Grade van geloof – Hermie van Zyl

image_pdfimage_print

Giepie vra:

Watse grade van geloof kry mens?

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Die vraag impliseer ‘n algemene wanpersepsie oor geloof: dat geloof ‘n goeie werk of prestasie van die mens is. En soos wat mense verskil – almal het nie dieselfde vermoëns nie en presteer gevolglik verskillend – so is daar dan ook verskillende grade van geloof. Die een se geloof sal dan sterker wees as die ander s’n, en daarom is party mense beter gelowiges as ander, of word as voorbeelde van sterk geloof voorgehou wat ons moet nastreef.

Hierdie opvatting van geloof vind nogal “steun” in die Bybel, ten minste as sekere tekste op ‘n bepaalde (verkeerde) manier verstaan word. Kyk na die volgende voorbeelde:

  • Die dissipels vra Jesus om vir hulle meer geloof te gee (Luk 17:5). So asof hulle graad van geloof onvoldoende is om Hom te volg. Hulle het daarom meer geloof nodig. Waarop Jesus antwoord (v6) dat mens nie “meer” geloof nodig het nie, maar bloot die geloof van ‘n mosterdsaadjie benodig. (Mosterdsaad was die kleinste soort saad wat daar was, maar het uiteindelik tot ‘n groot boom gegroei, Matt 13:31-32.) Die bedoeling is: dit gaan nie oor hoe groot jou geloof is nie – dit kan maar klein wees, soos ‘n mosterdsaadjie – maar oor in Wie jy glo.
  • In Matt 15:28 sê Jesus aan die Kanaänitiese vrou: “jou geloof is groot …”, waaruit mens die afleiding sou kon maak dat daar verskillende soort geloof is: klein en groot. Jesus beloon dus haar groot geloof deur haar te help. En dit sou dan die rede wees waarom Hy ander wie se geloof nie groot genoeg was nie, nie gehelp het nie. Die punt is egter eerder: Jesus was beïndruk met die feit dat sy, ten spyte daarvan dat Hy haar eintlik bietjie afgesit het (kyk v24,26), nogtans volhard het om te glo dat Hy haar sal help. Jesus “beloon” haar vertroue in Hom, nie haar sterk geloof nie.
  • ‘n Soortgelyke geval tref ons aan in Matt 8:10. ‘n Heiden – ‘n Romeinse offisier – vra Jesus om sy slaaf te kom genees. En die man aanvaar dat Jesus oor soveel gesag beskik dat Hy dit sommer oor ‘n afstand kan doen; Hy hoef maar net ‘n woord te spreek. Jesus prys daarom die offisier deur op te merk dat Hy, Jesus, selfs onder die Jode nie so ‘n groot geloof aangetref het nie. Dis egter nie ‘n “graad van geloof” wat die genesing veroorsaak nie, maar Jesus Self, wat reageer op die onwrikbare vertroue wat iemand in Hom
  • In 1 Kor 10:15 spreek Paulus die wens uit dat die Korintiërs se geloof sal toeneem, so asof ‘n mens se geloof eers klein begin en dan mettertyd groei en groter word (in graad toeneem). Maar wat Paulus bedoel, is dat hulle verhouding met en navolging van Jesus hegter sal word soos wat die tyd voortgaan. Dis dieselfde geloof as aan die begin, maar die vertroue in Jesus is deur verskillende omstandighede heen getoets, geslyp en verdiep.
  • Jesus noem die dissipels soms “kleingelowiges” (Matt 6:30; 8:26; 14:31), spesifiek in situasies waar hulle Hom nie vertrou het nie, terwyl hulle moes. Dis egter nie ‘n “graad van geloof” by die dissipels wat in iets anders of beter moet ontwikkel nie, maar bloot ‘n gebrek aan insig en vertroue in Jesus wat hier deurslaan. Die belangrike is, ten spyte van hulle kleingeloof is hulle steeds gelowiges en navolgers van Jesus en word hulle volledig deur Hom aanvaar.

Benewens hierdie Bybelse “voorbeelde” van “grade van geloof”, is daar ook nog ons populêre manier van praat, waar ons allerlei byvoeglike naamwoorde of bywoorde by geloof voeg, wat maak dat ons dink dat daar verskillende grade van geloof is. Ons praat byvoorbeeld van mense wat waarlik glo (teenoor mense wat maar net “gewoonweg” glo), of van iemand wat ‘n sterk geloof het, of iemand anders wat ‘n swak geloof het. Dis ‘n populêre manier van praat waardeur die wanopvatting versterk word dat daar verskillende soorte of grade van geloof is.

