in ons plek kom daar genesing vir ons sonde. Dit is een van die troosryke aspekte van Christelike berading dat aan die ander vergifnis van sonde verkondig kan word. As ons oorlaai en moeg is, kan ons na Christus toe kom en rus ontvang (Matt 11:28). Ons hoef nie self te dra aan die las van ons sonde, verkeerde besluite en dwase optredes van die verlede nie. Ons kan daarvoor vergifnis ontvang en as nuwe mense herbore word. 2 Korintiërs 5:17 stel dit onomwonde: “Iemand wat aan Christus behoort, is ’n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom.” In berading vanuit Christelike perspektief sal hierdie faset een of ander tyd ter sprake kom.

En die Heilige Gees wil ons lei na ’n lewe van heiligmaking. As Christus die vrou wat in owerspel betrap is, vergewe, dan sê Hy ook vir haar: “Sondig nie meer nie” (Joh 8:11). Dít is heiligmaking. Dit het egter niks daarmee te make dat ons nou skielik sonder sonde is nie; dít kan niemand van ons op aarde wees nie. Maar dit beteken wel dat ons die stryd teen die sonde deur die krag van die Heilige Gees aanpak. Ons hoef nie ’n slagoffer van ons eie mislukkings te wees nie. Ons kan nou aan die eise van God se wil begin voldoen omdat ons nie meer deur ons sondige natuur beheers word nie, maar deur die Gees (Rom 8:4). Die vrug van die Gees – liefde, vreugde, vrede, en al die ander (Gal 5:22) – begin nou ons lewe versier. Christelike berading sal dit ten doel stel om die een wat beraad word, te lei na ’n lewe van heiligmaking.

Bogenoemde het veral die onderskeie rolle van Vader, Seun en Heilige Gees beklemtoon. Maar daar is ook ’n ander aspek wat uit die drie Goddelike Persone voortvloei wat in berading ’n rol behoort te speel. Die drie Persone vorm saam die Goddelike Drie-eenheid, of Triniteit. En dit is veral die relasie of verhouding tussen die drie Persone wat in die onlangse teologiese besinning taamlik klem ontvang het. Dit gaan met name oor die interpersoonlike verhouding tussen Vader, Seun en Heilige Gees wat eenheid in die Triniteit skep. Wat hier voorop staan is nie soseer elkeen se besondere wese of werk nie, maar die feit dat hulle altyd in verhouding tot en interafhanklikheid van mekaar optree. ’n Mens kan sover gaan om te sê dat hulle onderskeie identiteite as Persone juis in hulle intersubjektiewe verhouding lê. Hulle tree nooit onafhanklik van mekaar op nie, maar altyd as ’n heilige Triniteit, uitreikend en luisterend na, en ondersteunend van mekaar. In hierdie sin van die woord is die Triniteit ook ’n model vir menslike optrede. Dit is opmerklik dat wanneer Genesis 1:27 sê dat die mens na God se beeld geskape is, daar onmiddellik bygevoeg word: “man en vrou het Hy hulle geskep”. Dis juis in die mens se interafhanklikheid dat hy die beeld van God verteenwoordig en sy identiteit na vore tree. Dit gaan nie net oor die mens as enkeling met sy besondere eienskappe waarin die spesifieke identiteit van die mens opgesluit lê nie, maar daarin dat hy saam met en deur ander mense mens is. Die ander is wesenlik deel van ’n individu se identiteit. In die mate dat die individu uitreik na ander, die ander omhels, ruimte maak vir die ander, in daardie mate is die mens meer mens; trouens, in daardie mate vertoon ons die beeld van God as Triniteitswese. God is in sy eie wese altyd God-in-verhouding-met-die-Ander. So is die mens ook slegs waarlik mens as hy ruimte maak vir die ander.

In berading is hierdie perspektief enorm belangrik. Want die meeste probleme waarmee beraders te kampe het, is verhoudingsprobleme – mense wat nie met ander oor die weg kan kom nie. Sekulêre berading is dikwels daarop ingestel om die mens tot individuele selfverwesenliking te lei. Maar vanuit Christelike Triniteitsperspektief is dit baie belangrik om die persoon wat berading ontvang altyd te begelei tot die aanvaarding van en uitreik na die ander, hoe moeilik en riskant dit ook al is. Want juis hierin kom ons eie identiteit die beste na vore. Só is ons geskape. Immers, dis deur te gee, dat ons ontvang (vgl Hand 20:35). Dis deur jouself vir die ander oop te stel, dat jy jouself en jou eie waarde ontdek. En presies dít het groot genesingskrag in die konteks van berading.

Skrywer:  Prof Hermie van Zyl

image_pdfimage_print

You may also like...