Jesus se kruisiging

image_pdfimage_print

Jesus se kruisiging – Francois Malan

Martie vra:

Ek weet dat JESUS gekruisig is aan ‘n houtkruis. Gister vertel iemand vir my of ek weet dat JESUS se arms bo SY kop vasgeslaan is en so is HY gekruisig. Ek glo dit natuurlik nie, want die bord “koning van die Jode” is bokant sy kop vasgeslaan. Hoekom sou kerkmense nou met so ‘n ding na vore kom? of is ek verkeerd?

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

 

Die Romeine het verskillende maniere van kruisiging gehad. Die eenvoudigste (crux simplex) was slegs ‘n paal met die hande bokant die kop met een spyker vasgeslaan met nog ruimte bokant die hande. Die Jehova Witnesses sê dat dit die manier is waarop Jesus gekruisig is, en dat keiser Konstantyn (312-24 n.C.) die kruis met ‘n dwarsbalk en ‘n stukkie van die regoppaal wat bokant uitsteek, ingevoer het as beeld vir Christus se kruisiging. Dié soort kruisiging (crux emissa) was egter reeds in Jesus se tyd gebruik, en geskrifte van 100 n.C. verwys daarna as die kruis waaraan Jesus gesterf het. ‘n Ander kruis het soos ‘n T gelyk het (crux commissa). Dit was ook algemeen gebruik, en party skrywers teen die jaar 100 n.C. verwys ook daarna as Jesus se kruis. Daar was ook kruise in ‘n X-vorm of selfs ‘n Y-vorm.

 

Die Griekse woord stauros is gebruik vir ‘n regop paal, en is ook gebruik vir ‘n paal wat bo skerp gemaak is en waarop veroordeeldes ingedruk is van hulle fondament af; die woord is gebruik vir ‘n regoppaal met ‘n dwarspaal waaraan veroordeeldes vasgespyker is of met rieme aan vasgemaak is. Die Latynse vertaling daarvan met die woord crux ‘kruis’ veronderstel na ‘n kruis met ‘n dwarsbalk en is van voor Christus se tyd gebruik..

 

In die tyd van Jesus was kruisging ‘n baie algemene straf vir opstandelinge teen die regering en veral vir slawe. Met die slawe-opstand van 73-71 v.C. is 6,000 slawe langs die hoofweg na Rome gekruisig. Met die Romeinse inname van Jerusalem in 70 n.C. het die Romeine 500 Jode per dag gekruisig. Dit was beskou as die ergste straf wat opgelê kan word, waar die veroordeelde eers geslaan is tot hy neerslaan, en heeltemal kaal uitgetrek in die openbaar opgehang is tot hy sterf. 

 

Markus 15:26 sê net: Die opskrif van die aanklag teen Hom is geskryf: die koning van die Jode.

Matteus 27:37 sê: Bo sy kop het hulle die aanklag teen Hom aangebring wat lui: Hy is Jesus, die koning van die Jode. 

Lukas 23:38: Bokant Hom was daar ‘n opskrif: Hy is die koning van die Jode.

Johannes 19:19 brei daarop uit: Pilatus het ook ‘n kennisgewing laat skryf, en dit aan die kruis vasgeheg. Daarop het geskryf gestaan: Jesus die Nasarener, die koning van die Jode.

 

In Handelinge 5:30; 10:39; 13:29 word die Griekse woord xulon (‘hout’ soos in 1 Kor 3:12; Openb. 18:12; 22:2,14,19; ‘boom’ soos in Openb 2:7 ) figuurlik gebruik vir die ‘houtkruis’ waaraan hulle Jesus gehang het. 

In Galasiërs 3:13 word xulon ook gebruik met verwysing na die vloek op elkeen wat aan ‘n hout hang, in Deutr.21:23.

 

Maar 1 Petrus 2:24 verwys na iets baie meer verskrikliks as die pyn en vernedering van die kruisdood van Christus, dat Hy self ons sondes in sy liggaam aan die kruishout gedra het. Johannes 1:29 sê: Jesus is die Lam van God wat die sondes van die wêreld wegneem. Matteus 27:46 en Markus 15:32 vertel van Jesus se woord aan die kruis: My God, my God, waarom het U my verlaat.

            Die straf van God vir die sondes van die hele wêreld, van die skepping tot aan die einde van die wêreld, was op Jesus, die Seun van God wat mens geword het om ons sondes op Hom te neem en daarvoor versoening te doen. Dit kon Hy alleen doen omdat Hy God is, dat Hy en die Vader en die Gees saam besluit het dat Hy dit sal doen uit liefde vir die mensdom. Die Vader het die wêreld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê (Johannes 3:16). Sy dood aan die kruis is die toppunt van Jesus se liefdesoffer vir ons (vgl. Johannes 12:32-33: As Ek van die aarde af verhoog word, sal ek almal na My toe trek. Dit het Hy gesê om aan te dui watter dood Hy sou sterf). Lukas 23:34 vertel dat toe hulle Jesus gekruisig het, Hy nog gebid het: Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie. So lyk sy liefde vir sy vyande, om hulle met sy liefde te wen, om in Hom te glo as die Een wat hulle sonde vergewe.

            Die Vader het die Seun lief en het alles in sy hand gegee. Wie in die Seun glo, het die ewige lewe, maar wie aan die Seun ongehoorsaam is, sal die lewe nie sien nie; inteendeel, die toorn van God bly op hom (Johannes 3:36).

 

Skrywer: Prof Francois Malan

 

image_pdfimage_print

You may also like...