Geloofsvrae: Liefde

image_pdfimage_print

Geloofsvrae: Liefde – Adrio König

Liefde

Ons lei ons mensbeskouing af uit ons siening van God. Toe ons oor God nagedink het, het ons by sy liefde begin. Omdat ons as sy beeld geskape is, is dit dus voor die hand liggend dat ons by liefde sal begin as ons vra hoe God wil hê dat ons moet wees.

Ons moet liefhê soos Hy liefhet. Dit beteken nie dat ons liefde presies soos syne sal lyk nie. Ons liefde kan op sy beste analoog aan sy liefde wees. En wel om ‘n paar redes. Allereers is ‘n beeld (ons) nie identies aan dit wat afgebeeld word nie (God). ‘n Beeld het net ‘n mate van ooreenkoms met die afgebeelde. Maar tweedens is God so oneindig meer en ryker en anders as ons dat sy liefde ons s’n sekerlik ver sal oortref. Dink maar net aan die prys wat sy liefde Hom gekos het. Ons kan tog nooit so ‘n prys betaal nie.

‘n Terloopse opmerking is hier belangrik. Onderstreep die woordjie `moet’ in die eerste sin van die vorige paragrafie. Daar staan nie: Ons is liefde nie, maar: ons moet liefhê. Vergelyk dit nou met die bespreking van God se liefde. Daar word nie een keer gesê dat Hy moet liefhê nie, maar eenvoudig dat Hy liefhet of dat Hy liefde is. Waarom dié verskil? Omdat God is wat Hy bedoel is om te wees, omdat Hy getrou is aan sy wese, terwyl ons nie is wat ons behoort te wees nie. Ons is ontrou aan ons wese, aan dit wat God ons bedoel het om te wees. Dit is ons sonde. Daarom weet ons ook nie goed wat ons eintlik bestem is om te wees as ons dit nie by God leer nie. As ons net na mense kyk en die manier waarop hulle mekaar behandel, weet ons eerder hoe ons nie moet wees nie. Daarom vra ons vir God wie en hoe Hy is, én wie en hoe ons as sy beeld behoort te wees.

Omdat ons sy beeld is, moet ons iets van sy lewenswyse reflekteer. Omdat Hy liefde is, moet ons in liefde leef.

Al sal daar ook groot verskil wees tussen sy liefde en ons s’n, is die eerste saak wat nou ons aandag vra, die ooreenkoms. Ons moet liefhê omdat God liefde is.

Dink vir ‘n oomblik aan die opvallende ooreenkoms: God is liefde, en ons moet Hom liefhê én ons naaste liefhê (Jesus se opsomming van die wet). Omdat ons mensbeskouing in ons siening van God gefundeer is, is ons liefde in sy liefde gefundeer. Of soos Johannes sê: `Ons het lief omdat God ons eerste liefgehad het,’ en `die liefde kom van God’ (1 Joh 4:19,7).

God is wesenlik liefde. Dit is nie so dat Hy onafhanklik van sy liefde bestaan én dan sy liefde agterna kan byvoeg nie. Die twee uitsprake: God is, en God is liefde, sê presies dieselfde.

As ons sy beeld is, geld dit ook van ons. Dan is liefde wesenlik om regtig mens te wees soos God ons bedoel het. Dan is liefde nie iets lofwaardigs wat ons tot ons lewe kan toevoeg om dit nog ryker en mooier te maak nie. Dan het ons lief, of ons leef nie menswaardig nie. Die alternatief op: `Lewe in liefde’ is: anders lewe julle nie regtig nie (Ef 5:2).

Wat is ons liefde? Allereers is ons liefde ‘n beweging weg van ons na ander terwille van hulle. Dit lees ons af uit God se liefde vir ons. Sy liefde het Hom op ander gerig, op ons, om na ons behoeftes om te sien, om ons te behou. Omdat ons sy beeld is, moet ons liefde ook op ander gerig wees, nie op onsself nie. As God se liefde op Homself gerig was, was ons nie verlos nie.

Verder is God se liefde ‘n beweging na onder, na die wat minder is as Hy, na ons wat dit nie verdien nie, wat dit selfs verwerp. Omdat ons sy beeld is, moet ons liefde ook na onder gaan, na die wat minder is en het as ons, na die wat in nood is. Dis lekker om vir die dominee ‘n mandjie lekkernye te vat (die dominee geniet dit ook!), maar wat van die arm mense, die kinderhuis of ouetehuis?

Waarom moet ons ander liefhê? Wel, waarom het God ons lief? God het ons nie lief oor wat ons is nie, maar oor wie Hy is. Ons is nie so aangenaam of waardig dat ons Hom beweeg om ons lief te hê nie. Hy het ons trouens eerder lief ondanks onsself. Hy het ons lief net omdat Hy ons wil liefhê. Hy motiveer self sy liefde vir ons. Daarom kan Hy onwaardiges liefhê, selfs mense wat sy liefde verwerp. Sy liefde hang nie van ons af nie, maar net van Homself. Dit mag dus nie ‘n vraag by ons wees of ander ons liefde werd is nie. Ons mag hulle nie terwille van hulle waarde liefhê nie. Terwille waarvan dan?

Die dwaling lê voor die hand om te sê: Soos God self sy liefde vir ons motiveer, moet ons ook self ons liefde vir ander motiveer. Soos Hy ons net terwille van Homself liefhet, moet ons ander net terwille van onsself liefhê. Immers dit gaan om analogiese liefde, ons moet liefhê soos Hy. Maar enige analogie is nie goed genoeg nie. As ons self ons liefde moet motiveer, sal ons nie liefhê nie – behalwe vir onsself, en selfliefde sal ons onder die sonde behandel! (39.5)

Genadiglik neem Hy altyd die inisiatief. Dit is een van die wesenlike kenmerke van die verbond (10.1 en 27). Daarom moet ons ander liefhê omdat Hy hulle liefhet. Soos Hy self sy liefde vir ons motiveer, motiveer Hy self ook ons liefde vir ander. Dit beteken dat ons ander moet liefhê al verwerp hulle ons liefde.

En dan is daar nog ons liefde vir Hom. En hier is die een uitsondering op die reël, wat egter tegelyk ook die reël bewys. Tot dusver het die voorwerp van die liefde nie die liefde gemotiveer nie. Die persone wat ons moet liefhê, hoef nie ons liefde te verdien nie, net soos die persone wat God liefhet, ook nie sy liefde verdien nie. Maar as ons God liefhet, verdien die Voorwerp van ons liefde duisend maal dat ons Hom sal liefhê! Ons het Hom lief oor wat Hyself is. Ons motiveer nie ons liefde vir Hom nie, Hy motiveer ons liefde vir Hom. Hy is meer as wat ons ooit kan besef. Maar wat ons van Hom besef, gee ons alreeds meer as genoeg rede om Hom lief te hê met alles wat ons is en het.

Terloops, die feit dat ons so traag is met ons liefde vir Hom, is deel van die onbegryplikheid van die sonde (40).

Dit beteken dat die reël bevestig is: God motiveer self alle vorme van liefde: sy liefde vir ons, ons liefde vir ander, en ons liefde vir Hom. Dit bevestig wat Johannes geskryf het: `Die liefde kom van God,’ en: `Ons het lief omdat God ons eerste liefgehad het’ (1 Joh 4:7,19).

 

Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.

 

Skrywer: Prof Adrio König

image_pdfimage_print

You may also like...