Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Huishoudelike Aktiwiteite(3)

image_pdfimage_print

Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Huishoudelike Aktiwiteite(3) – Hennie Stander

Aandete

Die aandete was die belangrikste maaltyd van die dag en dit is genuttig omtrent so twee ure voor sononder wanneer die mans reeds van hul werk of gekom het. Die warm temperature van die dag het dan reeds afgeneem en ‘n ontspanne atmosfeer het tydens die maaltyd geheers. Dit het terselfdertyd ’n geleentheid gebied vir die familie om saam te verkeer en stories te vertel.

Die ete self het bestaan uit lensiesop en brood  of groente (Daniel 1:12). Soms is ook vleis geëet en wyn gedrink. Die bloed is egter uit die vleis gedreineer voordat dit geëet is (Levitikus 7:26) en dit is ook nie saam met melkprodukte voorberei nie. Streng reëls het gegeld ten opsigte van dit wat geëet en dit wat nie geëet mag word nie (Levitikus 11).

 

bakbrood

‘n Bedoeienvrou is besig om brood te bak in ‘n groot skottel wat oor die vuur gekeer is.

 

Handvaardighede

‘n Belangrike aktiwiteit van die vrouens was om te spin en te weef ten einde klere vir die gesin te maak en dit ook vir verkope aan te bied. Die ideale vrou word in Spreuke 31 beskryf as een wat wol en vlas bymekaarmaak en dit met haar hande verwerk (vers 13). Sy spin, weef en maak klere (verse 19,21), sy maak dekens vir die huis (vers 22), en sy verkoop die res op die mark (vers 24). Terwyl sy hierdie werk doen, kon sy met ander vrouens en met die kinders gesels.

 

Wassery

Ons weet nie veel van Joodse higiëne nie, maar indien Batseba se optrede tipieswas, dan het persoonlike reiniging teen die aand se kant geskied (2 Samuel 11:2).Die normale huishouding het geen badkamer gehad nie. Daar is egter wel huise van rykes opgegrawe wat mooi badkamers gehad het. Dit was meer algemeen om ‘n vlak skottel van erdewerk te hë met ‘n rif in die middel vir ‘n mens se voete (sien die skets). As ‘n mens jouself behoorlik wou bad, moes jy dit in ‘n fontein of in ‘n rivier doen. Selfs Farao se dogter het in die rivier gebad (Eksodus 2:5). Die feit dat Mefiboset nie sy voete of sy klere gewas het tydens Dawid se afwesigheid nie, word as ongewoon voorgehou (2 Samuel 19:24). Daar is met loog en seep gewas (Jeremia 2:22 en Maleagi 3:2).

 

Dit was verder die gebruik om mense wat by jou besoek kom aflê het, se voete te was. Die feit dat Simon, die Fariseër, nagelaat het om dit te doen, is as ‘n belediging beskou (Lukas 7:44). Die Jode in die tyd van Jesus het gereeld hul hande voor ete gewas, maar dit is meer om seremoniële as om as om higiëniese redes gedoen (Matteus 15:1 ev).

voetewas

‘n Vlak skottel waarin die voete gewas is.

 

Skrywer:  Prof Hennie Stander

 

image_pdfimage_print

You may also like...