Goedkoop genade

image_pdfimage_print

The ultimate test of our spirituality is the measure of our amazement at the grace of God. —D. Martyn Lloyd-Jones

 

Goedkoop genade

Dietrich Bonhoeffer het na goedkoop genade verwys in sy boek The Cost of Discipleship. Elizabeth Eaton verwys na aanspraak maak op genade (entitlement grace). Goedkoop genade is ‘n groot vyand van die kerk en gelowiges.

Goedkoop genade beteken genade wat jy sommer op die mark kan koop. Dit word voorgehou as komende uit die kerk se tesourie. Uit hierdie tesourie versprei die kerk dan seëninge – sonder om vrae te vra of om grense te stel. Die redenasie is soos volg: die rekening is vooraf betaal en daarom kan almal dit kry – verniet.

 

Ons leef in ‘n kultuur waar mense voel dat dit hulle reg is om op sekere dinge aanspraak te maak. Het ons in die kerk nie genade so hanteer nie? Genade is tog nie iets waarop jy aanspraak kan maak nie – dit is ‘n geskenk wat net ontvang kan word.

 

Maar as daar iets soos goedkoop genade is, moet daar seker iets soos duur genade ook wees. Dietrich Bonhoeffer beskryf duur genade so:

Duur genade is die skat wat in die saailand weggesteek is. Hiervoor sal die mens alles wat hy het, verkoop.  Dit is soos die waardevolle pêrel waarvoor die handelaar alles wat hy het, sal verkoop. Hierdie is die heerskappy van Christus waarvoor ‘n mens alles sal opoffer. Dit is Jesus wat roep en daarvoor verlaat die dissipels hulle visnette.

 

Duur genade is die evangelie wat weer en weer gesoek moet word; die geskenk waarvoor gevra moet word; die deur waaraan die mens moet klop. Hierdie genade is duur, want dit verwag dat die mens Jesus Christus moet volg. Dit is duur, want dit het Hom sy lewe gekos; dit is genade, want dit gee aan die mens die enigste ware lewe. Dit is duur, want dit veroordeel sonde; dit is genade, want dit koop die sondaar vry. Dit is duur, want dit het die lewe van God se Seun geëis. As dit vir God duur was, kan dit tog nie vir ons goedkoop wees nie. Dit is genade, want God het nie gedink die lewe van sy Seun is ‘n te duur prys om te betaal nie. Duur genade is ‘n woord van vergifnis vir die gebroke  en berouvolle hart. Genade is duur, want dit dwing my om in Christus se juk te trek; dit is genade, want sy juk is maklik en sy las is lig.

 

So dikwels glo ons dat God ons genade skuld – ons kan daarop aanspraak maak. Kan ons werklik aanspraak maak op vergifnis sonder opregte berou en belydenis? Glo ons werklik dat ons vrygekoop moet word sonder heiligmaking? Leef ons soos mense wat geregtig is op al die voordele van genade sonder dat God ons kan gebruik om genade vir ander aan te bied?

 

 

image_pdfimage_print

You may also like...