God verdeel die mense

image_pdfimage_print

God verdeel die mense – Francois Malan

Deon vra: 

Volgens wat ons lees in die Bybel het die Here by Babel die mense verdeel. Soos wat ek dit vertolk was dit “verdeel” in taal en kultuur. As ek dit reg verstaan. Dan is dit verkeerd van ons as mens vandag om dit wat God verander het, geskei het te probeer terug verander deur te sê daar bestaan nie so iets soos verskillende mense en kulture en tale nie. Verstaan mooi ek is nie n rassis nie.

Antwoord:

Prof Francois Malan antwoord:

Die skrywer van Genesis plaas dikwels twee verhale na mekaar om verskillende tradisies en invalshoeke weer te gee. So is daar twee skeppingsverhale: 1:1-2:3 met as laaste skepping die mens, man en vrou, as God se verteenwoordiger, as beeld van God, deur wie sy aarde bewerk moet word en die diere regeer word, en die skepping loop uit op die instelling van die rusdag (die invalshoek van ‘n priester). Die tweede verhaal, 2:4-24, begin met die skepping van die mens wat die tuin moet bewerk en bewaak en aan elke lewende wese sy naam gee, daarna die skepping van die vrou, hulle ongehoorsaamheid en uitsetting uit die tuin (die invalshoek van ‘n landbouer).

So is daar ook twee verhale na mekaar oor die mense se verspreiding oor die aarde. In hoofstuk 9 word beskryf hoe die mensdom uit die een gesin van Noag ontwikkel het ná die sondvloed: die nageslag van Jafet versprei na die noorde in stamme en nasies elkeen met sy eie taal (v5); die nageslag van Gam versprei na die suide in hulle eie stamme en tale in hulle eie lande en onder hulle eie nasies (v20); die nageslag van Sem versprei in die middel tussen die ander twee, ook met hulle eie stamme en tale, in hulle eie lande en onder hulle eie nasies (v32). Uit die seuns van Noag het die stamme oor die aarde versprei volgens hulle herkoms onder hulle eie nasies (v32). Hulle word bekendgestel as almal familie van mekaar wat die opdrag van God aan die eerste mense vervul ‘wees vrugbaar, word baie, bewoon die aarde en bewerk dit’ (1:28). Die opdrag is aan Noag herhaal na die oorstroming van die aarde (9:1).

Genesis 11:1-9 beskryf egter die verspreiding van die mense as God se straf. God het gesê die mense moet oor die aarde versprei, maar hulle probeer bymekaar bly in die stad wat hulle vir hulleself bou. Hulle wil ‘n toring bou wat tot aan God se woning in die hemel raak en vir hulleself so ‘n naam maak. Adam en Eva wou ‘soos God wees’ (3:5,6), hulle eie god wees, so ook die mense van Babel. Die Here bring verwarring in hulle taal sodat die een nie die ander kan verstaan nie, en Hy verstrooi die mense oor die hele aarde, sodat die afstammelinge van Noag nie kan voortgaan met hulle anti-goddelike planne nie. Soos Adam en Eva ongehoorsaam was aan die woord van die Here, lei Babel se mense se poging om onafhanklik van God te word tot God se oordeel, met groot en voortdurende gevolge vir die mensdom.

Die woord babel beteken ‘poort van god’ maar dit word balal verwarring. In plaas van die pronkstuk van die mens se kultuur word Babel die groot simbool van die mens se mislukking, toe hy op sy eie en teen sy Skepper se opdrag begin bou. Daarmee eindig die voorgeskiedenis van die wêreld wat met hoofstuk 1 begin, en waarmee die skrywer verklarings probeer gee vir die mens se toestand.

Dwarsdeur die Bybel word Babilon gesien as die beliggaming van menslike hoogmoed en godloosheid, wat deur die Almagtige God veroordeel word (vgl. die spotlied van Jesaja 14:4,13-15; Jeremia 50-51). In Openbaring 18 is Babel die beeld van menslike trots en boosheid.

Vir Sefanja sê die Here: ‘Ek sal die volke verander, hulle lippe rein maak, sodat hulle almal My sal aanroep en soos een man (letterlik: met een skouer) My sal dien’ (Sef.3:9). Daarmee word ‘n einde aan die taalverwarring in die vooruitsig gestel.

Op die Pinksterdag, met die uitstorting van die Heilige Gees, praat Jesus se dissipels oor die groot dinge wat God gedoen het, en mense uit baie tale hoor dit in hulle eie taal, as ‘n teken dat elkeen wat die Here aanroep gered sal word (Handelinge 2:6-12,21).

Jesus bid vir almal wat tot geloof in Hom kom: ‘dat hulle almal een mag wees, net soos U, Vader, in My is en Ek in U, dat hulle ook in Ons mag wees, sodat die wêreld kan glo dat U My gestuur het’ (Johannes 17:21). En sy nuwe gebod aan almal wat in Hom glo is: ‘julle moet mekaar liefhê. Soos Ek julle liefhet, moet julle mekaar ook liefhê’ (Johannes 13:34).

Paulus sê vir die gemeentes in Galasië: ‘Deur hierdie geloof in Christus Jesus is julle nou almal kinders van God, want julle almal wat deur die doop met Christus verenig is, moet lewe soos mense wat aan Christus behoort. Dit maak nie saak of iemand Jood of Griek, slaaf of vry, man of vrou is nie: in Christus Jesus is julle almal een’ (Galasiërs 3:26-28).

Openbaring 21:26 voorsien dat die skatte en rykdom van die nasies in die nuwe Jerusalem ingebring sal word.

Die bestaan van volke en nasies word nie in die Bybel ontken nie, maar van die gelowiges word gevra dat hulle mekaar sal liefhê soos Christus ons liefgehad het, ook oor die grense van volk en nasie. Paulus sê: ‘…wat julle ook al doen, doen alles tot eer van God. Moenie aanstoot gee nie, nie aan Jode of aan Grieke of aan die gemeente van God nie (1 Korintiërs 10:31-32). Hy voorsien dat Jode en Grieke saam nagmaal gebruik. Dit is ons gemeenskap met die bloed en liggaam van Christus. Al is ons baie lede, is ons een liggaam wat aan Christus behoort (10:16-17), kinders van een Vader, wat deur die Heilige Gees in elke gelowige woon (Efesiërs 4:4-6).

 

Skrywer: Prof Francois Malan

image_pdfimage_print

You may also like...