Lewe uit die dood

image_pdfimage_print

By blood and origin … I am Albanian. My citizenship is Indian. I am a Catholic nun. As to my calling, I belong to the whole world. As to my heart, I belong entirely to the heart of Jesus – Moeder Teresa

Lewe uit die dood

Hierdie is die opskrif van Efesiërs 2. Paulus se briewe is aan gemeentes wat meestal uit nie-Jode bestaan het, geskryf. Dit is ‘n vervulling van God se belofte aan Abraham: In jou sal al die volke van die aarde geseën wees (Genesis 12:3). Hy sê vir die Efesiërs dat hulle, net soos Israel in die Ou Testament, uit genade gered is: Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie (vers 8 – 9 ). Hy gaan voort om die ongelooflike transformasie wat hulle verlossing bewerkstellig het, te beskryf.

 

Paulus sê dat die beginpunt van Israel, sy eie en die nie-Jode se verlossing dieselfde was: Almal het gesondig, en het nie deel aan die heerlikheid van God nie (Romeine 3:23). Hy begin Hoofstuk 2 met hierdie stelling: Julle was dood as gevolg van julle oortredings en sondes wat voorheen julle lewenswyse gekenmerk het … So het ons trouens vroeër ook almal gelewe. Ons is deur ons sondige begeertes oorheers  (vers 1 – 3). Hulle was geestelik dood.

Wat is die antwoord op hulle dilemma? Die enigste antwoord was dat hulle deur die liefde en genade  van God lewend gemaak moet word. Hoe het God dit gedoen? Hy het ons saam met Christus lewend gemaak. Uit genade is julle gered (vers 5).  Christus se dood en opstanding was die basis van hulle verlossing.

Paulus herinner hulle dan aan wat hulle vroeër was (vers 11 – 12):

  • Sonder Christus;
  • Uitgesluit uit die burgerskap van Israel;
  • Ver van God af; sonder deel aan die verbond en die beloftes wat daarmee saamhang; en
  • Sonder hoop en sonder God in hierdie wêreld.

Hierdie is ‘n beeld van uitsluiting en vervreemding.

Maar deur Jesus Christus se kruis en die prediking van die evangelie het dinge verander – hulle is met God versoen (vers 13 – 14):

  • Maar nou is julle een met Christus Jesus;
  • Julle wat vroeër ver van God gelewe het, het nou naby gekom;
  • Deur sy liggaam te gee, het Hy die vyandskap afgebreek wat vroeër soos ‘n muur skeiding gemaak het; en
  • Christus is ons vrede.

God, deur Jesus Christus, het ’n nuwe mensheid geskep.

Wat is die eindresultaat van hierdie transformasie (vers 19 – 22):

  • Julle is dus nie meer ver van God af nie … maar medeburgers van die gelowiges.
  • Julle is dus …lede van die huisgesin van God.
  • In Hom sluit die hele gebou saam en verrys dit tot ‘n heilige tempel vir die Here, in wie julle ook saam opgebou word as ‘n geestelike huis waarin God woon.

Ongelooflik wat God in Jesus Christus in die mens doen. Geen wonder Paulus skryf aan Timoteus: Christus Jesus het in die wêreld gekom om sondaars te verlos (1 Timoteus 1:15).

image_pdfimage_print

You may also like...