Ek cope nie meer nie: Perfeksionis – Jan van der Watt

image_pdfimage_print

’n Stoffie of nie ’n stoffie nie?

Perfeksionis is eintlik die buurman van Skeidsregter. Dit is dié mense wat dink dit hang van hulle af om die wêreld perfek te maak en dat ’n mens se waarde gemeet kan word aan hoe perfek alles rondom jou is. As daar ’n stoffie op die sitkamertafel lê of as die bank effens skeef staan, voel hierdie mense dat dit da­delik reggestel moet word, anders faal hulle as mense. Ek het al beleef dat ’n kuiergas in die middel van ’n gesprek op­staan en die paar stoffies wat sedert die vorige skoonmaak op die TV-skerm kom vassit het, met sy sakdoek afvryf, en dit terwyl die stel nie eers aan was nie. Hierdie mense wil eint­lik hê alles moet al soos in die hemel wees. Maar wat hul­le nie besef nie, is om daar te kom moet Perfeksionis eers dood­­gaan.

Perfeksionis wil nie regtig negatief wees nie, maar wil net beter wees. Hy wil voel dat hy altyd alles onder beheer het. Soos met Skeidsregter voel hulle dat hulle nie goed genoeg is nie en dat hulle beter kan … nee, hulle kán nie net beter nie, hulle móét ook beter. Hulle is vas oortuig dat hulle selfwaarde as mens afhang van dinge wat buite ’n mens lê. Dit is goed  soos hoe hulle huis lyk, hoe netjies die meubels staan, hoe gaaf hulle kan wees, hoe foutloos hulle hulle werk kan doen, hoe baie mense van hulle hou, en so aan. Daarom is hulle die klassieke orga­niseerders, nie net van hulleself nie, maar ook van ander: “Jy móét dit doen,” “Sórg dat dat reg is,” of “Ek behóórt nog…” hoor ons hulle gedurig sê. Hulle sal ook graag altyd bevoeg wil voorkom en die indruk skep dat hulle almal kan tevrede stel en dit ook wil doen. Daarom is hulle ook onverdraagsaam ten opsigte van foute of dinge wat verkeerd gaan. Dit behoort net nie so te wees nie en behoort dadelik reggestel te word.

Moenie minder belangrike dinge belangrik maak nie

Nou wonder ’n mens hoe klink hierdie mense se selfgesprek. Hulle werk ook met ’n baie rigiede stel reëls waaraan hulle vas glo. Sodra hulle ’n stoffie op ’n TV sien, kom hulle selfgesprek op dreef: “’n Goeie mens behoort nie ’n stoffie op die TV te hê nie.” Die waarde van daardie mens word dus aan die stoffie gekoppel. Is dit realisties? Wie is ’n beter persoon: die persoon wat ’n stoffie op sy TV het en gelukkig saam met sy gesin leef of die persoon sonder die stoffie op die TV wat dit vir hom en sy hele gesin hel maak?

Die Bybel leer ons dat ons nie ons waarde moet soek in eksterne dinge nie. God het ons gemaak en dit alleen maak elke mens al waardevol. Die waardesisteem wat Perfeksionis dus gebruik, is verdag. Dit is om minder belangrike dinge belangrik te maak. Dit sou nie so erg gewees het nie as dit nie was dat dit die hele lewe van Perfeksionis dryf en bepaal nie. Dit is baie soos party politici se toesprake: hy is al vir ’n uur be­sig en as iemand jou vra wat hy sê, moet jy antwoord: “Ek weet nie, hy’t nog nie gesê nie.” Perfeksionis maak skoon en skuif reg en gaan te kere, maar jy weet nie altyd mooi waarom nie; dinge lyk vir jou dan reg. Die probleem van Perfek­sionis is dus dat die reëls wat hulle vir hulleself stel oordrewe en  mis­plaas is.

Die gevoel dat ’n mens nie cope nie en voel jy verloor be-heer is dus baie algemeen by perfeksioniste. Hy word die hele tyd gejaag deur die spook van wat eintlik (volgens hom) behoort te wees. Juis omdat hulle vir hulle die hooi so hoog oppak, kom hulle dikwels nie mooi by nie. Dit gee vir hulle ’n gevoel van onvergenoegdheid en mislukking. Hulle onrustige gedrewenheid wat die wêreld perfek wil maak, ver­oor­saak dat hulle hulleself uitbrand en in stres inwerk. Dit maak hulle nog meer ontevrede met hulleself en veroorsaak dus heel dikwels depressie.

Ek wil hê … daarom moet jy

Die dilemma vir ander is dat Perfeksionis ook ’n goeie projekteerder is. Hierdie gevoel dat alles net altyd reg en perfek moet wees soos wat hulle dit wil hê, verplaas hulle op hulle kinders en ander gesinslede. So probeer hulle hulle eie waardes op hulle kinders projekteer. Dit doen hulle dikwels deur te raas, te manipuleer, skuldige gewete op te jaag, en so aan.

Hul­le skep die idee dat as die kinders goeie mense wil wees, hulle al hierdie reëls moet nakom. Dit kan ’n nagmerrie wees en heel dikwels draai kinders wat in so ’n huis groot­geword het redelik slordig uit, doodgewoon omdat hulle in opstand kom teen die oordrewe eise wat perfeksionisme aan ’n mens stel. (Jongmense moet net gewaarsku wees: dit  gaan hier oor oordrewenheid en nie oor normale reëls vir hi­giëne nie.)

Die probleem kan reggestel word mits Perfeksionis gewillig is om aan sy selfgesprek aandag te gee. ’n Goeie plek om te begin is met ’n hele klomp waaroms. Perfeksionis moet sy reëls wat sy lewe beheer weer ’n slag deurdink en vra waar­om hy daardie reëls as so belangrik sien dat dit sy hele lewe reël. Wat is vir hom regtig belangrik en waarom? Sal die ewige raads­plan van die wêreld in duie stort as die bank in die sitkamer skeef staan? Sal hy ’n slegter mens wees as daar ’n stof-fie op die sitkamertafel lê? Waarom is dit wat hy het nie genoeg nie en wil hy steeds beter en meer hê?

Praat met ander oor jou verwagtings en toets dit aan hulle opinie. Probeer dan jou oordrewe gedagtes en gevoelens met meer gematigde gedagtes vervang. Dit sal nie noodwendig gou gaan nie; dit kan ’n proses word wat ’n jaar of meer duur. Jy moet onthou dat lewenspatrone oor jare in ’n mens vasgelê word. Dit verander nie sommer net oornag nie. Jy moet dus ywerig aan jou selfgesprek werk en so deur jou self­gesprek en die raad van ander ’n pad loop wat jou uit die doolhof van perfeksionisme sal lei.

Skrywer:  Prof Jan van der Watt

image_pdfimage_print