Jesus word versoek

image_pdfimage_print

 

I know of no case study in history that describes an organization that has been managed out of a crisis. Every single one of them was led – George J. Flynn

 

Jesus word versoek

Na Jesus se doop word Hy deur die Gees in die woestyn gelei (Matteus 4:1 – 11). Nadat Hy 40 dae en 40 nagte niks geëet het nie, word Hy deur die duiwel versoek. Dit herinner ons aan Adam se versoeking. Hoekom is Jesus versoek? Deel van Jesus se werk was om die tweede Adam te wees. Hy word geroep om die laaste/nuwe Adam te wees om te doen wat die eerste Adam nie kon doen nie. Adam se grootste mislukking was juis sy reaksie op versoeking. Veral Paulus stel die eerste teenoor die tweede Adam in Romeine 5:12 – 19 en 1 Korintiërs 15:21 – 22 en 45 – 49.

 

Daar is duidelike verskille, maar ook ooreenkomste tussen Adam en Jesus se versoeking. Kom ons kyk eers na die verskille:

  • Adam word in die paradys versoek en Jesus in die woestyn
  • Adam word versoek terwyl hy saam met sy vrou was; Jesus was alleen.
  • Adam word versoek terwyl hy deur allerhande soorte kos omring was; Jesus was vir 40 dae en 40 nagte sonder kos.

 

Daar was ook sekere ooreenkomste. Satan kom na Adam en vra ‘n eenvoudige vraag: Het God werklik gesê julle mag van geen boom in die tuin eet nie? Hier verdraai Satan God se woord. Eva stel dit reg en sê vir Satan dat hulle van die vrugte van die bome mag eet, behalwe van die vrugte van die boom in die middel van die tuin. Satan gaan nou verder en vertel ‘n leuen en weerspreek direk God se woord: Julle sal beslis nie sterf nie, maar God weet julle oë sal oopgaan die dag as julle van daardie boom eet en dan sal julle soos God wees deurdat julle alles kan ken. Satan se taktiek is duidelik: hy val die betroubaarheid, gesag en waarheid van God se woord aan. Hy gee te kenne dat hulle beperk en nie vry is nie.

 

Jesus se versoeking begin op dieselfde manier. Satan sê: As U die Seun van God is …  Pas vantevore, by sy doop, het God self verklaar: Dit is my geliefde Seun. Op elke versoeking van Satan antwoord Jesus met ‘n aanhaling uit Deuteronomium 6 – 8. Satan haal selfs uit Psalm 91 aan, maar Jesus wys dat sy interpretasie van die vers verkeerd is deur ‘n verdere aanhaling uit die Skrif. Ons kan tog nie een deel van die Skrif teenoor ‘n ander plaas nie.

 

Wat leer ons uit hierdie gedeelte?

  1. Is jy verbaas as God tye van beproewing, probleme, versoeking en toetsing in jou lewe toelaat? Onthou dat die Seun van God self dit deurgemaak het. Dwarsdeur sy lewe is Hy versoek – selfs deur sy vriende. Nadat Jesus vir die eerste maal sy dood aangekondig het, het Petrus Hom berispe. Luister net na Jesus se reaksie: Moenie in my pad staan nie, Satan! Jy is vir My ‘n struikelblok, want jy dink nie aan wat God wil hê nie, maar aan wat die mense wil hê (Matteus 16:22 – 23).
  2. Satan se versoekings is nie altyd openlik en duidelik nie. Soms is dit baie subtiel. Daarom moet jy jou hart beskerm deur van God se genade afhanklik te wees om die aanslae af te weer.
  3. Memoriseer die Skrif. Jesus kon Satan se aanslae afweer deur gereeld uit die Skrif aan te haal. Kan ek en jy dit ook doen?

 

image_pdfimage_print