Gemeentes wat mense uitstuur (1)

image_pdfimage_print

 

The man who has God for his treasure has all things in one – A. W. Tozer.

 

Gemeentes wat mense uitstuur (1)

  1. D. Greear en Mike McDaniel het pas ‘n klein e-boek gepubliseer: Sending capacity, not seating capacity. Dit gaan oor gemeentes wat mense in die wêreld uitstuur.

 

Om mense uit te stuur, klink goed op papier, maar ons het hier met ware mense wat gapings gaan laat as hulle weggaan, te doen. Maar, God bou sy koninkryk nie as ons aan mense vasklou nie, maar as ons hulle laat los. Die sleutel om die wêreld te bereik, is om mense te stuur. Elke gemeente is geroep om ‘n gemeenskap te bereik, maar die ware roeping van die kerk is nie om gelowiges bymekaar te maak nie, maar om dissipels te maak en dan uit te stuur.

 

Om te stuur is God se strategie om die Groot Opdrag van Matteus 28 te vervul. Maar om te stuur kos iets: ons moet die vrugte wat God aan ons gegee het, loslaat. Is dit moontlik? Wat help dit nou om gemeentes te plant en jou eie gemeente gaan dood? In die praktyk is presies die teenoorgestelde gevind. Nie alleen is dit moontlik om te stuur nie, maar dit help die gemeente wat stuur. Dit beteken nie dat dit maklik is nie. Dit skep spanning. Maar mettertyd glo mense dat om in die gemeenskap uit te reik, die gemeente sal laat groei.

 

Om te stuur klink goed, maar is dit die storie van elke gemeente? Is dit nie wat God vir elke gemeente beplan het nie? Is dit normaal of is dit die uitsondering? Om mense uit te stuur is vandag die uitsondering en nie die reël nie. Die Nuwe Testament skep ‘n ander beeld. Om gemeentes elders te plant is nie traumaties nie – dit is normaal en algemeen.  Lees net weer die boek Handelinge: die evangelie word verkondig; dissipels word gemaak; gemeentes word geplant; herhaal die proses. Om te stuur is in die materiaal van die kerk ingeweef.

 

Om te stuur is een van die dinge wat ‘n gemeente moet doen – soos dissipelskap en aanbidding. Wat nodig is, is ‘n kultuur van stuur. Jy kan ‘n kultuur van kerkplanting ontwikkel, maar as die kultuur van stuur nie teenwoordig is nie, gaan dit of nooit of selde gebeur.

 

image_pdfimage_print