Ek cope nie meer nie: Werk aan jou vriendskapsbande – Jan van der Watt

image_pdfimage_print

Daar is ’n segging: “Wees goed vir jou vriende, want sonder hulle is jy ’n vreemdeling.” ’n Mens kan nie alleen deur die lewe gaan nie, jy het mense nodig om jou regtig “mens” te maak. Vriende laat jou gewaardeer en nuttig voel, hulle help jou as jy hulp nodig het en gee jou raad as jy raad nodig het. In dié sin vorm hulle inderdaad jou ondersteuningsisteem. Paulus het dit goed geken, want God maak van ons mekaar se onder­steuners: “Soos ’n goeie Vader troos God ons elke keer wanneer ons swaarkry. Hy help ons uit al ons moeilikhede en probleme uit. Daarom kan ons nou ook ander mense help en ondersteun wanneer hulle die slag swaarkry. Ons kan hulle op dieselfde manier help as wat God ons gehelp het” (2 Kor. 1:3-4, p. 567).

Moenie toelaat dat fyngevoeligheid en ’n oormaat trots jou vrien­de van jou vervreem nie. Jy kan ’n hele lewe daaraan werk om ’n vriend te maak en hom in ’n oomblik verloor. Op­-pas ook dat die “te besig wees-monster” nie ook jou vriendskap wegvreet tot daar niks oorbly nie. Vriendskap is baie soos ’n plantjie. Dit moet water kry om mooi te bly.

’n Mens kan ook so gou in die strik val om oor alles sleg te voel en te dink dinge is jou skuld. God en ander mense het jou al lankal vergewe en dan stoei jy nog steeds met jou skuld en skuldige gewete. Ons dra allerhande skuldgevoelens met ons saam en dit laat ons voel ons is nie goed genoeg nie. Maak vre­de met die feit dat jy ook foute maak en dat jy net soveel van vergifnis afhanklik is as enigiemand anders. Moenie die hele tyd voel die enigste keer dat jy reg is, is wanneer jy erken dat jy verkeerd is nie.

Moet ook nie die hele tyd met die gevoel lewe dat jy ander mense iets skuld nie, al weet jy self nie wat nie. Dit sal jou die hele tyd onder stres en druk plaas. Natuurlik moet ’n mens ander mense in ag neem en hulle respekteer, maar dit moet jou nie beroof van jou reg om jouself te wees nie. Maak moeite om jouself hier binne-in te leer ken. Luister na jou eie stem in jou hart. Pak dan die lewe daarvolgens aan.

’n Mens moet dus aan basiese dinge soos vergifnis en aan­vaarding van ander werk. Niemand van ons is dieselfde nie en selfs jou beste vriend sal partymaal dinge doen wat vir jou verkeerd lyk of jou miskien krapperig kan maak. Dit moet jy verwag en daarvoor gereed wees. Ons werk soms met valse ver­wagtings van mense: ons dink ’n vriend is iemand wat jou nooit sal teleurstel nie. As jy egter kyk na hoeveel foute jy self maak en hoe die ou sonde jou maar vasdruk, moet en   kan jy nie verwag dat jou vriende perfek moet wees nie.      Daarom moet jy jouself instel om te kan vergewe en foute te kan oorsien.

Dit is net so belangrik dat jy nie ander sal blameer vir foute wat jy maak nie. Vriendskap beteken dat jou vriend dinge saam met jou doen. Jy verwag dat hy jou moet vergewe as jy ’n fout gemaak het. Net so moet jy hom kan vergewe as hy ’n fout maak. Dit is amper soos ’n dubbelspel in tennis. Al twee die spelers gaan beslis foute maak, maar as hulle mekaar se foute gaan beklemtoon en verwytend gaan optree, gaan hulle sukkel om die wedstryd te wen.

So is die spel van die lewe ook. Hoor hoe mooi praat Paulus daaroor:

Moenie toelaat dat julle bitter word nie. Beteuel jou humeur en as jy dalk jou humeur verloor, moet jy nie kwaad bly nie. Moenie mekaar vloek of lelike dinge vir mekaar sê nie. Moet ook nie iets doen wat vir ’n ander een sleg is nie. Behandel mekaar mooi en goed. Laat dit vir ander lekker wees om by jou te wees. Sien mekaar se foute oor net soos God julle foute oorgesien het omdat julle Jesus S’n is (Ef. 4:31-32, p. 631).

Werk dus hard aan jou vriende (veral aan jou huweliksmaat of mense wat saam met jou in dieselfde huis bly en by dieselfde plek werk). Jy sal op hulle moet steun as jy voel dat die lewe vir jou te veel begin raak. Dan sal jy ’n gesonde ondersteuning­sisteem hê as jy dit nodig het.

image_pdfimage_print