Hiskia se gebed

image_pdfimage_print

 

The more empty I am, the more room is there for my Master. The more I lack, the more He will give me. —C.H. Spurgeon

 

Hiskia se gebed

In 2 Konings 19:14 – 19 lees ons Hiskia se gebed. Jerusalem word deur koning Sanherig van Assirië bedreig. Sy afgevaardigdes vertel vir Juda dat die gode van ander lande wat hulle verower het hulle nie kon beskerm nie. Hoe sal die Here hulle nou kon beskerm?

 

Hiskia se eerste reaksie was om vir Jesaja te vra om vir die volk te bid. Nou bid hy self. Hier sien ons iemand wat ten spyte van twyfel en vrees op die Here vertrou. Kom ons kyk na Hiskia se optrede:

  • Neem dit na die Here. Hiskia neem Sanherib se dreigbrief en sprei dit voor die Here uit in die tempel. Hy lê fisies sy las voor die Here. In die Bybel lees ons herhaaldelik dat ons ons las voor God moet lê en dat ons ons versoeke aan God bekend moet maak. Kom na God: hulpeloos en met ‘n behoefte aan genade. Ons doen dit nie, want ons glo ons sal alles self kan oplos – ons is selfgenoegsaam. As ons dink dat ons dinge op ons eie kan doen, is dit tog nie nodig om te bid nie! Ons moet besef dat ons niks sonder Jesus Christus kan doen nie.
  • Erken die grootheid van God. Hiskia sien die teenwoordigheid van God: U wat oor die gerubs troon.Hy erken God se eksklusiewe aard: U alleen is God. Hy erken God se oppermag: U alleen is God oor al die koninkryke van die aarde. Hy erken God se oneindige mag: U het die hemel en die aarde gemaak. Het ons so ‘n visie van God as ons bid? Het ons ophou bid omdat ons siening van God te laag is?
  • Gee die probleem aan God. Hiskia vra dat die Here moet luister en oplet. Hy vra dat die Here die spot van Sanherib moet hoor – hy  beledig vir God. Hy sluit ‘n klaaglied in. Hy vertel vir God van hulle ernstige toestand. Hy sê dat Assirië ander nasies en hulle gode oorwin het, maar dit was nie gode nie. Hiskia kla nie – hy neem sy probleem na God toe. Hy is hartseer oor die situasie en stort sy hart uit. Praat jou probleme uit in God se teenwoordigheid. In ons krisisse kla ons teenoor ander mense voor ons ons harte voor God uitstort. Laai jou laste af op die Een wat dit kan dra.
  • Soek God se hulp. God, red ons tog uit die mag van die Assiriese koning. Geen groot indrukwekkende woorde nie; kort en eenvoudig. Stel jou versoek aan God. Vertel vir die Vader wat jy as sy kind nodig het. God het die gebed van die tollenaar verhoor (Lukas 18:13).
  • Waardeer die heerlikheid van God. Die doel van die gebed is eenvoudig, maar belangrik: Dan sal al die koninkryke van die aarde besef dat U, Here, alleen God is. Hiskia bid nie net vir homself  of vir die volk nie, maar ook vir God se heerlikheid. Ons kry dit ook in die Ons Vader gebed. Is dit ook ons bede dat die heerlikheid van God oral bekend sal word?

 

Hiskia word deur die Assiriërs bedreig In plaas van beplan, hulp van elders soek, kyk hy na God. Gebed skakel nie die behoefte aan menslike oplossings uit nie, maar uiteindelik moet ons God vertrou. Natuurlik moet ons raad by ander gelowiges kry, maar niks moet ons afhanklikheid van God vervang nie.

 

image_pdfimage_print