God as Moeder – Hermie van Zyl

image_pdfimage_print

Anel vra:

Ek hoor al hoe meer dat daar in eredienste na God die Vader, ook as na God die Moeder verwys word. Waar kom dit vandaan? God Self, Jesus, sy dissipels en die apostels praat tog van God die Vader, Seun en Heilige Gees? Mede-leke verklaar dit as dat God nie in die Bybel die patriargale bootjie van die tyd wou skud nie, by wyse van spreke. Maar is God dan nie God nie? Die evangelie is reeds so radikaal, hoekom sou Hy dan nie ook hierdie oënskynlike seksisme kon aanspreek as Hy wou nie? Is ek te outyds?

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Die tendens om (soms) na God as Moeder te verwys, hang saam met ’n breër benadering tot die Bybel waarin daar doelbewus probeer word om inklusief te lees en te vertaal. Ons moet onthou dat die Bybel in ’n man-gesentreerde kultuur en konteks ontstaan het, en hierdie omgewing het “afgeskuur” op die inhoud van die Bybel. Om net een aspek te noem: As Paulus sy briewe skryf aan die gemeentes spreek hy net die broers aan (dis wat daar letterlik in die Grieks staan), hoewel kennelik die hele gemeente bedoel word – vergelyk byvoorbeeld 1 Korintiërs 1:10-11,26; 3:1 in die 1983-Afrikaanse Vertaling. As hierdie selfde verse egter in ’n vryer vertaling gelees word (soos bv die Nuwe Lewende Vertaling), merk ’n mens op dat meer inklusief vertaal word: “boers en susters”. So word probeer om die paternalistiese taal van die Bybel te versag met die oog op ons eie konteks vandag. En daar is niks mee verkeerd nie, want ons leef in ander tye waar dit baie belangrik is om die boodskap tuis te bring dat almal ingesluit word by die heilsboodskap van die Bybel. Selfs in die Bybel is hierdie tendens reeds waarneembaar (hoewel mens bietjie “tussen die reëls” moet lees), wat vir daardie tye revolusionêr was. So lees ons byvoorbeeld in Galasiërs 3:28 dat daar in Christus nie meer man of vrou is nie, maar dat almal één is (= gelyk is voor God). En wanneer Paulus in Efesiërs 5 raad gee oor die huwelik, gee hy spesifiek aan die man die opdrag om sy vrou lief te hê soos Christus die gemeente liefgehad het (v25). Iets wat vir daardie tyd eintlik ondenkbaar was, omdat die verhouding tussen man en vrou in die huwelik nie ingevolge liefde verstaan is nie maar as ’n saaklike familiereëling.

Bogenoemde is genoeg om die benadering te illustreer waarmee ons vandag die Bybel lees en interpreteer. Maar hierdie benadering het nie net te make met vertaling nie, maar beïnvloed ook die manier waarop ons na God kyk. Ons verstaan van God ondergaan ook aanpassings en verandering, sonder om die wesenseienskappe van God geweld aan te doen; trouens, dit bring juis die wese van God beter na vore, of dit belig aspekte van God wat voorheen misgekyk is. Want ons moet onthou dat die manier waarop die Bybel oor God praat, eintlik in beeldspraak gehul is. Wanneer God as Vader, Seun en Heilige Gees voorgestel word, is dit eintlik menslike pogings om die wese en aard van God vas te vang. Die Bybel gebruik as ’t ware aardse begrippe-apparaat om dit wat eintlik onsêbaar is, te beskryf. “Vader” en “Seun” is maniere om iets te sê oor hoe God is – dat Hy skep, voortbring, versorg, beskerm en beplan (Vader), maar ook dat Hy aan sy eie wese gehoorsaam is, naamlik dat Hy as Seun die wil van die Vader getrou uitvoer (vgl Joh 5:19,30; 8:28). Daarom is daar ’n innige en onverbreekbare eenheid tussen God die Vader en God die Seun; hulle is inderdaad ’n Goddelike Twee-eenheid. En as mens die Heilige Gees byvoeg, dan word dit die Goddelike Drie-eenheid, soos die kerk later bely het.

Teoloë noem hierdie manier van praat oor God antropomorfe spreke, dit wil sê daar word op ’n mensvormige manier oor God gepraat. Ons kan nie anders as om dit te doen nie, want ons is gebonde aan tyd, konteks, kultuur en taal, ook in ons heiligste uitinge, byvoorbeeld wanneer ons oor God praat. Dit beteken nie dat God ’n blote projeksie van menslike denke is nie; wat in die Bybel staan is ook geopenbaarde kennis, maar dit bly Gods Woord in mensetaal. Die Bybel se antropomorfe spreke oor God is dus enersyds outentieke openbaring; dit lê die ware hart en wese van God bloot. Maar andersyds is dit beperkte spreke; God is baie meer as daardie spreke, ook wanneer Hy Vader en Seun genoem word.

