Musiek in die Ou Testament

image_pdfimage_print

Our meat and our drink is to do the will of him who sent us – C. H. Spurgeon

Musiek in die Ou Testament

Musiek was ‘n integrale deel van die kultuur van die antieke Nabye-Ooste – ook die kultuur van die Israeliete. Dit geld reeds van lank voor die tyd van Dawid. Argeologiese opgrawings het onder andere figuurtjies wat verskillende musiekinstrumente bespeel en ratels, fluite en simbale opgelewer.

Daar is tekeninge van mense wat dans en allerhande musiekinstrumente bespeel, gevind. In Megiddo is vloerteëls ontdek waarop soldate, jagters, dansers en ‘n vrou wat ‘n harp bespeel, gekry is. Reeds in Genesis 4:21 lees ons van Jubal die stamvader van dié wat op die lier en fluit speel.

Onder watter omstandighede lees ons van musiek in die Ou Testament?

  • Oorlog

In Rigters 7 lees ons van Gideon se geveg teen die Midianiete. Hy gee aan elke groep ‘n ramshoring. Die teken vir die aanval was dat elke groep op die ramshoring sou blaas en erdekruike breek. Die vyand vlug. Nadat die Here die Israeliete by die Rietsee gered het, lees ons dat Mirjam ‘n tamboeryn gevat en al die vroue het met tamboeryne agternageloop en gedans (Eksodus 15). Nadat Dawid die Filistyne verslaan het, het die vroue van al die dorpe van Israel uitgegaan om te sing, en die danseresse het koning Saul tegemoet gegaan met tamboeryne en driesnarige musiekinstrumente (1 Samuel 18:6).

  • Aan die koninklike hof

Musiek was ook algemeen aan die koninklike hof. Ons lees van Dawid wat vir Saul op sy lier gespeel het wanneer die boosaardige gees op Saul was (1 Samuel 16:23). Die bejaarde Barsillai sê vir Dawid toe dié hom nooi om Jerusalem toe te kom; Kan ek nog die stem van sangers en sangeresse waardeer? (2 Samuel 19:35). As Amos God se oordeel oor die volk uitspreek, kla hy die ryk manne aan: Julle maak liedjies vir die harp. Julle dink vir julle  musiekinstrumente uit soos Dawid (6:5).

  • Profesie

Ons lees dikwels dat profesie en musiek saamgaan. Nadat Samuel vir Saul gesalf het, vertel hy vir Saul wat hy op sy terugreis kan verwag, onder andere dat hy op ‘n groep profete sal afkom: Hulle sal van die hoogte af gaan onder begeleiding van tamboeryne, fluite en liere (1 Samuel 10:5). In 2 Konings 3:15 lees ons: Terwyl die lierspeler gespeel het, het die mag van die Here vir Elisa in besit geneem.

  • In die tempel

Musiek staan sentraal in die aanbidding van die Here by die tempel. Hiervan getuig die psalms. In die psalms word dikwels verskillende musiekinstrumente genoem. Ook kry ons gereeld oproepe in die psalms om te sing: Sing, en slaan die tamboeryn, laat hoor die lieflike klanke van die lier en die harp (Psalm 81:3). In die opskrifte van die psalms kry ons ook aanduiding van musiek: Vir die koorleier: Op die wysie van “Lelies.” Van Dawid (Psalm 69).

  • Ander

Musiek was egter ook deel van die alledaagse lewe. Toe Jakob van Laban gevlug het, sit Laban hom agterna en sê vir Jakob: Ek sou jou laat vertrek het met ‘n fees en met liedere, met tamboeryne en met liere (Genesis 31:27). In Jesaja 16:10 – 11 lees ons: In die wingerde word nie meer gesing en gejubel nie.

Hierdie is natuurlik nie ‘n volledige oorsig nie, maar is voldoende om te wys dat musiek en sang deel was van die lewe van Israel. Sing en juig ons nog oor die goedheid van ons Here?

 

image_pdfimage_print