Waar is God as ons swaarkry?

image_pdfimage_print

Envy is sorrow at another’s good – Thomas van Acquino

Waar is God as ons swaarkry?

Philip Yancey se nuwe boek, The Question that Never goes away, het onlangs verskyn. Die vraag waarna hier verwys word is: Waarmee is God besig – of nie besig nie – in ‘n wêreld vol tragedies en pyn? Hy het vantevore ook oor hierdie onderwerp geskryf. Ek gaan ‘n paar blogs spandeer aan sy boek.

Daar is vandag baie pyn en lyding in die wêreld. Mense leef met chroniese pyn, siektes, depressie … Ander se pyn is as gevolg van hulle kommer oor ander: ouers met kinders wat aan dwelms verslaaf is; kinders met ouers met Alzheimer se siekte; ander wat swaarkry as gevolg van armoede en ongeregtighede; ens. Dan moet ons dink aan natuurrampe – aardbewings, vloede, tsunami’s – en ander dinge soos oorlog, geweld en terrorisme.  Waar is God as ons seerkry?

Hoekom laat God toe dat boosheid sy gang gaan? Watter goed, indien enige, kan daar uit sulke gebeure kom?

Ons wil weet hoekom sulke dinge gebeur? Ons wil iemand blameer en as ons nie weet wie nie, sê ons dit is optrede deur God – acts of God. Na die tsunami van 2004 in Asië skryf Heather MacDonald:  It’s time to boycot God. Hoe kan God passief sit en toekyk hoe mense hulle lewens verloor. Sy gaan dan verder: He gets credit for the good things and no blame for the bad. Ek is seker daar is baie mense wat net soos sy dink.

Een fout wat ons maak, is om tragedies te probeer kwantifiseer. Die feit dat meer mense in die tsunami in Asië gesterf het, maak die gebeurtenis nie meer tragies as dit wat by Marikana gebeur het nie. Daar is net individue wat lei en wonder waarom God dit toegelaat het. Dit is interessant dat hierdie vraag nooit aan ander godsdienste gevra word nie: Waarom laat Allah/Boeddha dit toe?

Ons moet respek hê vir ‘n God wat aan die mens die vryheid gee om Hom te verwerp, om sy Seun te kruisig en wat woorde van verwerping in sy Woord insluit:

  • Gideon praat met die engel en wil weet as God dan met ons is hoekom gebeur al hierdie vreeslike dinge met ons.
  • In die psalms kry ons ‘n oproep dat God tog wakker moet word: Here, hoekom slaap U?
  • Die Prediker sê dat alles tevergeefs is.
  • Jesaja sê dat God ‘n God is wat Homself versteek het.
  • Selfs Jesus wil weet waarom God Hom verlaat het.

Volgende keer gaan ons na die hoekom vraag kyk: Hoekom gebeur tragedies in die wêreld?

image_pdfimage_print

You may also like...