Paulus se brief aan die Filippense (Fil 1:25-26) – Francois Malan

image_pdfimage_print

1:25 ’Juis omdat ek hiervan oortuig is, weet ek dat ek hier sal bly, ja, dat ek wel by julle almal sal bly, sodat julle vordering kan maak en geloofsvreugde van ervaar.’ Paulus vertrou (pepoithōs ‘vertrouend’ (nie: ‘ek is oortuig’ soos 2020 vertaal nie ) dat die Here hom wil gebruik vir die noodsaaklike vordering van die Filippense se geloof in Christus en hulle verhouding met mekaar (1:24). Die Here het die vertroue in hom gewerk, moontlik deur die gemeente se gebrek aan ’n nederige eensgesindheid waaroor hy so ernstig in hoofstuk twee praat (vgl.2:1-4,14; 4:2-7). Hy kon daaroor berigte ontvang het en dit afgelei het tydens sy gesprekke met Epafroditus, die gemeente se verteenwoordiger wat hom kom help het (4:18). Sy Here bepaal sy lewensduur. Daarom weet hy, eintlik ‘dit vertrouend weet hy’ dat hy in die lewe gaan bly (menō) en voortgaan om by al die gemeentes en gelowiges te bly. Die doel van Paulus om by hulle almal te bly is om só die belang van die Here se koninkryk en die nood van die gelowiges in Filippi te dien. Almal sluit al die gemeentes in, nie slegs die Filippense nie. Dat Paulus sal volhard om by die gemeentes te bly, beteken dat hy bereid is vir die uitdagings en moontlike lyding wat dit kan behels. In die Griekse teks is vordering en vreugde met een lidwoord verbind en saam aan geloof. Dit gaan oor die gemeente se vordering in die geloof en hulle vreugde in die geloof daarmee saam. Dit beteken dat die gemeente en gemeentelede minder op hulleself moet vertrou en al meer op Christus Jesus vertrou vir alles in hulle lewe. Dan kan hulle in nederige eensgesindheid met mekaar saamlewe. Die groeiende vertroue op die Here lei tot ’n lewe in vreugde omdat ons nie meer op onsself vertrou nie, maar op die Here. Vreugde is deel van die vrug van die werking van die Heilige Gees in elke gelowige (Gal 5:22). Romeine 15:13: ‘Mag die God van hoop julle deur julle geloof met alle blydskap en vrede vervul, sodat julle hoop oorvloedig kan word deur die krag van die Heilige Gees.’ Dit beteken die aanvaarding dat alles wat met my gebeur van die Here kom. In Romeine 8:28 het Paulus gesê: ‘Ons weet dat alles ten goede meewerk vir hulle wat God liefhet, diegene wat volgens sy voorneme geroep is…’ Nadat hy opgenoem het watter ellendes die gelowiges mag tref, sê Hy: ’Maar in alles is ons selfs meer as oorwinnaars deur Hom wat sy liefde aan ons bewys het… omdat niks ons kan skei van God se liefde wat daar in Christus Jesus ons Here is nie’ (Rom 8:37,39). Dit is die vreugde van die geloof waarvan Paulus hier skryf waaraan hy in die gemeentes wil kom werk.

1:26 ‘So sal julle roem oor Christus Jesus deur my oorvloedig gemaak word, deur my teenwoordigheid weer by julle.’ (2020 ‘So sal julle trots op my, wanneer ek weer by julle is, in Christus Jesus nog meer kan toeneem) ‘…sodat julle roem oor (en) Christus Jesus oorvloedig gemaak word’ – hier verwys die Griekse ‘en’ na die Persoon oor wie hulle roem, soos in Fil 3:3 ‘ons wat oor (en) Christus Jesus roem en nie op (en) die vlees nie.’ Die gedagte is dan dat God hulle roem oor Christus sal bewerk deur Paulus se werk onder hulle (nie soos 2020 vertaal dat hulle oor Paulus sal roem nie). In Galasiërs 6:14 het Paulus gesê: ‘Maar wat my betref mag dit my tog nie oorkom dat ek spog nie, behalwe oor (en) die kruis van ons Here Jesus Christus.…’ ‘deur my oorvloedig gemaak word;’ vgl. 1:9 dat hulle liefde al hoe meer oorvloedig sal wees) ‘deur (en) my’ – hier verwys die Griekse ‘en’ na Paulus as die instrument wat God sal gebruik om die Filippense se roem oor Christus oorvloedig te laat word (Die Griekse voorsetsel en word in die Griekse Nuwe Testament vir 21 verskillende betrekkinge tussen naamwoorde gebruik, bv: ‘in,’ ‘oor,’ ‘deur,’). ‘Deur my’ word uitgebrei met ‘deur (día) my persoonlike teenwoordigheid (parousía) weer (pálin) by julle’ – sy teenwoordigheid by hulle gaan nie slegs per brief wees, soos met hierdie brief wat reeds werk om hulle roem oor Christus te vermeerder nie, maar hy gaan persoonlik teenwoordig wees by hulle nadat hy in Rome vrygelaat is; ‘weer’ – Paulus was by hulle toe die Here die gemeente begin het tydens sy tweede sendingreis (Hand 16:6-40); daarna was hy by hulle op pad na Korinthe (2 Kor 2:13; 8:1); daarna op sy reis na Jerusalem (Hand 20:1-6); en nou beplan hy om ‘weer’ na hulle te kom wanneer hy vrygelaat word in Rome. Paulus voorsien ’n baie vrugbare besoek by die gemeente na sy vrylating. Deel van sy verwagting is dat die Here se liefde onder hulle meer en meer oorvloedig sal word. Daarvoor het hy in vers 9 gebid. Die wyse waarop dit sal gebeur is dat hulle al meer op die Here Jesus Christus sal vertrou vir hulle hele lewe. Christus sal hulle ook deur Paulus se getuienis verander sodat hulle mekaar beter sal liefhê. Met hulle groeiende vertroue op Jesus sal hulle Hom al meer dank en prys. So sal hulle roem oor Christus Jesus se werk in hulle en dat Hy hulle lewe al meer verander. Op dié manier maak God hulle roem oor Christus oorvloedig. Daarvoor gebruik Hy Paulus se getuienis oor Christus. Die groei en volharding in die geloof kom van God af. Die Heilige Gees is daagliks besig met die opbou van ons geloof in Christus (2 Kor 3:18). In 1 Kor 3:6 sê Paulus: ‘Ek het geplant, Apollos het natgegooi, maar God het laat groei.’ God wat die goeie werk in die gelowiges begin het, sal dit voltooi tot op die dag van Christus Jesus (Fil 1:6).

image_pdfimage_print

You may also like...