Jesaja – Die teken vir Hiskia (37:30-38) – Francois Malan

image_pdfimage_print

37:30 Die teken wat die Here vir Hiskia gee herinner daaraan dat die Here ook vir Agas ‘n teken gegee het (7:14-17). Hierdie teken lyk asof daar die jaar van die verwoesting geen landbou sal wees nie; die jaar daarna sal daar ook nog slegs opslag wees, en die derde jaar sal die landbou weer in volle swang kom (vgl 7:16). Wanneer die wingerde weer druiwe dra en die bevolking weer begin vooruitgaan, sal hulle terugdink aan die beleg van Jerusalem, en weet dat Jesaja waarlik die woord van God gespreek het, en dat die Here sy belofte uitvoer.

37:31-32 Soos die plante sal die mense ook weer wortel skiet en vrugte dra. Twee maal word die woorde ‘oorblyfsel’ en ‘oorleef/vry uitgaan’ gebruik, terme wat dikwels in Jesaja gebruik word vir mense uit Sion: 4:3 die belofte van heiligheid vir die oorblyfsel; 6:13 die gewyde geslag as ‘n stomp wat oorbly; 10:21-22 die oorblyfsel wat sal terugkom om die Here te dien; 11:16 ‘n groot pad terug vir die oorblyfsel; 65:13-16 aan dié wat die Here dien, gee Hy ‘n nuwe toekoms; 66:2 Ek slaan ag op dié een…wat ontsag het vir my woord.

Die ywer/jaloesie van die Here van die leërskare – wat onverdeelde trou aan Hom vereis – sal dit doen (vgl. 9:6). Dit gaan oor die Here se toewyding aan, en passie vir die Seun uit Dawid se geslag in 9:6, hier vir Juda en vir Jerusalem – dit waarborg dat daar ‘n oorblyfsel sal wees. Die kragbron vir verlossing is die Here (die Ek is, die aktief teenwoordige God), nie die wapenarsenaal van Juda en sy helpers of die diplomasie van Jerusalem nie.

37:33-35 Die versekerings van 37:6-7,29 word weer bevestig. Sanherib wil Jerusalem uitwis – sy eie annale bevestig dat Jerusalem die prysbuit is wat hy nog wil vat, en Hiskia reken dit is klaar met Jerusalem. Maar die Here (die Ek is) sê Ek sal dié stad beskut en hom red. Daarmee word Sanherib se besluit en Hiskia se vrees besweer. Sanherib sal sonder ‘n oorwinning teruggaan huis toe. Die profetiese beskouing van die geskiedenis berus nie op die prestasies van  mense se ywer nie, maar berus op die ‘ywer’ van die Here (37:32), sy troue toewyding aan sy skepping en sy kinders. Die Here sê Hy sal Jerusalem red ‘om my ontwil’ (37:35). Sion, as die stad van die Here, is verbind aan sy dienaar Dawid (vgl. Ps 78:68-72) met sy belofte in 2 Sam 7:16; Ps 89:4. Daardie beloftewoord van die Here staan hier teen Sanherib se leërs en strategie om sy ryk uit te brei, en hy moet onverrigte sake terugdraai huis toe op ‘n woord van die Here (vgl. sy magtige teenwoordigheid in Jes 4:5; letterlik: want oor al die heerlikheid ‘n beskutting).

37:36-38 In Hebreeus word die woord maleak gebruik vir ‘n boodskapper (vgl Maleagi – my boodskapper). Profete is die Here se boodskappers op aarde. Die woord word ook vir die Here se hemelse boodskappers, die engele,  gebruik (die Griekse vertaling vir maleak is angelos  vir enige boodskapper). Soos die Here die eersgeborenes laat sterf het van die Egiptenaars wat Israel onderdruk het (Eks 12:29; 1 Kor 10:10 sê dit was: deur die engel van die Here; Hebr 11:28 die engel van die dood) en soos Hy deur sy engel die goddelose Sodom, Gomorra, Adma en Seboim verwoes het (Gen 19:21; Deutr 29:23) so word 185,000 Assiriese soldate wat rondom Jerusalem lê om die stad in te neem, in een nag uitgewis deur die engel, die hemelse boodskapper van die Here.

Die arrogante Sanherib vertrek in 701 v.C., weg uit die land, terug na sy stad Nineve, vanwaar hy, volgens sy annale nog ses veldtogte elders gevoer het. Soos Hiskia gaan hy ook tempel toe, maar nie na tempel van die Here wat sy volk se toevlug en beskerming is nie (Ps 46:2), maar na die tempel van sy persoonlike god Nisrok, wat hom nie kan beskerm teen sy eie kinders wat hom doodmaak nie. Sy seun Esarhaddon volg hom in 681 v.C. op, en sy twee moordenaarseuns vlug uit Nineve noord tot in die Araratgebergte van die huidige Armenië.

Spreuke 29:21 sê: Hoogmoed bring ‘n mens tot ‘n val, nederigheid bring eer; en 1 Joh 5:4 sê: elkeen wat uit God gebore is, oorwin die wêreld; en dit is die oorwinning wat die wêreld oorwin, ons geloof. So val die arrogante Sanherib en gaan druipstert terug na sy magtelose afgod, en Hiskia wat in geloof op die Here vertrou, Hy wat oor die wêreld regeer, kyk met verwondering hoe die Here Jerusalem uit die ellendigste posisie denkbaar red uit die mag van die man wat vir Jerusalem sê: moenie dat Hiskia julle op die Here laat vertrou nie (37:15).

Aan sy dissipels wat vra: wie kan dan gered word? sê Jesus: Vir mense is dit onmoontlik, maar vir God is alles moontlik (Mat 19:25-26).

Skrywer:  Prof Francois Malan

 

image_pdfimage_print

You may also like...