God se genade vóór Christus – Hermie van Zyl

image_pdfimage_print

Willie vra:

Boodskapteks: Die geheimenis van God waarna Paulus in Efesiërs en Kolossense verwys (Ef 1:9; 3:3-9; Kol 1:26-27; 2:2), het betrekking. Kolossense 2 verwys na ‘n “volle boodskap”. Jode en nie-Jode het dus voordat God dit aan Paulus bekend gemaak het, nie geweet dat God ook nie-Jode sy kinders maak.

Kan u asseblief verduidelik hoe God se verlossing vóór Christus se koms gewerk het . Uit ‘n Joodse oogpunt het die arme heidene seker nie juis ‘n kans gehad nie. Kan dit wees dat daar in die Ou Testament aan heidene verkondig is hulle moet Jode word en die Joodse wette moet onderhou om gered te word?

 

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Die vraag gaan spesifiek oor die redding van die heidene (nie-Jode) in die OT (d w s voor Christus). Hierdie situasie is wesenlik dieselfde vir heidene (nie-Christene) vandag, m a w, is daar redding moontlik vir mense buite Christus, veral mense wat nog nie die evangelie gehoor het nie? Ek sal my egter bepaal tot die heidene in die OT bedeling voor die koms van Christus.

Alle mense is gemaak na die beeld van God, d w s as God se verteenwoordigers op aarde (Gen 1:26-27). Dit beteken dat almal kragtens hulle menswees ‘n ingeboude “aanvoeling vir God” (sensus Divinitatis) het, of, anders gestel, almal dra die “saad van godsdiens” (semen religionis) in hulle om. God het immers sy lewensasem in die mens geblaas (Gen 2:6); die mens beskik dus oor ‘n ingebore morele gewete, hoe swak ontwikkel dit ook al mag wees. Almal het die vermoë om te haat, lief te hê, “die regte ding te doen”, skuldig te voel, selfsugtig te wees, te vergewe – al die tipiese dinge van menswees, maak nie saak wanneer en waar jy gebore is nie. Daarom word die mense voor die tyd van die sondvloed (lank voor die wet van Moses bekend was) aanspreeklik gehou vir hulle sonde (bv Kain: Gen 4:7; die mense op die aarde: Gen 6:13). En regdeur die OT hou God die heidene verantwoordelik vir hulle dade en word daar oordele oor hulle uitgespreek (Am 1:3-2:3). Hoewel hulle nie die spesifieke wette van Moses het soos Israel nie, word hulle nie verskoon nie. Hulle is steeds toerekeningsvatbaar; hulle is mense wat na God soek (Hand 17:27) en hulle beskik oor ‘n algemene, ingeboude morele kompas waarvolgens hulle moet lewe. Dit is wel so dat mense merendeels hierdie ingeboude wet/gewete onderdruk en afgode in die plek daarvan stel (Rom 1:18-32). Nogtans staan God se wet in hulle harte geskrywe en het hulle ‘n gewete wat hulle aanspreek (Rom 2:14-16).

Geen mens kan hom/haarself dus voor God verontskuldig dat hulle nie weet wat God wil hê nie – dis die duidelike boodskap van die Bybel. Teoloë praat soms van hierdie “ingeboude kennis” van God as die algemene openbaring, en vervolgens ook van God se algemene genade. Mense weet genoeg van God om volgens sy wil te lewe, en almal ervaar sy genade dag na dag. Hy laat immers reën en laat die son skyn oor die goeies én die slegtes (Matt 5:45). Voorgenoemde word egter onderskei van God se besondere openbaring en genade. Dít is die bekendmaking van God se wil aan Israel deur die wet van Moses en die profete (met die gepaardgaande bemiddeling van God se genade deur die offerkultus), en in die tyd van die nuwe verbond deur Jesus Christus, asook die besondere belewing van sy genade deur die versoening wat Christus aan die kruis bewerk het (Heb 1:1-2). Dít is dan wat Paulus in Efesiërs en Kolossense bedoel as hy praat van die geheimenis wat vir eeue verborge was maar nou in en deur Christus bekendgemaak is – dat ook mense wat nie Jode is nie, deel kan word van die Godsvolk. Hulle kan nou op dieselfde manier die besondere kennis en genade van God bekom as wat die Jode in die OT bedeling gehad het.

