Geloofsvrae: Die kerk as nuwe skepping van God

image_pdfimage_print

Geloofsvrae: Die kerk as nuwe skepping van God – Adrio König

Die kerk as nuwe skepping van God (ekklesiologie van bo)

Om na die kerk van bo te kyk, beteken om na die kerk te kyk in terme van die ingryping van God in Jesus en die Gees. Dan kom ‘n aantal aspekte van die kerk na vore wat die kerk verrassend nuut maak, sodat dit duidelik word in watter sin die kerk inderdaad meer is as net die voortsetting van die Israel van die OT.

Die kerk is die voorlopige gestalte van die nuwe mens(-dom) wat God deur Christus aan die kruis geskep het, die vereniging van die mensdom wat deur die sonde verskeur is (Ef 2:15,16). Die kerk is ook die tempel van die Gees. Wat hierin nuut is, is nie die gedagte van ‘n tempel nie, maar die vergeesteliking van die tempel. In die OT was die letterlike tempel die woonplek van God waar die volk Hom veral tydens die feeste ontmoet het. In die NT is God se woonplek nou nie meer ‘n gebou nie, maar letterlik mense self, die gemeente as geheel, en ook die individuele lidmate afsonderlik (1Kor 3:16; 6:19; 2Kor 6:16; Ef 2:20-21; 1Pet 2:5). Dit beteken dat die kerkgebou nou net ‘n vergaderplek is, en nie `die huis van die Here’ genoem behoort te word nie. Iewers sê Paulus selfs met nadruk: God `woon nie in tempels wat deur mense gemaak is nie’ (Hand 17:24). Die heiligheid van die tempel (OT) word nou die heiligheid van die lidmate se lewens, en nie meer die heiligheid van ‘n gebou nie.

Die verwysing na die gemeente as die tempel van die Gees, bring nog ‘n faset na vore waarin die kerk meer is as die Israel van die OT. Die Gees het in die OT by geleentheid op sekere individue gekom om hulle vir ‘n spesifieke taak te bekragtig. Nou woon Hy in die gemeente soos Christus ook permanent onder ons kom woon het en God op die nuwe aarde by sy volk sal kom woon (Rom 8:9; Joh 1:14; Op 21:3). Dit beteken dat daar iets finaals in die kerk is, juis omdat dit ‘n eskatologiese werklikheid is, d.i.’n gestalte van die einddoel van God met die wêreld.

Om die tempel van God en die Gees te wees, het natuurlik sterk etiese implikasies. God is heilig en daarom moes die tempel as gebou heilig wees – d.i. aan God gewy. Die Gees is heilig, en daarom wil Hy in ‘n heilige woonplek leef. Dit beteken dat die kinders van God heilige lewens moet leef wat sowel beteken om vir God afgesonder en aan Hom toegewy te wees, as om eties heilig, sonder sonde te leef. Die gemeente word dan ook male sonder tal as `heiliges’ aangespreek (moderne vertalings gee dit gewoonlik weer met iets soos `afgesonder vir die Here’) en vermaan tot ‘n heilige lewe. ‘n Mens kry hierdie opdragte veral aan die begin van die briewe, en in die vermanende dele.

Een van die belangrikste nuwe beelde wat vir die kerk gebruik word, is `die liggaam van Christus,’ en daar is selfs mense wat meen dat `liggaam van Christus’ nie maar net nog ‘n beeld vir die kerk is nie, maar dat die kerk werklik Christus se liggaam is, d.w.s. die manier waarop Christus op aarde teenwoordig is. Ek meen dit is ‘n misverstand. Die feit dat Christus nou deur die kerk op aarde teenwoordig is, verhef nie die beeld van `liggaam’ tot iets anders as die beeld van bv. `die tempel van die Gees’ (wat weer beteken dat die Gees deur die kerk op aarde teenwoordig is) nie. Al hierdie beelde wys op die besondere verhouding tussen Christus (en die Gees) en die gelowiges.

Die beeld van liggaam van Christus sê inderdaad dat Hy deur die gelowiges op aarde woon en werk, dat ons sy hande en voete en stem is waarmee Hy sy werk op aarde wil doen. Dit bring ‘n ander faset na vore as die ander twee bekende beelde (volk van God en tempel van die Gees), en wel in die sin dat die ander twee eerder wys op die wyse waarop God en die Gees op aarde teenwoordig is en woon, terwyl liggaam van Christus dui op die wyse waarop Christus op aarde bestaan en werk.

‘n Mens is ‘n liggaamlike wese. Sonder ons liggame kan ons nie op aarde funksioneer nie. Dit plaas ‘n geweldige nadruk op die verantwoordelikheid van die kerk as liggaam van Christus. In hierdie sin sê die beeld `liggaam van Christus’ nie net dat die kerk meer is as Israel in die OT nie, maar is dit ook ‘n kragtige aansporing dat Christus deur ons iets in hierdie wêreld wil doen.

Daar is ‘n sterk uitspraak (Ef 3:2-6) oor die opname van heidene in die kerk, wat soms geïnterpreteer word as sou die kerk iets totaal nuuts wees. Dit gaan oor die unieke wyse waarop die heidene nou deel geword het van die volk van God. Die vraag is egter presies wat nuut is, die feit dat heidene toegevoeg is tot die volk van God, of die wyse waarop dit gedoen is. Dit is ‘n moeilike vraag, en daar is sterk verskille hieroor. Albei moontlikhede is taalkundig oop, en daarom moet ‘n mens na ander argumente soek.

Allereers is dit duidelik dat die kerk baie sterk aansluit by Israel van die OT. Daarop het ons reeds gewys. Tweedens kon Paulus beswaarlik bedoel het dat dit ‘n totaal nuwe gedagte is dat die heidene deel word van die volk van God. Die OT is vol daarvan dat die ander volke die Here saam met Israel sal dien (o.a. Gen 12:2; Jes 2:2-4; Miga 4:1-4; en verder heelwat verwysings in die Psalms dat alle volke die Here sal loof).

Dit laat die skaal dus swaai in die guns van die tweede moontlikheid: dat ‘n kerk wat uit Jode én heidene bestaan, nie iets totaal nuuts is nie, maar dat die besondere wyse waarop die heidene deel word van die volk van God nuut is (`soos … nou’ vers 5). In die direkte verband is die enigste aspek wat besonder beklemtoon word die driemaal herhaalde saam– (v 6). In die Grieks is dit opvallender as in die vertaling. Dit lui letterlik iets soos: die heidene het saam-erfgename, saam-liggaam en saam-deelgenote geword. Die OAV lui: mede-erfgename, medelede, mededeelgenote.

Die nuwe is dan nie die kerk as sodanig nie, maar die feit dat die heidene op presies dieselfde vlak as Israel inkom, nie by die agterdeur as tweedeklas burgers nie, maar dat hulle presies dieselfde toegang tot God het en presies dieselfde voorregte as die gelowige Jode geniet. Dit is trouens presies wat Paulus al sedert vers 13 in beeld na beeld beklemtoon.

Omdat die kerk nie net die voortsetting van Israel is nie, maar ook meer as Israel, word ook meer van die kerk verwag. Die nadruk om soos God en soos Christus te leef, is veel sterker as in die OT (28.3). Dit hoort ook so, want die gelowiges het nie meer net die moontlikhede wat hul eie lewe bied nie, maar dié van Christus se opstandingslewe.

 

Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.

 

Skrywer: Prof Adrio König

image_pdfimage_print

You may also like...