Josef van Arimatea

image_pdfimage_print

 

There is meaning in every journey that is unknown to the traveller – Bonhoeffer

 

Josef van Arimatea

Wat weet ons van hierdie man? Daar is baie dinge wat van hom gesê word, maar baie daarvan is eers eeue later geskryf. Meeste daarvan is volksoorlewerings. Die vier evangelies is die beste beskikbare bron – en die vroegste. Al vir evangelies vermeld Josef – ‘n seldsame onderskeiding vir  ‘n mindere persoon. Hy was egter deel van ‘n gebeurtenis wat die geskiedenis van die wêreld verander het.

 

Die verhale in die evangelies stem breedweg ooreen. Ons lees dat Josef ryk en gerespekteer was en dat hy vir Pilatus gevra het of hy Jesus se lyk mag verwyder om te begrawe. Hy gebruik sy eie nuwe graf – ‘n kelder uitgekap in die rots; hy begrawe Jesus persoonlik en rol ‘n steen voor die opening; twee vroue was ooggetuies van die begrafnis.

 

Markus sê Josef was ’n vooraanstaande lid van die Joodse Raad – juis die mense wat vir Pilatus gevra het om Jesus te kruisig. Lukas voeg by dat hy nie met hulle besluit en optrede saamgestem het nie. Net Johannes sê dat Nikodemus, ook ‘n lid van die Joodse Raad, ook nie met hulle besluit saamgestem het nie. Hy het ook saam met Josef vir Jesus begrawe.

 

Oënskynlik het Jesus se dissipels uit vrees gevlug. Misdadiges wat tereggestel is se lyke is dikwels in gemeenskaplike grafte gegooi. Josef tree in en maak die begrafnis so waardig as wat onder die omstandighede moontlik was. Dit beteken dat hy sy politieke, godsdienstige en persoonlike reputasie op die spel geplaas het. Onthou destyd het die hantering van lyke beteken dat ‘n persoon onrein was. Tog was Josef se optrede as Jood verstaanbaar. Wanneer iemand tereggestel word vir ‘n oortreding wat die doodstraf verdien, en jy hang hom aan ‘n paal op, mag sy lyk nie die nag daaraan bly hang nie. Jy moet hom dieselfde dag nog begrawe (Deuteronomium 21:22 – 23).

 

Lukas beskrywe Josef  as ‘n goeie en opregte man en het die koms van die koninkryk van God verwag. Matteus sê hy was ‘n volgeling van Jesus. Johannes sê dat hy ‘n dissipel van Jesus was, maar in die geheim, want hy was bang vir die Jode.

 

Waar was Arimatea geleë? Dit was waarskynlik ‘n dorpie noordwes van Jerusalem op die plek waar Rama geleë was. Rama was die tuisdorp van Samuel. Moontlik het hy toe reeds in Jerusalem gewoon  of hy was ‘n besoeker aan die stad.

 

 

image_pdfimage_print