Hoe moet ons die Bybel benader?

image_pdfimage_print

 

A church that lives within its four walls is no church at all –  Morgan Chilulu

 

Hoe moet ons die Bybel benader?

As jy ‘n Christen is, glo jy dat dit belangruk is om die Bybel te lees. Maar hoe moet ons dit benader? Matt Smethurst noem sewe maniere waarop ons die Bybel behoort te benader.

 

  1. Benader die Bybel nederig

Die Bybel gee vir ons bewyse dat die Skepper ‘n God is wat inisieer, openbaar en praat. Of Hy praat of ons raai. Hy het gepraat. Hy praat met ons deur ‘n boek. In die Bybel openbaar God sy gedagtes en wil vir ons. Hy kon ons aan onsself oorgelaat het om in ‘n oseaan van onkunde te sink. Maar Hy doen dit nie. Enige kennis van God is as gevolg van sy selfopenbaring aan ons. Net deur sy woord kan ons weet wie Hy is, wat Hy vereis en hoe ons Hom kan ken. Dit moet ons nederig maak.

 

  1. Benader die Bybel desperaat

Moses sê vir die volk: Neem al hierdie woorde waarmee ek julle vandag vermaan het, ter harte … Dit is nie ‘n geringe saak vir julle nie, dit is die lewe vir julle (Deuteronomium 32:45, 47). Nie alleen word ons geestelike lewens begin deur God se woord nie, maar sy woord onderhou ons geestelike lewens. Julle is immers weergebore, nie uit verganklike saad nie, maar uit onverganklike saad: die lewende en ewige woord van God (1 Petrus 1:23). Jesus self verklaar: ‘n Mens leef nie net van brood nie maar van elke woord wat uit die mond van God kom (Matteus 4:4). Sonder die Bybel sal my siel verwelk en vergaan. Daarom moet ek dit desperaat benader.

 

  1. Benader die Bybel ywerig om te leer

Die werke van die Here is groot, almal wat daarin vreugde vind, dink daaroor na (Psalm 111:2). Die mense van Berea stel vir ons ‘n baie goeie voorbeeld: Hulle het met groot belangstelling na die woord geluister en elke dag die Skrif ondersoek om te sien of dit is soos Paulus gesê het (Handelinge 17:11). Kom na die Bybel met die gesindheid van ‘n student; vra die Skrywer om jou  wonderlike dinge te leer.

 

  1. Benader die Bybel gehoorsaam

Ons moenie net God se opdragte verstaan nie, maar dit ook gehoorsaam. U het u bevele gegee dat dit ten volle uitgevoer moet word … Gee  my insig, dat ek u wet kan gehoorsaam en dit met my hele hart kan onderhou (Psalm 119:5, 34). Jakobus stel dit selfs sterker: Julle moet doen wat die woord sê en dit nie net aanhoor nie, anders bedrieg julle julleself (Jakobus 1:22).

 

  1. Benader die Bybel met blydskap

Die Psalmboek begin met die man wat in die woord van die Here sy vreugde vind, dit dag en nag oordink (Psalm 1:2). Jeremia het dieselfde gesindheid gehad: Ek het u woorde verslind toe hulle gekom het, hulle was vir my ‘n vreugde (15:16). Vir baie van ons voel Bybellees soos ‘n plig – iets wat ons moet doen. Bid vir vreugde.

 

  1. Benader die Bybel met verwagting

Die uiteindelike skrywer van die Bybel is God. Daarom kan die Bybel lewens verander. Alles wat vooraf in die Skrif opgeteken is, is tog opgeteken om ons te leer sodat ons deur die standvastigheid en bemoediging wat die Skrif ons gee, vol hoop kan wees (Romeine 15:4). Die Bybel is daar om ons te onderrig, te bemoedig, te volhard en om hoop in jou hart te gee.

 

  1. Benader die Bybel dikwels

In die oggendskemer al roep ek om hulp en stel my vertroue in u word. Die hele nag lê ek wakker en oorpeins ek u woord (Psalm 119:147 – 148). Ons moet onsself in God se woord versadig.

 

Is dit hoe ons God se woord hierdie jaar gaan benader? Ons sal nie spyt wees as ons dit doen nie.

 

 

.

 

image_pdfimage_print