Gelowiges het opgestaan

image_pdfimage_print

Gelowiges het opgestaan – Francois Malan

Danie vra:

Na aanleiding van Mat. 27: 51 – 53. Hoe moet ons dit verstaan? Jesus het die dood oorwin en het uit die graf opgestaan. Hier word egter gepraat van die grafte wat oopgegaan het en “gelowiges” het uit die grafte gekom. Was Jesus nie die eerste wat uit die graf opgestaan het nie? Ja, tog sê die teks verder dat ná Jesus se opstanding het hierdie mense gaan getuig.

Antwoord

Prof. Francois Malan antwoord:

 

Die 1983-vertaling se plasing van ‘n punt in die middel van vers 53 na uitgegaan, en begin met ‘n nuwe sin ‘Ná Jesus se opstanding,’ kan die indruk wek dat die gelowiges eerste opgestaan het, en na Jesus se opstanding in die stad ingegaan het. Daarby word die oorspronklike uitroep aan die begin van vs 51: ‘En kyk’ vertaal as ‘Op daardie oomblik’ – ‘n tydsaanduiding wat nie in die oorspronklike staan nie.  

 

Die 2014-vertaling, wat probeer om nader aan die oorspronklike taal te bly, vertaal soos volg:

 

           51 En waarlik die voorhangsel van die heiligdom is van bo na onder in twee geskeur, die aarde is geskud en die rotse is oopgebreek. 52 Die grafte is geopen en baie liggame van die ontslape heiliges is opgewek. 53 Hulle het ná sy opstanding uit die grafte gekom, in die Heilige Stad ingegaan en aan baie verskyn – dié vertaling plaas die opstanding van die gelowiges ná Jesus se opstanding.

 

‘n Letterlike vertaling van die Griekse woorde se volgorde is soos volg:

 

            51 En kyk! die gordyn van die tempel is geskeur van bo tot onder in twee en die aarde is geskud en die rotse is geskeur, 52 en die grafte is geopen en baie liggame van die ontslape heiliges is opgewek, 53 en uitgegaande uit die grafte ná die opwekking van Hom het hulle ingegaan in die heilige stad en hulle het verskyn aan baie.

 

 Die verlede tyd deelwoord ‘uitgegaande’ wat direk voor ‘na sy opstanding’ staan, pas beter by die selfstandige werkwoord ‘het hulle ingegaan’ – daarvolgens kon hulle saam met Jesus opgestaan het, of ná Jesus se opstanding uit die grafte gegaan en in die stad ingegaan het.

 

Matteus vra die aandag (‘en kyk!’) vir ‘n aantal wonderlike dinge wat gebeur het tydens Jesus se sterwe en opstanding as tekens. Die enigste tydsaanduiding is ‘ná sy opstanding.’

 

(i)             die gordyn wat van bo af skeur, is deur God geopen as toegang tot God vir almal, waar slegs die hoëpriester vroeër kon ingaan as bemiddelaar van die volk. Markus 15:38 plaas dit net na Jesus die laaste asem uitgeblaas het en voor die belydenis van die soldaat. Lukas 23:45 plaas dit tydens die drie uur duisternis (wat ook in Mt en Mk voorkom).    

 

(ii)            Aardbewing en rotse wat skeur is die eerste van baie wat deur Jesus voorspel is in Mt 24:8 as die begin van die nuwe tyd (en nie in die ander Evangelies voorkom nie). Volgens Mt 27:54 sien die soldate die skudding ‘en die dinge wat gebeur,’ wat nie noodwendig die opstanding van die gelowiges insluit nie. Die skudding en ‘die dinge wat gebeur’ kom nie in Mk en Lk voor nie.

 

(iii)           Of die grafte oopgegaan het tydens die aardbewing, of toe Jesus opgestaan het, kan nie met sekerheid uit die teks afgelei word nie.

 

(iv)          Dié wat opgewek is, volg die opwekkings uit die dood van byvoorbeeld die twaalfjarige dogtertjie van Jaïrus in Markus 5:42 en Luk 8:54; die jongman van Nain in Luk 7:14-15; en Jesus se vriend Lasarus in Johannes 11:43-44. Hulle is lewende getuies van Jesus soos Hy aan Martha in Johannes 11:25 sê ‘Ek is die opstanding en die lewe. Wie in My glo, sal leef, al het hy ook gesterf. Daarna het Hy Lasarus uit die dood opgewek. Jesus was dus nie die eerste persoon wat uit die doop opgewek was nie.

 

Reeds in die Ou Testament word vertel van opwekkings van dooies deur die Here op die gebed van sy dienaars: bv. die seuntjie van die weduwee van Sarfat in 1 Konings 17:22; en die seuntjie van die Sunemitiese vrou in 2 Kon 4:33-37. En na Jesus se opstanding, vgl. Dorkas/Tabita in Hand 9:40; en Eutiges in Hand. 20:10.

 

                        Na sy opstanding het Jesus aan sy dissipels en volgelinge verskyn, maar nie aan die ongelowiges nie. Maar die gelowiges wat ná sy opstanding in die stad Jerusalem aan baie verskyn het, was die lewende getuies van sy opstanding uit die dood, soos Lasarus se opwekking ‘n getuienis was, wat mense tot geloof in Jesus oortuig het (Johannes 11:45; 12:9). 

 

Skrywer: Prof Francois Malan

 

image_pdfimage_print

You may also like...