God se goeie doel in die geskiedenis van die mens

image_pdfimage_print

 

Success has a hundred fathers; defeat is an orphan – Anoniem

 

God se goeie doel in die geskiedenis van die mens

Wat is die goeie doel van God in die geskiedenis van die mens? Ons het ‘n goeie God wat teen die bose is. God waak gedurig teen die bose – ons kry dit oor en oor in die Skrif. Dink aan Job. Job was nie ‘n Jood nie – hy was nie deel van die verbondsvolk nie. Tog het God ‘n heining om hom gebou. Net so bou God ‘n heining om elkeen wat Hom soek en verhoed Hy so dat die bose hulle oorval. Deur die liefde van die Here het ons nie vergaan nie; daar is geen einde aan sy ontferming nie (Klaagliedere 3:22).

 

Die probleem met baie dinge in die Bybel en ons liedere is dat dit vir ons net mooi woorde wat nie werklik vir ons iets beteken nie, is. Ons moet voortdurend vir God vra om ons teen die bose te beskerm. Ons is op die slagveld vasgevang tussen twee leërs – die een is goed, die ander is boos. God is egter groot en kan ons beskerm. God is teen die bose. Ons is in die arena van die geskiedenis van die mens waarin die goeie doel van God bereik moet word.

 

Kom ons kyk hoe stel Paulus die doel van God in Efesiërs 2:4 – 7: Maar God is ryk aan barmhartighed en het ons innig lief. Deur sy groot liefde het Hy ons wat dood was as gevolg van ons oortredings, saam met Christus lewend gemaak. Uit genade is julle gered! Ja, in Christus Jesus het Hy ons saam met Hom opgewek uit die dood en ons saam met Hom ‘n plek in die hemel gegee, sodat God ook in die tye wat kom, sou laat sien hoe geweldig groot sy genade is deur die goedheid wat hy in Christus Jesus aan ons bewys het. Dit is waaroor die geskiedenis van die mens gaan. In vers 7 sien ons dat ons God se vertoonstukke is wat in die tye wat kom die bewyse van God se genade en goedheid sal wees.

 

Maar nou het God die ryke verskeidenheid van sy wysheid deur die kerk bekend laat word aan elke mag en gesag in die hemelruim (Efesiërs 3:10). Wat bekend gemaak moet word, is wat God uit die geskiedenis van die mens gaan voortbring. Wat God gaan voortbring is dat sy mense die grootste weerkaatsing van God se heerlikheid, wysheid en liefde gaan wees – ‘n geloofsgemeenskap wat die kroonjuweel in sy skepping sal wees.

 

image_pdfimage_print