Hoe blaas ons nuwe lewe in die kerk?

image_pdfimage_print

 

You have made us for yourself, O Lord, and our hearts are restless until they rest in you – Augustinus

 

Hoe blaas ons nuwe lewe in die kerk?

Meeste gemeentes vandag het of ‘n plato bereik of is besig om te krimp. Hierdie gemeentes moet hernuwe word. Baie faktore dra tot die verandering in ‘n gemeente by. Een van die faktore wat ons in gemeentes wat groei kry, is ‘n fokus na buite. Hoekom? Dit verhoed dat mense nie net vir hulleself leef nie, maar vir die Hoof van die kerk.

 

Een van die redes waarom gemeentes stagneer, is omdat baie lidmate meer soos verbruikers as mede-arbeiders optree. As ‘n gemeente weer wil lewe, moet hy meer aan God en minder aan homself dink. Ons het verkondiging en demonstrasie van die evangelie nodig. Dit is twee kante van dieselfde muntstuk. Mense moet weet dat Jesus vir ons sondes aan die kruis gesterf het en dat ons Hom kan vertrou en volg in genade deur geloof. Maar die evangelie moet ook gedemonstreer word – mense leef die implikasies van die evangelie in hulle gemeenskap uit. Gemeentes wat waarlik lewe leef die evangelie in woord en daad.

 

As mense fokus op God, sy heerlikheid en sy roeping en as hulle ander in nood bedien, het hulle meer tyd vir hulle bediening en minder tyd vir allerhande drama in die gemeente. He who rows the boat has no time to rock the boat (Anoniem). ‘n Fokus na buite kan konflik in die gemeente verhoed. Nou is daar nie meer plek vir musiek volgens my smaak, die leraar wat doen wat ek wil hê, die kerk soos ek wil, ens. Nee, nou is almal mede-arbeiders wat God se roeping uitleef.

 

Gemeentes wat na buite fokus, vertel die goeie nuus van Jesus Christus, maar hulle lidmate is ook betrokke by bediening in en buite die gemeente – beide verkondiging en uitlewing van die evangelie. Lidmate in gesonde gemeentes verkondig nie die evangelie omdat hulle aangesê is om dit te doen nie – vir hulle is dit ‘n natuurlike deel van lewe in die gemeente. In lewende gemeentes is evangelisasie nie iets wat net deur ‘n paar mense gedoen word nie – en die res sit op die pawiljoen en kyk nie. Evangelisasie is nie ‘n toeskouersport nie. Christene hou van evangelisasie solank as iemand anders die werk doen. In lewende gemeentes aanvaar alle lidmate eienaarskap vir evangelisasie.

 

Gemeentes wat groei deur bekerings, is aktief, selfs aggressief, betrokke by bediening en betrokkenheid in hulle gemeenskap – dit is deel van hulle DNS. Hierdie gemeentes het ook ‘n ander perspektief op lidmaatskap. Dit is meer as ‘n vorm invul en aansluit – dit sluit in ‘n toewyding om te dien, beide in die gemeente en die gemeenskap.

 

Christene moet deel van die gemeenskap wees. Hierdie gemeente kyk na buite. Hierdie fokus na buite beweeg in die gemeenskap met ‘n passie vir “gestuurdheid.”

 

 

image_pdfimage_print