Hoe moet ek my dag begin?

image_pdfimage_print

The pain I feel now is part of the happiness I’ll feel then. That’s the deal – C. S. Lewis

Hoe moet ek my dag begin?

Laat my elke môre u liefde ondervind, want in U stel ek my vertroue.

Wys my die pad wat ek moet loop, want my hoop is op U gevestig.

(Psalm 143:8).

Die psalmis het probleme: ‘n Vyand vervolg my … Ek het alle moed verloor, ek is verslae. Die prentjie is nie dié van iemand wat rustig wakker word en dan sy ontbyt eet nie. Dit klink meer soos oorlog met vyande wat hom vervolg. Dit klink baie soos party van ons dae, alhoewel die oorlog teen ons meestal onsigbaar is. Omstandighede maak dit vir ons moeilik; spanning begin sodra ons wakker word.

 

In vers 8 beskryf die psalmis die kern van die saak. Ons moet ons prioriteite regkry – eerste dinge moet eerste kom. Die beste manier om die dag te begin, is met gebed. Ek moet heel eerste van God se liefde hoor. Hy is vir my ‘n anker: Maar God bewys sy liefde vir ons juis hierin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was (Romeine 5:8); Julle het My nie uitgekies nie, maar Ek het vir julle uitgekies (Johannes 15:16).

Die evangelie van God se genade maak my rustig; sy versekering – niemand sal hulle uit my hand ruk nie (Johannes 10:28) – gee my moed vir die dag.  Daarom kan ons vir die dag wat voorlê op God vertrou.

Waarvoor moet ek dan soggens bid? Eenvoudig – soos die psalmis: Wys my die pad wat ek moet loop. In die loop van die dag gaan ons dinge sê en doen en besluit. Deur hierdie gebed te bid, erken ons onmiddellik dat ons nie in beheer is nie – God moet vir my die wysheid wat ek kortkom, gee; Hy moet my lei; Hy is my God.

Want my hoop is op U gevestig. Hoekom? As gevolg van God se groot liefde vir ons wat Hy op Golgota bewys het, maar ook omdat ons besef dat ons Hom altyd nodig het. Laat ek u liefde ondervind en wys my die pad wat ek moet loop – dit is die beste manier om die dag te begin.

 

image_pdfimage_print