Geloofsvrae: Die nabyheid van Christus se wederkoms

image_pdfimage_print

Geloofsvrae: Die nabyheid van Christus se wederkoms – Adrio König

Die nabyheid van die wederkoms van Christus

Naas die aard van profesieë, moet ons ook iets weet van die nabyheid van Christus se koms voordat ons sinvol oor die tekens van die tye kan dink.

Al die belangrike tradisies in die NT beklemtoon die nabyheid van die wederkoms van Christus. Hierdie stelling kan egter misverstaan word. Dit beteken nie dat die hele NT ons leer dat die koms van Jesus juis nou naby is en iewers kort na die eeuwenteling moet plaasvind nie. Die NT leer met nadruk dat die koms van Jesus in die tyd van die NT naby was. Ons kan dit net op ons tyd toepas as ons eers verstaan wat dit beteken het vir die apostels en die vroeë Christene dat die koms van Christus alreeds in hulle tyd naby was.

Die groot aantal tekste wat volg, is net bedoel om te sê dat die hele NT beklemtoon het dat die koms van Christus alreeds in die tyd van die NT naby was (Mat 24:33; Luk 21:28,30; Mark 13:29; Rom 13:12; 16:20; 1Kor 7:29; Fil 4:5; 1Tes 4:17, 5:10; Heb 10:37; Jak 5:8-9; 1Pet 4:7; Open 1:1,3; 3:11; 22:7,12,22.) Dit is verder duidelik dat Paulus aanvanklik gereken het met die moontlikheid dat die Here nog in sy lewe weer sou kom (vgl die `ons’ in 1Kor 15:51; 1Tes 5:10).

Hoe naby?

Daar is heelwat Christene wat hierdie oorweldigende getuienis dat die koms van die Here toe al naby was, probeer wegredeneer. Dit is volkome begryplik omdat ons anders met die verleentheid sit dat Hy na 2000 jaar nog nooit gekom het nie.

  • Sommige probeer die indruk skep dat Jesus en die apostels eintlik nie oor hulle eie tyd gepraat het nie – al lyk dit so – maar oor ons tyd. Maar dit is duidelik ‘n verleentheidsoplossing.
  • Daarom het ander gesê die vroeë Christene was maar oorentoesiasties oor al die dinge rondom Jesus se dood en opstanding en daarom het hulle gedink dat sy koms naby was, maar dat die kerk na die koms van die Gees beter perspektief gekry het.

Die waarheid is egter dat hierdie oorweldigende nadruk dat sy koms alreeds kort na sy opstanding naby was, die sterkste getuienis lewer dat hulle verstaan het wat sy opstanding beteken het. Sy opstanding was die begin van die algemene opstanding wat aan die einde verwag is. Dan volg dit vanselfsprekend dat die einde by sy opstanding op hande moes wees.

Wanneer?

Intussen het Hy nog nie weer gekom nie, en elke poging om dit op ‘n goedkoop en maklike manier te verklaar, is eweneens ‘n verleentheidsoplossing. Daarom was daar selfs dié wat gemeen het dat ons eenvoudig moet aanvaar dat Christus nie weer sal kom nie, dat dit maar vreemde dinge was wat die vroeë Christene geglo het omdat hulle ‘n ander wêreldbeeld as ons gehad het. Hierdie `oplossing’ hang saam met die algemene weerstand teen die wonderwerke en ander `bonatuurlike’ verskynsels in die Bybel.

Daar is nie ‘n maklike, voor die hand liggende antwoord op die feit dat Jesus nog nie gekom het nie. Trouens daar het reeds onder die vroeë Christene vrae ontstaan oor die feit dat Hy na ‘n paar dekades nog nie gekom het nie (2Pet 3:3ev) – wat afdoende bewys is dat hulle Hom gou terug verwag het. Tot vandag het ons geen beter antwoord as die een wat in 2Pet gegee is nie: tyd werk anders vir die Here as vir ons. Wat vir ons ‘n vreeslike lang tyd voel, kan vir Hom baie kort wees. Maar die hoofmotief waarom Hy nog nie gekom het nie, is sy liefde vir sondaars wat beteken dat Hy vir mense tyd gee om hulle te bekeer.

Tot ons troos sou ‘n mens kon byvoeg dat die verskil tussen God se tydsbelewing en ons s’n al van vroeg af ‘n faktor was waarmee Israel rekening moes hou (Eseg 12:21-28).

 

Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.

 

Skrywer: Prof Adrio König

image_pdfimage_print

You may also like...