Alle Paaie lei na Jesus: Israel, Volke, Kerk: Die Ou Testament (2)

image_pdfimage_print

Alle Paaie lei na Jesus: Israel, Volke, Kerk: Die Ou Testament (2) – Adrio König

8.1.2 Israel

Israel was in ’n unieke verhouding met die Here. Hulle het in ’n besondere sin hulle hele bestaan aan Hom te danke. Hulle is geroepe om soos Hy heilig te lewe (Lev 11:44, 45), wat onder andere beteken het om afgesonder van die heidene te leef sodat hulle nie aan die heidene se sonde sou deel hê nie, veral aan hulle afgodsdiens. Die verbod op ondertrouery met ander volke is ’n goeie voorbeeld. Dit sou Israel deel gegee het aan die sonde van hierdie volke. Die ondergang van koning Salomo deur sy baie heidense vroue is ’n klassieke voorbeeld.

Daarom was daar in die geskiedenis van Israel baie bepalings oor wie deel van die volk mag word (Deut 23:2-8; Rig 2:1-3:6), en ná die terugkeer uit die ballingskap selfs die insident toe al die vreemde vroue en hulle kinders weggestuur is (Esra 10). Van die begin van hulle bestaan was ander volke vir hulle ’n bedreiging. In Egipte moes hulle veg vir hulle lewe. By die intog in Kanaän in moes hulle volke voor hulle verdryf om ’n land te kry. En die bedreiging deur vyandige volke het nooit opgehou nie.

 

Eintlik het dit ná Dawid hoe langer hoe erger geword sodat hulle in die eeue voor Christus omtrent nooit ’n vry volk was nie. Ook in Jesus se tyd was hulle onder Rome se heerskappy. Dit is dus begryplik dat daar in die Ou Testament sterk uitsprake teen vreemde volke is. Hulle is as ’n dodelike bedreiging beskou, veral vir Israel se verhouding met die Here. In Deuteronomium is daar voorbeeld op voorbeeld van hoe Israel tydens die intog in Kanaän die volke moes uitwis (7:15-26; 25:17-19). Dit is dan ook nie vreemd nie dat daar hoe langer hoe meer sterk oordeelsuitsprake teen die volke kom. Die Here sal die konings van die aarde “bymekaar bondel en in ’n gat toesluit”, “die volke gaan ’n kalkbrandery word, hulle gaan aan die brand gesteek word soos afgekapte doringbosse” (Jes 24:22; 33:12). Sommige profete het hoofstukke vol oordeelsuitsprake teen bepaalde volke (Jes 13-23; Jer 47-51).

 

Dit is dus begryplik dat Israel hoe langer hoe meer uitgesien het na die koms van die Messias, ’n koning in Dawid se styl, wat die heerlikheid van Israel sou herstel soos dit in die groot koning Dawid se tyd was. Dit is ook die profesieë wat hulle oor die Messias gehad het.

 

Maar dit bring ’n interessante saak na vore. Selfs in hierdie swaar tye het hulle steeds die perspektief behou dat daar ’n nuwe tyd sou kom, ’n tyd waarin die volke na Jerusalem sou stroom om daar die Here saam met hulle te kom dien, en só deel te ontvang aan die heil. ’n Mens sou eerder verwag dat hierdie perspektief heeltemal sou verdwyn in die lig van hulle swaar geskiedenis met ander volke. Maar hierdie perspektief op die ander volke was diep in hulle geskiedenis ingegraveer. Hulle het dit saamgebring van die tyd van hulle stigters, Abraham en Sara, af. Toe die Here Abraham geroep het, het Hy hom nie uit sy heidense familie weggeneem om sy familie en die ander volke te vergeet nie. ’n Wesenlike deel van die belofte aan Abraham was: “In jou sal al die volke van die aarde geseën wees” (Gen 12:3).

 

Dit het meegebring dat Israel in beginsel ’n oop volk was, en dat vreemdelinge toegang tot hulle volkslewe kon kry. Daar is wel nie baie voorbeelde nie, maar daar was dalk veel meer wat eenvoudig nie opgeteken is nie. Naäman die Siriër word wel nie deel van Israel soos “die menigte mense van ander afkoms”, Ragab, die Gibeoniete en Rut, nie (2 Kon 5; Eks 12:38; Num 11:4; Jos 6:25; Jos 9; Rut), maar hy aanvaar die Here as sy God wat hy terug in sy eie land sal gaan dien.

 

AllePaaieLeinaJesusMense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

 

 

Skrywer:Prof Adrio König

image_pdfimage_print

You may also like...