Op hierdie punt is dit nodig om na die redding van die heidene in die OT bedeling te kyk. Dat hulle van die begin af deel was van God se genade-handelinge, staan soos ‘n paal bo water. Reeds aan Abraham sê God dat in hom (Abraham) al die nasies van die aarde geseën sal wees (Gen 12:3; 22:18). Die verbond met Israel is dus net ‘n “tussentydse maatreël”; God se eintlike bedoeling is al die nasies van die aarde. Dit sien ons bv in Jona se sending na Nineve. God is bekommerd oor hierdie heidense stad; hulle sonde skrei ten hemele, en Hy wil hulle kans gee om tot inkeer te kom. Dat met die koms van Jesus die heidene ingesluit word by die Godsvolk, is dus geen nuutjie nie, maar die vervulling van God se oorspronklike verbond met Abraham. God het nooit die heidene vergeet in die OT bedeling nie, maar het bloot êrens op ‘n punt begin – by Israel. Nie omdat hulle so voortreflik was nie; inteendeel, hulle was die geringste van al die nasies. Vir ons klink dit baie onregverdig dat een nasie so bo die ander bevoordeel word, maar dis bloot omdat ons dit vanuit menslike perspektief bekyk. God se handelinge is ondeelbaar, dis één. Sy handelinge met Abraham is reeds met die oog op die ganse menslike geslag; Hy sien in Abraham alreeds al die nasies van die aarde wat sy eiendom is. Die profeet Jesaja is ook duidelik daaroor dat God se handelinge met die komende Messias as ‘n lig vir die nasies bekend sal staan, tot by die uithoeke van die wêreld (Jes 42:1,6; 49:6; 60:1,3). Daarom dat in die NT genoem word dat wanneer die nuwe Jerusalem kom, die rykdom en luister van die nasies van die wêreld daarheen gebring sal word (Op 21:24-26). Almal word uiteindelik ingesluit by God se heil.

Dis vanuit hierdie allesomvattende Goddelike perspektief dat die historiese prosesse verstaan moet word. Die enigste manier waarop heidene in OT tye kon deel in die besondere openbaring en genade van God aan Israel (= redding), was om deel van Israel te word. En dit het van tyd tot tyd gebeur. So lees ons van Ragab, die Kanaänitiese vrou, wat opgeneem is in Israel omdat sy die verspieders gehelp het. Ook Rut, die Moabitiese vrou, word deel van Israel. Beide word voorouers van Jesus na die vlees, en as sodanig ingesluit in die geslagsregister van Jesus (Matt 1:5; vgl Jos 6:22-25; Rut 4). Met verloop van tyd het dit ook gevestigde gebruik geword dat heidene uit eie, vrye geloofskeuse deel kon word van Israel. Diesulkes is proseliete genoem as hulle besny is en volledig die wet van Moses onderhou het, maar Godvresendes of Godvereerders as hulle net meelopers was en nie al die wette van Moses kon of wou nakom nie. In die tyd van die NT was daar reeds groot getalle heidene wat óf volledig proseliete óf Godvereerders/Godvresendes was (vir lg kyk Hand 10:1-2). In soverre hulle deel was van Israel, het hulle dus gedeel in die redding van Israel.

Ander heidene wat nie op hierdie manier deel geword het van Israel nie (uiteraard die meeste), was steeds die voorwerp van God se genade. Hoe presies hulle gedeel het in God se redding, is nie duidelik nie, net soos dit vandag ook nie duidelik is nie hoe mense buite Christus om (dié wat bv nog nooit van Hom gehoor het nie) moontlik opgeneem word in God se redding. Deel van die antwoord is sekerlik om te aanvaar dat God almal oordeel volgens die lig wat hulle ontvang het. God is nie onregverdig nie. Daarom staan daar dat as jy oortree sonder dat jy geweet het wat reg of verkeerd is, daar anders oor jou geoordeel sal word as wanneer jy geweet het en nogtans oortree (Luk 12:47-48; vgl Jak 4:17; 2 Pet 2:21). So kan ons aanvaar dat die heidene in die OT nie geoordeel is of sal word volgens die besondere openbaring wat in die Tien Gebooie of die afgeleide wette van Moses gegee is nie. Miskien kan dit so gesien word dat hierdie wette eintlik net ‘n meer spesifieke vorm is van die innerlike wet van God kragtens mense se menswees, en dat hulle volgens hierdie innerlike wet geoordeel sal word. Ons kan hier ook verwys na die uitgebreide regstelsels wat in die antieke tyd onder bv die Babiloniërs, Grieke en Romeine voorgekom het. Ons gebruik in Suid-Afrika vandag nog die Romeinse regstelsel (in sy Romeins-Hollandse vorm) wat tot in antieke tye teruggaan – teken van die algemene openbaring en genade van God wat mense buite Israel verlig het.

Uiteindelik moet ons dus sê dat ons almal met Goddelike genade behandel word, want niemand kan in elk geval die wet van God – soos gegee deur Moses óf as algemene verligting – volmaak uitleef nie. Dít het Paulus reeds vir die gemeente in Rome gesê. Eers noem hy hoe sleg die heidene is (Rom 1:18-32), maar vir die Joodse Christene het hy ook nuus: ook hulle wat van oudsher God se wet gehad het, doen dieselfde verkeerde dinge as die heidene (Rom 2:1). Niemand kan dus sê dat hulle volkome volgens God se wet lewe nie, daar is nie een wat nie gesondig het nie (Rom 3:23-24). Gebore as heiden, Jood of Christen – ons leef almal uit sy genade. Maar dan gaan dit ook oor hoe ons op sy genade antwoord met ons lewens.

Skrywer:  Prof Hermie van Zyl

image_pdfimage_print

You may also like...