Iets van hierdie “baie meer” kry ons inderdaad in die Bybel wanneer daar met ontoereikende taal uitgereik word na wie God eintlik is. Paulus probeer iets hiervan uitdruk in Romeine 11:33 waar hy die lof van God besing as die Een wat ondeurgrondelik is in sy oordele en onnaspeurlik in sy weë. Hy is inderdaad baie meer as die beelde wat ons van Hom het. 1 Timoteus 6:16 sê ook dat God alleen onsterflikheid besit, dat Hy in ontoeganklike lig woon, dat niemand Hom gesien het of kan sien nie. Die wyse waarop die Bybel vir God voorstel is daarom weliswaar betroubaar, maar ook ontoereikend, gehul in die benaminge en beelde wat destyds vir die Bybelskrywers beskikbaar was en wat in hulle leefwêreld sin gemaak het.

En die leefwêreld van destyds was man-georiënteerd, daarom is die beelde ook hoofsaaklik manlike beelde. Maar tog is daar hier en daar voorstellings wat die vroulike en moederlike aard van God uitbeeld. Dink maar aan Jesus wat aan die inwoners van Jerusalem sê: “Hoe dikwels wou Ek julle bymekaarmaak soos ’n hen haar kuikens onder haar vlerke bymekaarmaak, maar julle wou nie” (Matt 23:37). Op sy beurt gaan hierdie beeld terug na die Ou Testament waar gepraat word van mense wat hulle beskerming vind onder God se vleuels (Rut 2:12; Ps 17:8; 57:2; 61:5; 63:8; 91:4). Hierdie beeld het ook te make met die moeder-hen wat haar kuikens onder haar vlerke beskerm. En, duideliker kan God se moederlike besorgdheid en beskerming nie uitgedruk word nie as in Jesaja 66:12-13 waar sprake is van God wat sy kinders sal versorg soos ’n moeder wat haar kinders aan haar laat drink, en God wat sy kinders veilig sal laat voel soos wanneer ’n ma haar kinders vertroetel op haar skoot. En in Jesaja 49:15 herinner die Here Israel dat Hy soos ’n moeder is wat nie haar kinders kan vergeet nie, wat haar sal ontferm oor haar baba wat sy in die wêreld gebring het. Hierdie beeld van God wat soos ’n vrou geboorte gee, kom ook voor in Numeri 11:11-12, Deuteronomium 32:18 en Psalm 90:2. En in Hosea 11:3-4 word gesê dat God soos ’n ma is wat haar kinders versorg en leer loop het. Selfs Paulus neem hierdie gedagte oor as hy in 1 Tessalonisense 2:7 sê dat hy sagkens met die Tessalonisense omgegaan het, soos ’n ma haar kinders vertroetel. Geen wonder nie dat die psalmdigter in Psalm 131:2 kan sê dat hy rus, kalmte en tevredenheid by God gevind het soos ’n kindjie tevredenheid by sy moeder gekry het.

Hoewel die manlike beelde en beskrywings van God in die Bybel oorheersend is, hoef ons dus nie net in manlike en vaderlike terme oor God te dink nie. God is inderdaad ook moeder. Trouens, ons kan sê dat die moederlike beelde van God ook die vaderlike beelde interpreteer; dit sê watter soort vader God is. Want vaders – soos moeders – kan hard en wreed wees. Maar God is nie so ’n vader nie. Die manier hoe sy vaderskap in die Bybel geteken word, is een van die ideale vader. Hy is veral genadig, barmhartig en liefdevol (Ps 103:8-14). As Vader openbaar hy die teenbeeld van wat so dikwels in aardse vaders waarneembaar is. Hy is besorg, Hy sluit almal in (ook die randfigure van die samelewing), Hy is vol erbarming en vergewe maklik. Hy is nie die tipiese ongenaakbare oud-oosterse vader-figuur nie. Nêrens word dit beter uitgedruk as in die gelykenis van die verlore seun nie (Luk 15) – daardie vader wat kan vergewe en sy seun weer as seun in ere herstel. So ’n vader is God by uitstek. ’n Mens kan amper sê: God is tipies moederlik in sy vaderskap.

Ek dink nie ’n mens moet oorboord gaan met die moederlike kant van God en dit weer ten koste van sy vaderskap beklemtoon nie. Ons kan maar rustig met die manlike en vaderlike beelde van God voortgaan, want dit is soos die Bybel God inderdaad teken. Maar dan moet ons terselfdertyd onthou dat God se vaderskap juis so voorgehou word dat dit niks met die tipiese oud-Oosterse paternalisme en ongenaakbaarheid te doen het nie. Inteendeel, God word so beskryf dat dit ook sy moederskap insluit. Verder moet ons ook onthou dat selfs só God baie meer is as wat die beelde van vader en moeder oproep. Dis nie die geslagtelikheid van God wat vooropstaan in die Bybel nie, maar juis sy Andersheid. Waar Hy ook al voorgestel word as Vader of Moeder, lê die klem daarop dat Hy die Gans Andere is.

Skrywer: Prof Hermie van Zyl

image_pdfimage_print

You may also like...