Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Oorlog(7) – JP Louw

image_pdfimage_print

INTERESSANTE BYBELGEDEELTES

Groot militêre verliese

Amos 5:3. Die uitdrukking “die stad wat met duisend gaan aanval hou net honderd oor en die een wat met honderd aanval hou net tien oor” is ‘n manier om te sê dat Israel volkome verslaan is. In tye van oorlog is almal opgeroep sodat daar in ‘n stad slegs enkele ou mense en gebreklikes oorgebly het as almal uitgetrek het om te gaan veg. As 90% dan verslaan en gedood is, beteken dit dat so ‘n stad so good as geheel en al verwoes is.

Getalle

Wanneer daar in die Bybel na groepe mense verwys word, moet ons die getalle wat aangegee word nie as presiese eenhede bereken nie. Dikwels is getalle baie groter as die werklik getelde aangegee om redes wat tans nog nie baie duidelik is nie. Dit kan of simboliese waarde gehad het om in plaas van te sê dat 337 mense teenwoordig was, te praat van ‘n duisend mense om aan te toon dat die getal teenwoordig baie was as mens die omstandighede in ag neem. Ander voorstelle is dat die manier van tel ‘n sisteem gevolg het baie anders was as waaraan ons vandag gewoond is-wat die sisteem ook al mag wees. Of, getalle kon met die oorlewering weens skryfwyses anders gelees word as wat oorspronklik bedoel is. In Rigters 5:8 lyk dit of die leer 40 000 man sterk was, terwyl Rigters 20:17 die getal op 400 000 stel. Sommige meen dat 5:8 verwys na vredestyd en 20:17 na ‘n tyd van oorlog toe alle reserwes opgekommandeer was. Die Nuwe Afrikaanse Vertaling gee 5:8 weer met “Israel se duisende soldate” wat die verskil onopsigtelik maak. Josua 4:13 praat ook van 40 000. Verder lees ons in 2 Samuel 24:9 dat Israel 800 000 weerbare manne gehad het en Juda 500 000, ‘n totaal van 1 300 000. In 1 Kronieke 21:5 is die getalle 1 100 000 vir Israel en 470 000 vir Juda. Vir Juda kon die verskil bloot afronding wees, maar vir Israel is die verskil te groot en hier het ons getalle wat vir dieselfde geleentheid aangegee word. Die “New International Version” vertaal in 1 Kronieke 21:5 soos volg: 1 100 000 ingeslote 470 000. Dit bring die totaal nader aan die 1 300 000 van 2 Samuel 24:9. Miskien kom die getalle van verskillende oorgelewerde lyste. Volgens 2 Konings 15:19-20 het die belasting per kop bereken neergekom op ‘n totaal van 60 000 persone wat ‘n totale bevolking van 800 000 kan gee. Het die 1 300 000 na die verloop van tyd so drasties verminder? Tydens die talle veldslae in die Ou Testament beskryf, is by baie geleenthede groot getalle soldate gedood, so baie dat die bevolking inderdaad kon verminder het, maar saamgetel moes hulle dan byna vernietig gewees het. Dit is besonder moeilik om met die getalle op sigwaarde berekenings te maak.

Oproepinstruksies

Deuteronomium 20:5-8. In hierdie gedeelte word interessante reëlings gegee oor die oproep van soldate om te gaan veg-veral die wat vrystelling gekry het. So, byvoorbeeld, moes iemand wat ‘n huis aan die bou is, eers klaarmaak. En die rede? Sodat ‘n ander nie sy huis oorneem en intrek nie. As iemand pas ‘n wingerd geplant het kan hy nie oorlog toe gaan voor hy van die eerste oes geëet het nie, want dalk sneuwel hy en ‘n ander eet die vrug van sy arbeid. ‘n Derde groep kry ook uitstel, naamlik verloofdes. Hulle moes eers na hulle getroud is, opgeroep word sodat ‘n ander nie die vrou kon afvat nie.

Skrywer:  Prof Jp Louw

 

image_pdfimage_print

You may also like...