Die punt wat ek probeer maak, is dat ons die gedagte van “grade van geloof” heeltemal moet laat vaar. Dis ‘n verkeerde kyk na geloof; dit lei ons net op ‘n dwaalspoor. Dit plaas die klem en fokus op ‘n verkeerde plek. Hoekom? Omdat die aard van geloof sodanig is dat dit ‘n “leë” handeling is. Ja, dis wel die mens wat glo, maar geloof is nie ‘n menslike kapasiteit of prestasie wat ons vir God kan aanbied op grond waarvan Hy ons genadig moet wees nie. Geloof verwag eerder alles van God; dis gerig op God/Jesus. Paulus se stryd met die Jode van sy tyd was juis dat hulle gedink het dat godsdiens ‘n prestasie is, ‘n blink poets van jouself. En dan, as jy aanvaarbaar genoeg is, as jy die wet getrou genoeg nakom, dan sien God jou pogings raak en dan red Hy jou. Nee, dis menslike arrogansie. Dis ‘n manier van “handjie bysit” om God te probeer beïndruk. Dis juis nie menslike godsdienstige prestasie, of ‘n gebrek daaraan, wat bepaal of ‘n mens deur God aanvaar word of nie. Geloof is bloot ‘n instrument om die krag van God vry te laat of in werking te stel in jou lewe. Geloof is om afstand te doen van jou eie vermoëns, dis om weg te kyk van jouself en jou volkome te verlaat op dit wat Jesus kan doen. Hoe meer jy na jou eie vermoëns kyk, hoe swakker word jou geloof; hoe meer jy die oog op Jesus gevestig hou, hoe “sterker” word jou geloof, hoe meer vul Hy jou denke, wese, lewe. Dink aan Petrus toe hy op die see loop. Aanvanklik gaan dit goed, maar toe hy die wind en golwe sien, toe word hy bang en begin twyfel aan homself, en toe begin hy sink. Wat hy moes gedoen het, was net om die oog gevestig te hou op Jesus. Want dis Jesus wat op die water kan loop, nie Petrus nie. Geloof laat jou by wyse van spreke op water loop – nie omdat jy kan nie, maar omdat Jesus kan. Geloof vermag die onmoontlike, omdat dit God se krag vrylaat. Geen wonder nie dat Heb 12:2 sê dat ons in die geloofstryd alle laste moet afwerp en die oog gevestig hou op Jesus, die Begin en Voleinder van die geloof.

Hierdie Bybelse siening van geloof kan ook op ‘n ander manier verwoord word. Ja, ons kan wel sê dat ons deur geloof gered word, maar dit is ook nog vatbaar vir misverstand. Dis nie ons sterk geloof wat ons red nie. Nee, dis God/Jesus wat red. Maar Hy gebruik geloof om ons te laat afsien van onsself en volledig op Hom te laat vertrou. So gesien kan ons sê dat geloof nie die grond van ons redding is nie, maar wel die middel of instrument. Die grond of rede vir ons redding is God in Jesus Christus, deur die werk van die Heilige Gees. Geloof is maar net ‘n manier om daardie redding te omhels. Daarom dat ons sê dat geloof ‘n leë handeling is. Dis nie ‘n goeie werk van die mens waarvoor ons beloon word nie. As ons dus sê dat ons deur geloof gered word, is dit eintlik so dat ons deur-geloof-in-Jesus-Christus gered word. Dis die volledige bewoording. Dis Jesus wat red, nie ons geloof nie. Selfs waar die Bybel net die woordjie geloof gebruik, is die veronderstelling altyd dat dit oor geloof in Jesus gaan. Dís die volledige prentjie.

So gesien word die aard van geloof eintlik die beste uitgedruk deur die man wat vir Jesus vra om sy seun gesond te maak, as dit moontlik is (Mark 9:20-24). Toe sê Jesus: “Alles is moontlik vir die een wat glo.” Waarop die man uitroep: “Ek glo; kom my ongeloof te hulp”. Hiermee het die man eintlik alles van geloof gesê. Dis nie ons “sterk” geloof wat dinge laat gebeur nie. Ons hoef eintlik nie eens vreeslik te glo nie. Ons kan maar net na Jesus kom met ons “swak” geloof en selfs “ongeloof”. Solank ons net glo dat Jesus kan. Want Hy is die Een wat red, wat die verskil maak, nie ons sterk of swak geloof nie.

Laastens, waarom is dit so dat sommige gelowiges oënskynlik “beter vaar” as ander? Dis beslis nie omdat daar grade van geloof is nie. As dit waar is dat sommige gelowiges beter vaar as ander, is dit omdat hulle Jesus beter vertrou, omdat hulle toelaat dat Hy meer beheer oorneem van hulle lewe. Die gevolge van so ‘n beheer oorgee aan Jesus is altyd dat daar groter visie, geduld, volharding, liefde, erbarming, gehoorsaamheid – ja, die volle vrug van die Gees – in ‘n mens se lewe na vore kom. Dis nie omdat die een se geloof (as ‘n soort geestelike of persoonlike kwaliteit en inspanning) sterker is as ander nie, maar omdat daar meer op Jesus gekonsentreer word en minder op die self.

Skrywer: Prof Hermie van Zyl

image_pdfimage_print

You may also like...